Categories: NuusPublished On: 21st July 2026

Graan SA diep teleurgesteld oor JSE se besluit om sojaboonmodel met veelvuldige verwysingspunte te verwerp

By 6 min read
1182 words

myccf-soybean-6577766_1280

Foto: Pixabay

Graan SA is diep teleurgesteld oor, en verskil van, die Johannesburgse Effektebeurs (JSE) se besluit om nie die model met veelvuldige verwysingspunte (MRP-model) vir die berekening van sojaboonliggingsdifferensiale te behou nie en om na ’n enkelverwysingspuntstelsel terug te keer.

Die JSE se besluit word uiteengesit in sy Markkennisgewing oor die Uitkoms van die Loodsprojek vir die Model met Veelvuldige Verwysingspunte.

Die JSE het bedryfsbelanghebbendes oor etlike jare versoek om geloofwaardige alternatiewe vir die bestaande enkelverwysingspuntmetodologie voor te stel, aangesien dié metodologie nie die geografiese variasie in sojaboonvraag akkuraat verreken nie. Graan SA het, saam met onafhanklike wetenskaplikes en tegniese spesialiste, aansienlike tyd en hulpbronne belê in die ontwikkeling en toetsing van ’n alternatiewe metodologie wat deur onafhanklike wetenskaplike navorsing, markdata en praktiese ontleding ondersteun word. Die doel van hierdie metodologie was om vraag en aanbod op ’n billiker en akkurater wyse met mekaar te verbind.

Die MRP-model is daarna oor twee bemarkingseisoene op die lewerbare sojaboontermynkontrak getoets. Aan die begin van die loodsprojek het die JSE bevestig dat die model aan die hand van vyf voorafbepaalde kriteria beoordeel sou word en dat ’n tegniese komitee, wat deur bedryfsrolspelers benoem is, die model op grond van die volgende sou hersien:

  1. Handelsaktiwiteit, insluitend volumes en oop posisies;
  2. Die aantal aktiewe markdeelnemers;
  3. Die bestuur en opbou van voorraad in gebiede met ’n nuldifferensiaal;
  4. Die herlewering van JSE-silo-ontvangsbewyse; en
  5. Terugvoer van belanghebbendes en markervaring.

Graan SA verstaan dat die aanbevelings van hierdie tegniese komitee klaarblyklik nie voldoende in die finale besluitnemingsproses of ondersteunende motivering weerspieël is nie.

Graan SA is bekommerd dat die JSE se finale besluit en motivering nie voldoende en deursigtige, kriterium-vir-kriterium-redes aan die hand van die ooreengekome evalueringsraamwerk verskaf nie.

Die JSE het erken dat handelsvolumes, oop posisies en fisiese lewerings gedurende die loodsperiode verbeter het. Die JSE het egter tot die gevolgtrekking gekom dat hierdie verbeterings aan eksterne marktoestande toegeskryf kon word en dat geen oorsaaklike verband met die MRP-model bewys kon word nie.

Graan SA is van mening dat die beskikbare kwantitatiewe bewyse volledig beoordeel moet word en nie deur onlangse veranderings aan die kontrakgrootte vertroebel of bloot verwerp behoort te word omdat ’n oorsaaklike verband nie afdoende geïsoleer kon word nie.

Die finale kennisgewing plaas eerder beduidende klem op uitdagings rakende die beskikbaarheid van akkurate data oor die verwerking van sojabone, verskille tussen verwerkingsaanlegte, die gebruik van historiese inligting, deursigtigheid en uiteenlopende menings onder belanghebbendes.

Hoewel hierdie oorwegings verdere ondersoek mag regverdig, meen Graan SA dat dit nie ’n voldoende gedetailleerde of feitelike verduideliking bied van hoe die model teen al vyf die JSE se oorspronklike sukseskriteria gevaar het nie.

Die konsentrasie van sojaboonverwerkingskapasiteit en die gevolglike wanbalans in markmag dra ook tot inligtingsasimmetrie by. Waar kritieke markinligting deur ’n beperkte aantal deelnemers gehou word, word produsente benadeel en kan die deursigtigheid en mededingendheid van die mark in die gedrang kom.

Inligtingsasimmetrie bly ’n ernstige bron van kommer

Graan SA bly veral bekommerd oor die onvermoë om die inligting te bekom wat nodig is vir die akkurate en doeltreffende berekening van sojaboonliggingsdifferensiale.

Relevante sensitiewe inligting word reeds deur statutêre maatreëls ingevolge die Wet op die Bemarking van Landbouprodukte ingesamel. Beide historiese en huidige inligting kan, in ’n toepaslik saamgevoegde en vertroulike formaat, beskikbaar gestel word om ’n meer omvattende beoordeling te ondersteun.

Die JSE verklaar dat vertroulike vraag-en-aanbodinligting weens kommersiële sensitiwiteit en POPIA-verwante oorwegings nie bekend gemaak kon word nie en dat verouderde inligting gevolglik gebruik is. Graan SA beklemtoon egter dat toepaslike meganismes oorweeg kon word waardeur onafhanklik geverifieerde inligting vertroulik aan die JSE voorgelê kon word sonder om kommersieel sensitiewe data op maatskappyvlak bekend te maak, soos reeds die geval met statutêre maatreëls is.

Die bestaande enkelverwysingspuntmetodologie maak ook op historiese inligting staat. Dit laat vrae ontstaan oor of die databeperkings wat deur die JSE geïdentifiseer is, konsekwent toegepas is toe die twee metodologieë vergelyk is.

Vertroulike inligting word reeds in verskeie gereguleerde markprosesse gebruik. Die afwesigheid van ’n toepaslike meganisme vir die deel van data behoort dus, volgens Graan SA, nie outomaties ’n metodologie te diskwalifiseer wat spesifiek ontwikkel is om erkende tekortkominge in die bestaande stelsel aan te spreek nie.

Produsente het reeds beperkte toegang tot inligting oor kontantmarkbasisse. Wanneer noodsaaklike markinligting onder ’n klein aantal deelnemers in die waardeketting gekonsentreer is, kan produsente nie onafhanklik bepaal of liggingsdifferensiale die werklike kommersiële marktoestande akkuraat weerspieël nie.

Graan SA is ook teleurgesteld dat die finale kennisgewing nie die kommer wat deur prof. Roberts geopper is, voldoende aanspreek nie. Hy is deur die JSE as deskundige konsultant aangestel. Hierdie kommer het onder meer nuldifferensiaal-leweringspunte en produsente se onvermoë om verskille tussen liggings deur arbitrage te benut, ingesluit.

Besluit blyk buite verhouding deur kwalitatiewe menings beïnvloed te wees

Terugvoer van belanghebbendes was slegs een van die vyf kriteria wat vir die beoordeling van die loodsprojek vasgestel is. Graan SA is daarom bekommerd dat kwalitatiewe persepsies – insluitend bewerings dat die metodologie nie eenvoudig genoeg of maklik verstaanbaar was nie – blykbaar buite verhouding swaar geweeg het teenoor die model se kwantitatiewe prestasie.

’n Metodologie behoort nie verwerp te word bloot omdat dit meer gesofistikeerd as die bestaande stelsel is nie. Die gepaste toets behoort te wees of dit wetenskaplik gegrond, objektief meetbaar en operasioneel uitvoerbaar is, en of dit ’n billiker markuitkoms kan lewer.

Graan SA het feitelike inligting voorgelê wat toon dat die MRP-model doeltreffend kon funksioneer en dat die metodologie ’n betekenisvolle verbetering verteenwoordig het in die aanspreek van die verwringings wat met ’n enkelverwysingspunt verband hou.

Die organisasie beskou die besluit gevolglik as ongebalanseerd en nie behoorlik deur ’n deursigtige beoordeling van die beskikbare bewyse ondersteun nie.

Produsente kan nie verdere markondoeltreffendhede absorbeer nie

Graan- en oliesaadprodusente verkeer onder ernstige finansiële druk, met klein marges, stygende insetkoste en aansienlike produksierisiko. Hulle kan nie verdere ondoeltreffendhede bekostig wat voortvloei uit ’n metodologie vir liggingsdifferensiale wat moontlik nie die geografiese verspreiding van sojaboonproduksie en -verbruik voldoende weerspieël nie.

’n Enkelverwysingspunt kan kunsmatige vervoeraannames skep en produsente in sekere produksiestreke blootstel aan aftrekkings wat nie met werklike kommersiële voorraadbewegings ooreenstem nie.

Dit kan ook geleenthede skep vir waardekettingrolspelers om markmag tot hul eie voordeel te misbruik. Hierdie verwringings is veral kommerwekkend waar gekonsentreerde markmag en toegang tot inligting fisiese leweringspatrone en basisvorming tot hul voordeel kan beïnvloed.

Hierdie verwringings is veral kommerwekkend in ’n mark wat deur gekonsentreerde verwerkingskapasiteit en ongelyke toegang tot kommersiële inligting gekenmerk word.

Die JSE het aangekondig dat hy na ’n enkelverwysingspunt wil terugkeer en het voorgestel dat Randfontein vanaf die bemarkingseisoen wat op 1 Maart 2027 begin, deur Driefontein vervang word. Markdeelnemers is genooi om teen 14 Augustus 2026 kommentaar op hierdie voorstel te lewer.

Graan SA kan nie die voorgestelde terugkeer na ’n enkelverwysingspunt, of die verskuiwing van daardie verwysingspunt, ondersteun sonder ’n omvattende en deursigtige beoordeling van die moontlike finansiële gevolge vir produsente in alle sojaboonproduserende streke nie.

Graan SA sal gedetailleerde kommentaar op die voorstel indien en sal voortgaan om hom te beywer vir ’n metodologie vir liggingsdifferensiale wat deursigtig, bewysgebaseerd en billik teenoor alle markdeelnemers is.

Bron: Graan SA

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0