Categories: Artikels, PlaagbestrydersPublished On: 26th April 2022

Satansbos: Strenger beheer is nodig

By 5 min read
1074 words

blom

Satansbos is familie van tamaties, aartappels en eiervrug en die blomme lyk naastenby dieselfde.

՚n Toenemende bedreiging vir gesaaides en weiding is Satansbos (Solanium elaeagnifolium, Engels: silverleaf nightshade).

Satansbos het waarskynlik reeds in 1905 saam met voer uit Mexiko na Suid-Afrika gekom. Dit het sedertdien landwyd versprei waar dit landerye, veral droëland, en weidingsgebiede inneem.

Baie grondeienaars is laks wanneer dit kom by die bestryding van die plant, wat veroorsaak dat dit ongebreideld versprei.

Volgens die Wet op Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43 van 1983), is satansbos ՚n verklaarde kategorie 1-onkruid en dit is die grondgebruiker, hetsy eienaar of huurder, se plig om dit te bekamp. Satansbos mag op geen manier versprei word nie en iemand wat dit wetend of onwetend versprei, kan beboet word. Waar dit vervuil, kan die plaashek gesluit word, maar ongelukkig het dié wet nie tande nie.

Klein-Karoo

Bring oom Jan Boetebos terug! Dit is die versugting van boere in die Klein-Karoo wat moedeloos is met medeboere wat versuim om die satansbos op hulle grond te bekamp.

Die pesplant was onlangs opnuut ՚n besprekingspunt tydens ՚n vergadering van Agri Wes-Kaap met lede in die Klein-Karoo.

“Ons is baie dankbaar vir die onkruiddoder wat die Departement van Landbou by die proefplaas verskaf,” sê Johann Koegelenberg, ՚n boer in die Oudtshoorngebied. “Die gif werk en maak die satansbos dood, maar die plant versprei steeds, veral langs rivierlope en paaie, want niemand kyk daarna nie.”

Hy sê satansbosbesmetting op sommige plase is so erg omdat die grondeienaars niks daaraan doen nie. “Ons wil hê ՚n amptenaar moet aangestel word en ՚n permit hê wat hom toegang tot plase gee sodat hy die boere kan aanpraat. Die enigste manier om satansbos te beheer is om die versuimende boer vanuit owerheidsweë aan die kaak te stel, want as boere mekaar moet verkla, kan dit net tot kwaaivriendskap lei.

“Jare gelede was hier so ՚n amptenaar wat ons oom Jan Boetebos genoem het. Hy het boere op plase waar onkruid met dorings aan skape se wol vasgesit het, beboet.”

Sentraal-Karoo

Stefan Theron van die Wes-Kaapse Departement van Landbou in die Sentraal-Karoo sê die stryd teen satansbos kom al ՚n lang pad.

“Ons LandCare-span was seker twintig jaar gelede by die Tierpoortbesproeiingskema buite Bloemfontein betrokke. Daardie manne wou moed opgee met satansbos tussen hulle lusern, want hulle kon dit nie verkoop nie. Niemand stel belang in ՚n produk wat met satansbos besmet is nie.”

Stefan sê daar is ook groot probleme in die Noord-Kaap waar daar eweneens geen erns is om op te tree nie. Dieselfde geld die situasie in die Oos-Kaap. “Ek was ՚n paar jaar gelede in die Kamdeboo Nasionale Park in die Oos-Kaap en dit was ook skandelik besmet.

Stefan fokus op die Sentraal-Karoo. “Murraysburg het groot probleme en die oorsprong van die besmetting was die Kendrew-besproeiingskema in die Oos-Kaap. Die Kendrew-padskraper is met Murraysburg gedeel en die saad het op dié manier na Murraysburg gekom.

Satansbos dra tot 60 bessies aan ՚n bos en elkeen het honderde sade wat maklik versprei word.

“Destyds het oom Piet Theron in Murraysburg kom kewers los om satansbos te bestry, maar dit was nie suksesvol nie. In die winter ryp die bogrondse dele van die plante dood en dan het die kewers nie kos nie en hulle vrek.”

Stefan gaan voort: “Ek is al ses jaar in die Snyderskraalrivier-opvanggebied
besig met ՚n werkskeppingsprojek om satansbos uit te roei, maar het steeds nie gewen nie — en dit is maar één van baie besmette riviere in die Murraysburg-omgewing.”

Vroeër jare het boere die plant probeer uitploeg. “Dit het die plante net kwaad gemaak het, want sodra jy die bol onder die grond stukkend ploeg, maak elke stuk ՚n nuwe plant.”

Hy sê sover hy weet was Tomahawk die eerste onkruiddoder wat vir satansbos geregistreer is. TOMAHAWK® 200 EC is die geregistreerde handelsmerk van Adama.

Verspreiding

Satansbos versprei deur saad, want elkeen van tot 60 bessies aan ՚n plant bevat tot 1 000 saadjies.

“Groot dele van opvangsgebiede bokant besproeiingsdamme is erg besmet,” sê John Fullard van InteliGro, ՚n verskaffer van onkruiddoders. “Die saad beland in die damme en word deur die water versprei.”

Die beste tyd om satansbos met onkruiddoder te spuit is tydens die groenbessiestadium.

Buiten water, word die saad ook versprei deur voëls wat die bessies vreet, deur die mis van diere wat besmette hooi vreet, saad wat saam met voergewasse geoes en so na ander plase versprei word, asook deur saad wat aan ՚n trekker, ploeg of ander plaastoerusting vassit.

Die wortelstelsel, wat tot drie meter diep en tien meter wyd groei, verteenwoordig tot tagtig persent van die plant. Die plant kan nie uitgeploeg word nie, want al vrek die plant bokant die grond, hou die wortels aan met groei en loop net weer uit.

Onkruiddoder

Volgens John is die enigste suksesvolle metode om die plant te bestry bespuiting met onkruiddoder.

Die beste tyd om te spuit is voor sonop wanneer die plant in die laat-blomstadium of groenbessie-stadium is.

Volgens John word die onkruiddoder, Access, met die aktiewe bestanddeel Picloram, gebruik vir die beheer van satansbos. Dit word gespuit teen ՚n konsentrasie van 0,5% en 1%, plus 0,5% Actipron-olie as benatter.

“Access is doeltreffend indien dit op die korrekte manier op die regte tyd toegedien word,” sê hy. Saam met die korrekte bestuurspraktyke, soos goeie monitering en goeie opvolgbespuitings, is dit moontlik om satansbos te beheer.

“Al die produkte wat satansbos doeltreffend beheer, maak ongelukkig ook lusern dood, wat tot 36 maande lank nie weer daar groei nie.” Omdat die onkruiddoder in die grond loog, kan dit ook grondwater besoedel.

Twee soorte Texana-kewer (Leptinotarsa texana en Leptinotarsa defecta), wat die blare van satansbos afvreet, is as biologiese beheermaatreël uit Mexiko ingevoer. Die kewers op hulle eie bied om verskeie redes nie voldoende beheer nie, maar kan saam met ander metodes, soos bespuiting, daarmee help.

“Beheer is wel moontlik met goeie bestuur wat oor jare toegepas word. Maar selfs al doen elke grondeienaar sy deel, sal dit lank neem om heeltemal van satansbos ontslae te raak,”

aldus John.

Vir meer inligting kontak John Fullard van InteliGro by 082-873-4000.

Verwysings

Israel, Wet 36 of 1947 Fluroksipir Arieloksiefenoksie Propioonsuur; L6652; N-AR 1161; (VERSIGTIG)

Klein, H. (2002) Biological control of Solanum weeds (Solanaceae potato family). PPRI Leaflet series: Weeds biocontrol 4.1
www.arc.agric.za/arc-ppri/Leaflets%20Library/Biocontrol%20of%20satansbos.pdf

Reinhardt, C., en Truter, W. (2012) Probleemplante vir vee en veeboere (Deel 4) Solanum elaeagnifolium Cav (satansbos). Veeplaas (p.70-71) repository.up.ac.za/bitstream/handle/2263/19967/Reinhardt_Probleemplante%282012%29.pdf?sequence=1&isAllowed=y

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0