Categories: NuusPublished On: 18th September 2018

Sagtevrugtebedryf vier toewyding en volharding ondanks moeilike seisoen

By 5 min read
1023 words

Hortgro Gala Evening 2018

Die wenners van die Sagtevrugtebedryf se Gala-aand toekennings 2018: Agter: Sivuyile Panya, Bongani Gqadu en Jan le Roux. Voor: Samantha van den Berg, Hendrik Davids, Willem Booise, Richard Hurndall, Elvis Pieters.

Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf het by hulle 43ste jaarlikse gala-aand op 14 September 2018 toekennings vir uitsonderlike prestasie in landbou toegeken. Sagtevrugte sluit appels, pere, appelkose, perskes, nektariens, pruime en pruimedante, kersies, tafeldruiwe en gedroogde druiwe in.

Hierdie vrugte word hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou. Die afgelope seisoen is die sagtevrugtebedryf op talle terreine uitgedaag, maar die deursettingsvermoë, positiewe en innoverende ingesteldheid van boere het uiteindelik geseëvier. Dit is dus met groot trots dat daar erkenning gegee word aan die uitskieters van die bedryf.

Vier mense het toekennings vir uitsonderlike prestasie vir hulle werk op sagtevrugteplase ontvang en drie vir hulle direkte en indirekte bydrae tot die bedryf:

Sivuyile Panya van Kromfontein in die Koue-Bokkeveld, het die merietetoekenning ontvang vir Algemene Landbouwerker van die Jaar vir sy uitsonderlike werksetiek en boordvernuf. Panya is in alle fasette ‘n uitstaande landbouwerker en was ondermeer Kromfontein se Plukker van die Jaar met ‘n fenomenale 9 296 pluksakke en dit ten spyte van die droogte. Panya is nie net ‘n voorslag plukker nie, maar presteer ook op die snoeiterrein. Hy snoei gemiddeld 55 tot 60 bome per dag. Volgens sy bestuurder, Johan van Schalkwyk, is dit ‘n ongelooflike prestasie as die terrein waarop hy werk in ag geneem word. “Panya is ‘n uitskieter in alle take wat vir hom gegee word en hy doen dit altyd met ‘n glimlag.”

Willem Booise produksiebestuurder van Bergendal naby Citrusdal het die Spesialislandbouwerker van die Jaar-merietetoekenning ontvang vir uitsonderlike landboukennis en leierskap. Booise wat al 23 jaar op Bergendal werk het as ‘n algemene werker begin. Vandag is hy in beheer van al die boordmonitering en is ook verantwoordelik vir die bemesting en besproeiing van 138 ha produksie-eenhede. Hy bestuur ook meer as 300 landbouwerkers en sien toe dat gehalte werk gelewer word en dat spanleiers opdragte reg uitvoer. Deur die jare het Booise verskeie opleidingskursusse voltooi om sy vaardighede te verbeter. Hy het ondermeer ’n isiXhosa-kursus geneem om beter met ander werkers te kommunikeer. Booise is ook ‘n aktiewe gemeenskapsleier en dien ondermeer as trustee op die Bergendal Werknemerstrust. Volgens Potgieter van Zyl, van Bergendal, is Booise se jare ervaring, toegewyde belangstelling en aandag aan die fyner besonderhede sy gewig in goud werd.

Elvis Pieters van Rietfontein in die Koue-Bokkeveld het die Gevorderde Landbouwerker van die Jaar-merietetoekenning ontvang vir sy uitsonderlike werksvernuf, sterk persoonlikheid en goeie leierskap. Pieters, wat op Rietfontein gebore is, het in 2002 daar begin werk en sy aanvanklike landboukennis opgedoen deur met groente en vee te boer. Hy het maar ‘n skamele ses jaar gelede na vrugteverbouing geskuif, maar binne ‘n kort tydjie homself meesterlik onderskei. Pieters maak gebruik van alle opleidingsgeleenthede wat aan hom gebied word wat hy dan met passie en ywer terugploeg in die gemeenskap. Pieters het ‘n ystere wil, is pligsgetrou en het ‘n besonderse sin vir verantwoordelikheid. As bestuurder word daar baie druk op hom geplaas, wat hy met onderskeiding hanteer. Pieters is ook welsprekend met ‘n fyn sin vir humor en tree gereeld as seremoniemeester in die gemeenskap op. Hy is ook aktief by verskeie gemeenskapsprojekte as leier betrokke. Volgens Pieters is daar niks wat kan vergelyk word met die produksie van ‘n Golden Delicious appel nie – “dié bome praat met my en as ek net die appels ruik, dan voel ek sommer goed”.

Vergelegen Boerdery in die Breederiviervallei het as entiteit die Nuweling-toekenning ontvang vir hulle uitsonderlike prestasie in die bedryf. Vergelegen het bewys wat gedoen kan word wanneer begunstigdes van grondhervorming ernstig is oor sake en die regte vennootskappe het. Daar is tans sewe trusts met aandele in die maatskappy en hulle beplan om teen 2020 ‘n honderd hektaar tafeldruiwe te produseer en die pakhuis uit te brei om jaarliks 500 000 kartonne te hanteer. Tans, pak hulle 250 000 kartonne. Die bestuur van Vergelegen Boerdery het net lof vir die hulp en advies wat hulle van kommersiële boerderye kry. Dit inspireer hulle om nog hoër hoogtes te bereik.

Buks Nel variëteitsekspert van Tru-Cape, het die Innovasie-toekenning ontvang vir sy jarelange tegniese bydrae, verstommende entomologiese bedryfskennis en sy passie vir vrugte variëteite en die kweking van Bigbucks/Flash Gala-appels. Sy kennis oor die lewensiklus van peste en siektes in die sagtevrugtebedryf is fenomenaal en Nel deel graag sy kennis en raad met vrugteboere. Hy skryf ook twee boeke vir die bedryf: Deciduous Fruits and Vines – Pests and Diseases and their control; en is saam met Henk Griessel mede-skrywer van Apples in the Early Days at the Cape. Nel het ook die variëteitskloon in die Gala-appelfamilie, Bigbucks, ontdek.

 Jan le Roux van die Le Roux-groep, het die Voorloper-toekenning ontvang vir sy leierskaprol in die landbousektor oor ’n tydperk van 30 jaar. In dié tyd het hy op verskeie komitees en rade gedien en speel ‘n belangrike rol tydens die deregulering van landbou in die laat negentigs. Veral op die gebied van swartbemagtiging in die landbou neem Jan le Roux reeds in 1994 die voortou deur klem te lê op volhoubare werkskepping wat finansieël sin maak. Koringplase buite Wellington word aangekoop en in suksesvolle steenvrug- en tafeldruif-plase omskep, so word ook ‘n koelkamer en verpakkingsfasiliteit aangebou. In 2004 word ‘n verdere mylpaal bereik toe 32% van Broodkraal Landgoed se aandele aan die Werkerstrust verkoop word. Die voorheen benadeelde werkers van die Le Roux-groep is almal begunstigdes van die trust. Die Le Roux-groep bied tans werk aan meer as 4000 permanente en seisonale werkers.

Samantha van den Berg het die Izethelo-mediatoekenning vir landboujoernalistiek ontvang. Van den Berg is tans redakteur van die Landbou-Burger en word beskryf as ‘n aktiewe landboujoernalis wat sorg dat sy goeie verhoudinge met die bedryf handhaaf, haar professioneel van haar taak kwyt en op hoogte bly van kwessies en nuus in die sagtevrugtebedryf. Sy verseker gehalte inhoud wat kreatief aangebied word.

Richard Hurndall het die Hortgro Voorsitterstoekenning ontvang vir sy besonderse bydrae tot die sagtevrugtebedryf wat oor 35 jaar diens strek.

In 2017 het die sagtevrugtebedryf 2 231 produsente ingesluit met ’n totale omset van R12,35 biljoen per jaar. Uit die oogpunt van wêreldproduksie, val Suid-Afrika onder die top tien vir pere, die top twintig vir appels, appelkose, perskes, nektariens en pruime, en 64ste vir kersies. Die sagtevrugtebedryf produseer tans vrugte op 79 912 hektare landbougrond in Suid-Afrika en bied 1,34 permanente werksgeleenthede per hektaar.

Bron: Hortgro

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0