Sagtevrugtebedryf vier nog ‘n jaar van harde werk en sukses

Group_web
Die Sagtevrugtebedryf se Gala-aand wenners van 2019: Pieter Graaff (O.S.H. Reinecke Bedryfsleier Toekenning), Raymond Koopstad (Toekomsgenerasie Toekenning), Kerneels Oncker (Spesialis Landbouwerker Toekenning), Elize Boer (Gevorderde Landbouwerker Toekenning), Sheila Storey (Innovasie Toekenning), Colin Sijinga (Algemene Landbouwerker Toekenning), en Chris Burgess wat die Izethelo Media Toekenning namens Landbouweekblad ontvang het.
Lys van pryswenners 2019
- Algemene Landbouwerker: Mzumkhulu Colin Sijinga
- Spesialis Landbouwerker: Kerneels Oncker
- Gevorderde Landbouwerker: Elize Boer
- Nuwe Generasie Toekenning: Raymond Koopstad
- Innovasie Toekenning: Sheila Storey
- Bedryfsleier Toekenning: Pieter Graaff
- Izethelo Media Toekenning: Landbouweekblad
Die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf het hul pryse toegeken vir uitmuntende prestasies in die landbou tydens die 44ste jaarlikse gala-aand op 13 September 2019. Sagtevrugte sluit in appels, pere, appelkose, perskes, nektariene, pruime en pruimedante, kersies, tafeldruiwe en droë druiwe – hoofsaaklik in die Wes-Kaap gekweek. Die sagtevrugtebedryf het weereens gewys dat harde werk, vaardigheidsontwikkeling en gemeenskapsbetrokkenheid die sleutel tot ‘n suksesvolle seisoen is. Vier mense het toekennings ontvang vir uitmuntende prestasies in hul werk op sagtevrugteplase spesifiek, en drie vir hul direkte en indirekte bydraes tot die bedryf:
Mzumkhulu Colin Sijinga van Kromfontein in die Koue Bokkeveld het die merietetoekenning vir Algemene Landbouwerker van die Jaar ontvang vir sy besonderse werksetiek en doelgerigte mentaliteit. Colin pluk ‘n fenomenale 8300 sakke vrugte terwyl hy ook die trekkerbestuurder van die span is, en verdien daarom ongeveer R12 700 bo sy normale loon. Die afgelope seisoen is hy aangewys as die beste trekkerbestuurder op Kromfontein, terwyl hy ook uitstekende snoeivaardighede getoon het. Sy werkgewers sien hom as ‘n groot aanwins en ‘n plesier om in die omtrek te hê. Te midde sy hardwerkendheid dra Colin altyd sy sin vir humor saam en is daar nooit te min tyd vir ‘n grappie nie.
Kerneels Oncker van Rietfontein: Graaff Fruit in die Kouebokkeveld het die Spesialis Landbouwerker van die Jaar merietetoekenning ontvang vir sy besproeiingskennis en vaardighede. Kerneels het in 2003 op Rietfontein begin werk en onmiddellik groot belangstelling in besproeiing getoon. Hy is by die besproeiingspan gevoeg en het verskeie kursusse bygewoon om sy kennis te verbreed en vaardighede te ontwikkel, naamlik NQF1, besproeiings- en reguleringskursusse vir pompe asook ‘n vurkhyserlisensie. As besproeiingspesialis is Kerneels verantwoordelik vir 218 ha. Hy het ook ‘n natuurlike aanleg vir gerekenariseerde stelsels. Kerneels word geken vir sy leergierigheid, eerlikheid en leierskap.
Elize Boer van Elim Farm in die Hexvallei, De Doorns het die Gevorderde Landbouwerker van die Jaar merietetoekenning ontvang vir haar uitstekende bestuursvaardighede, beplanningsvermoëns en sorg vir haar medemens. Elize is die Pakhuisbestuurder en Plaasbestuurder van Verdorsniet Plaas, verdeel in drie plase: Môreson, Lentelus en Elim. Sy het drie Produksiebestuurders wat onder haar leierskap val, en sorg voortdurend dat almal hul werk na die beste van hul vermoëns doen. Elize glo in deeglike maandelikse beplanning en leer dieselfde beginsels vir haar kollegas. Sy is bekend vir haar opregte omgee vir die mense om haar en glo dat elke persoon ‘n tweede kans verdien. Elize se lewensleuse is “hou op leer as jy dood is” en sy wil ook sulke onderriggeleenthede skep vir diegene in haar werksomgewing.
Raymond Koopstad van die Breederiver Vallei het die Nuwe Generasie merietetoekenning ontvang vir sy besonderse prestasie en intelligente besluitneming as ‘n nuweling in die sagtevrugtebedryf. Koopstad het gewys wat gedoen kan word as begunstigdes van grondhervorming ernstig is oor die landbou en die regte steun en vennootskappe het. Raymond het pas sy eerste baie suksesvolle oes nektariens op La Vouere gehad sedert hy ‘n vennootskap met Georgie Hewitt en Pieter Wolfaardt van Verdun Estate gevorm het. Tans is daar 20,5 ha boorde aangeplant en dit sal binnekort uitgebrei word met nog 12 ha, teen ‘n mediumtermyndoelwit van 50 ha teen 2021. Hierdie uitbreiding skep talle nuwe werksgeleenthede in die omgewing. Raymond meen dat die landbou van die beste geleenthede vir welvaartsontwikkeling en werkskepping bied wat transformasie betref.
Sheila Storey, wêreldklas-spesialis op die gebiede van grondlewe, plantprestasie en aalwurmbeheer, het die Innovasie merietetoekenning ontvang vir haar jarelange tegniese- en wetenskaplike bydraes tot die sagtevrugtebedryf. Regdeur haar suksesvolle loopbaan het sy talle waardevolle toevoegings tot haar velde gemaak, waaronder die stigting van die kommersiële aalwurm analise-laboratorium,
Nemlab, wat gegroei het tot die grootste private onderneming van sy soort in Suid-Afrika; en die vestiging van NemaBio (Edms), wat fokus op die kommersialisering van entomopatogene aalwurms vir die biologiese beheer van insekplae in gewasse. As ‘n groot naam in grondkunde, stig sy ook die grondgesondheidsentrum in 2015 en ontwikkel aalwurmbeheerprogramme en riglyne vir ‘n verskeidenheid gewasproduksiestelsels regoor die land.
Pieter Graaff, die eienaar van Witzenberg Properties, het die Bedryfsleier merietetoekenning ontvang vir sy uitstekende prestasies en leierskapsrol in die landbousektor oor die afgelope 35 jaar. Pieter is die grootste individuele appelprodusent in Suid-Afrika en is verlede jaar deur die Landbouskrywersvereniging as Nasionale Boer van die Jaar aangewys. Hy is tans die voorsitter van Ceres Fruit Growers en die vrugte-uitvoerder Tru-Cape, en dien ook op die direksie van meer as tien maatskappye. Pieter, bekend as ‘n innoverende produsent met ‘n vooruitdenkende benadering, het oor die jare sy vaardighede geslyp om een van die invloedrykste leiers van die sagtevrugtebedryf te word. Hy glo in konstante verbetering en kennis verbetering, en sy sorg vir sy werknemers maak van hom ‘n baie gewilde werkgewer in die Ceres-omgewing.
Landbouweekblad het die Izethelo-mediaprys vir landboujoernalistiek ontvang vir 100 jaar se uitsonderlike verslaggewing en kameraderie onder die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap. Chris Burgess, die huidige redakteur, het die toekenning namens die tydskrif ontvang.
Bron: Hortgro