Categories: Nuus, Vee en WildPublished On: 15th January 2026

Saai kap Steenhuisen oor flou bek-en-klouseerverklaring

By 6 min read
1225 words

WhatsApp Image 2026-01-15 at 08.00.36

John Steenhuisen, Minister van Landbou, het gister die staat se plan vir die bekamping van bek-en-klouseer (BEK) tydens ‘n mediakonferensie uiteengesit. Die verklaring het nie juis luide toejuiging uit alle oorde ontlok nie.

Volgens Steenhuisen is die doel met die landwye inentingsveldtog teen die hoogs aansteeklike, staatsbeheerde siekte daarop gemik om die BEK-uitbreking in die land binne 12 maande met meer as 70% in provinsies met ‘n hoe risikogebiede te verminder en om die BEK-vrye provinsies deur middel van streng beheermaatreëls te beskerm.

In hierdie stadium is dit net die Noord-Kaap waar nog geen voorvalle van BEK aangemeld is nie. In die Wes-Kaap is ‘n uitbreking tot ‘n enkele plaas beperk. KwaZulu-Natal, Gauteng, die Vrystaat en Noordwes Provinsie word die ergste geraak, maar ook in Limpopo, wat ‘n ruk lank vry van die siekte was, het nuwe uitbrekings voorgekom.

Steenhuisen meen die nasionale strategie is realisties haalbaar en tegnies moontlik.

Hoë risikogebiede sal geteiken word met die doel om ten minste 80% van die beeste in kommunale gebiede en tot 100 % in voerkale en suiwelkuddes in te ent.

Altesaam twee miljoen diere is sover ingeënt en die massa-inentings sal na drie maande opgevolg word.

Kwazulu-Natal, Gauteng, die Vrystaat en Noordwes Provinsie is die ergste geraak en optrede het die massa-inenting ingesluit. Die veldtog sal 100% van beeste in voerkrale en melkkoeie, 90% kommersiële kuddes en 80% van die beeste in kommunale gebiede insluit. Spesiale beheermaatreëls sal ook in die provinsies geld.

Entstof sal van verskeie wêreldleiers op die gebied bekom word. Plaaslik sal die Landbounavorsingraad (LNR) en Onderstepoort Biologiese Produkte aanvanklik 20 000 dosisse per week verskaf wat mettertyd tot 960 000 dosisse vermeerder sal word. Die eerste dosisse word middel-Februarie verwag.

Saai se reaksie

Volgens die familieboer-organisasie Saai het die konferensie nie die nodige oplossings gebied vir boere wat tans veg om oorlewing nie. Die hoogs aansteeklike, staatsbeheerde siekte wat landwyd in al die provinsies buiten die Wes-Kaap en Noordkaap chaos veroorsaak, sleep voort en beheermaatreëls, soos die verklaring van Siektebeheergebiede  het sover geen noemenswaardige oplossing gebied nie.

Sekere groepe in KwaZulu-Natal het vroeër selfs gevra dat die siektebeheergebiede opgehef word en dat die siekte as endemies in dié provinsie verklaar word.

Saai het vroeër daarop aangedring dat die finansiële oorlewing van familieboere sentraal moet staan in alle pogings om die siekte te beveg en die ernstige ekonomiese impak daarvan op die veebedryf te beperk en gesê die verklaring van BEK as ’n nasionale ramp sal kritieke voordele vir sukkelende boere inhou.

Saai meen boere het ‘n fermer, kragdadiger, duidelike en praktiese optrede oor hoe die siekte bekamp gaan word  van Steenhuisen verwag wat riglyne sou verskaf oor hoe hulle boerderye weer uit die moeras van onsekerheid sal kan kom.

Volgens Saai is die omvang van die krisis duidelik groter as wat die Departement van Landbou besef of die vermoë het om te bestuur. “Vertroue in die departement onder boere is tans uiters laag. Daar word van die bedryf verwag om te glo dat dieselfde amptenare wat die krisis veroorsaak het, hulle nou daaruit moet lei,” aldus die verklaring.

“Verder is daar nog geen aanduiding van gevolge vir amptenare wat versuim het om oor die integriteit van bekampings maatreëls te waak of om die beskikbaarheid van entstowwe te verseker nie.”

Die aankoop van entstowwe wat van Brasilië en Turkye was darem goeie nuus. Maar Suid-Afrika benodig op die korttermyn soveel entstofvoorraad as moontlik, en indien die staat nie dringend sy kapasiteit om plaaslik ontwikkelde entstof te vervaardig deur private laboratoriums toe te laat om dit aan  te vul nie, sal Saai genoodsaak wees om die staat deur regsaksie daartoe te verplig.

Die versoek dat die siekte as nasionale ramp verklaar word, is met ’n bietjie meer entoesiasme ontvang, al wys die stap op ernstige tekortkominge in die staat se huidige benadering. Die gebrek aan ’n sinvolle strategie om rondloperbeeste in kommunale gebiede en informele nedersettings te bekamp, asook die gebrek aan wetstoepassing en infrastruktuur vir die skut van vee, ondermyn die geloofwaardigheid van die nasionale strategie.

Volgens Saai het boere self twaalf kernvereistes aan die minister voorgelê. Hulle eis:

  • ’n Duidelike plan vir finansiële bystand aan boere wat deur bek-en-klouseer geraak is wat hulle in staat sal stel om te oorleef terwyl hul boerderye lamgelê word;
  • Meer inligting oor hoe die nasionale ramptoestand ’n betekenisvolle verskil sal maak aan die suiwel-, rooivleis- en varkbedryf;
  • Die uitvaardiging van noodregulasies om meer as net departementele hulpbronne te mobiliseer;
  • ’n Eenvormige bestekopname van mannekrag, voertuie, toerusting en entstof in elke distrik wat doeltreffende aanwending van die entstof sal verseker;
  • Die strukturering van ’n vennootskap tussen die staat en privaat sektor sodat alle belanghebbendes op dieselfde bladsy kan kom;
  • ’n Duidelike proses van kommunikasie, logistiek en uitvoering van die inentingsveldtog in elke provinsie en distrik;
  • ’n Volledige hulpbronplan en begroting waarin veeboere self ’n aktiewe rol speel;
  • Groter buigsaamheid om entstofproduksie buite staatslaboratoriums na die privaat sektor uit te brei om uitset eksponensieel te vergroot;
  • Erkenning van boere se kapasiteit om self hul vee te ent en rekord daarvan te hou om tyd en koste te bespaar;
  • Meer inligting oor beplande rekordhouding- en moniteringsstelsels;
  • ‘n Behoorlike kommunikasiestelsel om die frustrasie van boere wat in die duister gelaat word, aan te spreek; en
  • ‘n Hersienings- en afwerkingsplan om gapings in die nasionale inentingsveldtog te voorkom.

Voorts het Saai die minister se aantygings dat landbou-organisasies vals inligting versprei ten einde lede te werf verwerp. “Sulke uitlatings toon hoe uit voeling die minister met die werklikheid op grondvlak is. Organisasies wat kritiese vrae vra, doen dit omdat boere verstaan dat die staat nie die kapasiteit het om hulle sonder hulp uit hierdie krisis te lei nie.”

Saai vind dit ook onvanpas dat die minister organisasies soos die Melkprodusente-organisasie (MPO) kritiseer omdat hulle die hof genader het vir beter toegang tot entstof. “Dit was juis hierdie druk wat die departement na meer as ’n jaar gedwing het om sy verkrygingsfokus wyer as net Botswana te stel,” aldus die verklaring.

Minister van Landbou, John Steenhuisen tydens sy onlangse persvergadering.

AgriSA meer positief

AgriSA het meer positief op minister Steenhuisen se verklaring reageer en erkenning gegee vir die aansienlike pogings wat binne die Departement van Landbou aan die gang is om die huidige situasie te stabiliseer.

Volgens AgriSA weerspieël die opgedateerde strategie ’n meer gekoördineerde, risiko-gegronde en wetenskapgedrewe benadering tot inenting, toesig, bewegingsbeheer en sonering, wat noodsaaklik is om die siekte te beperk en vertroue in die veebedryf te herstel.

AgriSA spreek ook sterk steun uit vir die voortgesette bedryfsgeleide ingryping wat deur kommoditeitsorganisasies regoor die veewaardeketting gedryf word. “Hierdie pogings sal instrumenteel wees om verdere verspreiding te beperk en marktoegang onder uiters moeilike omstandighede te handhaaf,” aldus die verklaring.

AgriSA het verskerpte samewerking tussen kommoditeitsliggame, provinsiale strukture, veeartse, produsente-organisasies en grondvlak-landbounetwerke aangemoedig ten einde volgehoue toepassing, gedeelde intelligensie en vinnige reaksie op plaasvlak te verseker.

“Met volgehoue samewerking tussen die regering en die bedryf, voldoende hulpbronne vir die nasionale strategie, en sterk deelname deur boere op grondvlak, kan Suid-Afrika uitbreke progressief stabiliseer, siektevrye sones beskerm en werk aan die herstel van internasionaal erkende bek-en-klouseer-vrye status,” het Willem de Chavonnes Vrugt, AgriSA-se president, gesê.

Volgens hom is AgriSA verbind tot konstruktiewe betrokkenheid met alle belanghebbendes, insluitend die Departement van Landbou ten einde die suksesvolle uitvoering van die nasionale bek-en-klouseer-reaksie in belang van boere, landelike gemeenskappe en die breër ekonomie te verseker.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0