Rumax bring veelsydige oplossings na NAMPO 2026

20260513_130915
By vanjaar se NAMPO Oesdag het Rumax weer hul vermoë gewys om praktiese en vindingryke oplossings vir die moderne boer te ontwikkel. Hierdie jaar het die maatskappy gefokus op hul uitgebreide reeks toerusting wat ontwerp is om jou boerdery meer doeltreffend te maak.
Volgens die span is hul doel om boere toegang te gee tot tegnologie wat produktiwiteit verhoog terwyl bedryfskoste beperk word.
Een van die groot fokusareas by vanjaar se uitstalling was hul reeks hamermeulens en mengers. Rumax bied verskeie modelle aan wat met diesel- of elektriese aandrywing beskikbaar is, wat boere die aanpasbaarheid gee om die oplossing te kies wat die beste by hul bedrywighede pas.
Die mengers is in verskillende groottes beskikbaar, waaronder 15 m³-, 9 m³- en 7 m³-modelle. Die 15 m³- en 9 m³-mengers gebruik ’n ratkasaandrywing, terwyl die 7 m³-model met ’n kettingaandrywing werk. Hierdie verskeidenheid maak dit moontlik om oplossings vir beide kleiner en groter boerderybedrywighede te bied.

Rumax se elektriese aandryfstelsel gekoppel aan hul 9 m³ menger model.
Innoverende elektriese aandryfstels
’n Interessante ontwikkeling wat by NAMPO uitgelig is, is Rumax se elektriese aandryfstelsel vir mengers. Die stelsel maak dit moontlik om bestaande mengers na elektriese aandrywing om te skakel. Met die voortdurende styging in brandstofkoste kan hierdie oplossing boere help om bedryfskoste te verminder en meer doeltreffend te werk.
Nog ’n hoogtepunt was die kompakte pil-aanleg. Die stelsel kombineer ’n hamermeul, menger en pilmasjien in een geïntegreerde eenheid. Hierdie oplossing is veral geskik vir kleiner boere en pluimveebedrywighede wat hul eie voer wil verwerk sonder die behoefte aan groot infrastruktuur.

Volledige enkelvaas pilaanleg, bestaande uit ’n hamermeul, menger en pilmasjien.
Hoewel die kompakte eenheid baie aandag getrek het, bied Rumax ook groter weergawes van hierdie stelsels vir kommersiële boerderye met hoër produksievereistes.
Die misstrooier was ook te sien. Hierdie masjien maak gebruik van presisieboerdery-tegnologie wat satellietdata gebruik om die korrekte hoeveelheid mis, kalk of ander produkte volgens grondontledings toe te dien. Dit help boere om meer akkurate toedienings te verseker. Die masjien kan ook suksesvol in wingerde gebruik word met die toevoeging van ’n bankie aan die voorkant wat produk na weerskante toe versprei.

Hier kan mens die aangepaste bankie, wat gemaak is om wingerde te strooi, sien.
Rumax het verder ’n nuwe houtversnipperaar bekend gestel wat gebruik maak van petrol-, diesel- of elektriese aandrywing. Hierdie nuwe toevoeging tot hul produkreeks bied boere meer opsies vir die verwerking van plantmateriaal en snoei-afval op die plaas.
Slim oplossings
Een van die meer unieke projekte wat by NAMPO vertoon is, is ’n grondboor wat ontwerp is om 1 meter diep te boor sodat vogmeters geplaas kan word. Volgens die span was dit ’n interessante projek wat verskeie tegniese uitdagings gebied het gedurende die ontwikkeling daarvan.
Nog ’n nuwe produk wat baie belangstelling gelok het, is ’n vlekvryestaal-skaal met Bluetooth-funksionaliteit en ’n app-gebaseerde bestuurstelsel. Hierdie tegnologie stel boere in staat om data maklik te monitor en te bestuur. Die skaal kan vir verskeie doeleindes gebruik word, van voerbestuur tot die weeg van diere.

Die nuwe Bluetooth-funksionaliteit en ’n app-gebaseerde skaal.
NAMPO bly jaarliks ’n belangrike platform waar vervaardigers en boere bymekaar kom om nuwe tegnologie en oplossings te bespreek. Vir Rumax gaan dit ook daaroor om praktiese oplossings te ontwikkel wat boere help om meer doeltreffend en winsgewend te boer.
Vir meer inligting oor Rumax se produkte en dienste, besoek Rumax Suid-Afrika of kontak hulle by 016-362-4012 of e-pos info@rumax.co.za