Categories: MeganisasiePublished On: 7th June 2023

Rovic Leers verskaf hoë-gehalte werktuie vir elke boerderybehoefte

By 8 min read
1518 words

DSC_0790-1536×1024

Rovic Leers bly aan die voorpunt van hoë-gehalte meganisasie en tegnologie vir Suid-Afrikaanse boere. Met 2023 se NAMPO-oesdag het hierdie groep weer gewys dat daar in hulle stal ‘n werktuig vir elke behoefte is.

Of jy nou kuilvoer vir jou vee plant of met graan, vrugte of groente boer, dan benodig jy ‘n werktuig wat jou werk makliker maak. Miskien is dit ‘n werktuig wat grondbewerking doen, ‘n strooier wat kunsmis en mis strooi of ‘n baler wat vinnig klaarspeel met hooi. Die goeie nuus is dat jy nie nodig het om ver te soek vir jou oplossing nie. Rovic Leers het ‘n verskeidenheid meganisasie-oplossings vir jou.

Hierdie verspreider voorsien aan die hele sub-Sahara Afrika en is ingeskerp op die behoeftes van boere. Hulle uitgebreide netwerk verseker dat elke boer topgehalte diens kry wat in voeling is met Afrika se behoeftes.

By die onlangse NAMPO-oesdag in Bothaville het die maatskappy ‘n versameling werktuie uitgestal. Dit het onder meer produkte van Krone, Kuhn, Rovic Leers en Quike ingesluit.

Rovic se Synco-Spreader RSM 10-14

“Hierdie strooier is ‘n 10 m3 masjien met ‘n maksimum laaikapasiteit van 14 ton,” verduidelik Carel Steyn, produkbestuurder van die Navorsing- en Ontwikkelings-afdeling van die maatskappy.

Voor aan die trekstang is ‘n balk wat verhoed dat die masjien heen en weer skud. Daar is ook rubberbuste tussen die onderstel en die disselboom. Dit alles maak dit makliker om vrag te vervoer

“Al die hidrouliese pype lê netjies en veilig in die staalkanaal aan die bak sodat daar geen los pype is wat kan vashaak nie,” vertel hy. “Die hidrouliese stelsel kan die twee skywe agter afsonderlik beheer.”

Binne-in die strooier se bak is die tweeling-voerkettings wat ook afsonderlik beheer kan word. Aan weerskante van die werktuig is daar ratkaste wat die kettings beheer.

Die strooier is standaard toegerus met ISOBUS. Te danke daaraan is daar twee instellings wat die operateur kan gebruik, naamlik die vragwaarneming- en konstantepomp-aksies. Verder spog die masjien ook met ‘n skaal en GPS-gekontroleerde aanpasbare toediening.

“Alle werkende dele wat in aanraking met die kalk of kunsmis kom, is vervaardig van vlekvrye staal – die skywe met hulle vinne en die hekopening ingesluit,” brei Carel uit. “Elke skyf het twee laers wat ver uitmekaar sit om die kragte van die skywe handhaaf sodat die motors nie beskadig word nie.”

“Daar is ook ‘n sensor wat meet hoe vinnig die skywe draai.”

Toegevoegde kenmerke is blokke wat gebruik kan word om die wiele te rem en ‘n gereedskapskas waar die boer enige gereedskap wat hy op die land kan nodig hê kan bêre.

Kuhn Axis-strooier 40.2 MEMC

Die Kuhn Axis-strooier is ‘n strooier wat ten volle toegerus is met die ISOBUS-stelsel, aanpasbare toediening en seksiebeheer.

“Die standaardmodel is beskikbaar met ‘n bak van 1 400 liter, maar dit kan tot 3 300 liter vergroot word,” vertel JP Venter, gebiedsbestuurder vir Limpopo. “Dit het ook parkeerwiele wat die aan- en afhaak van die strooier kinderspeletjies maak.

MEMC staan vir Meganiese Elektroniese Massavloeibeheer (Control).

“Die strooier is toegerus met die Telemat-stelsel wat strooiwerk op jou land se grense vergemaklik,” sê hy. “Wat dit doeltreffend maak, is dat dit nie weegselle het wat kalibrasie doen nie. Elke motor het winkragsensors wat die kunsmis wat uitval meet en die strooier daarvolgens aanpas. Dit beteken die helling en die spoed van die strooier in die veld het nie ‘n invloed op die kalibrasie nie.”

Die CDA-stelsel bepaal hoe die kunsmis oor die skywe uitval. Dit beheer die hoeveelheid, die seksies en die strooiwydte.

Daar is ook 40.2 HEMC-strooiers beskikbaar.

Krone Big X 780-stroper met die Easy Collect 750/3-mielietafel

“Die stroper se enjin lewer teen 780 perdekrag (582 kW) en hy sny 7,5 meter wyd. Die tafel vou in drie dele, vandaar die 780, 759 en 3,” verduidelik Philip Oosthuizen, Kaapstad se takbestuurder. Hy sê: “Hierdie mielietafel is uniek, want dit kyk na die voginhoud van die materiaal en pas dan self aan om die snitlengtes by die voginhoud te pas.” Die stroper is beskikbaar in die volgende modelle: 680, 780, 860, 1180 (met ‘n 12-silinderenjin).

Die drom van die stroper is 660 mm in deursnee en 800 mm wyd. Die stroper kom vanself tot stilstand sou daar enige vreemde voorwerpe in die rollers beland

Die kopgedeelte van die stroper hou homself gelyk oor die ongelykhede in die land.

“Krone bou masjiene wat maklik is om te onderhou, lae instandhoudingskoste verg het en min staantyd het,” sê Philip.

Die kajuit is gerieflik met al die nuutste tegnologie wat die operateur se werksomstandighede verbeter.

Die stroper word vrygestel as 4×2 en 4×4, maar in Suid-Afrika is hoofsaaklik die 4×4-opsie beskikbaar.

Krone Big X 780-stroper met die Easy Collect 750/3-mielietafel.

Rovic Leers Super 19-skeurploeg

Die Super 19-skeurploeg van Rovic Leers is gemaak vir alle omstandighede. Dit spog met ‘n selfherstellende bladveeruitskopaksie om skade te vermy.

“Hierdie model is 1,10 m wyd. Dit het ‘n werkdiepte van 470 mm en is hoog genoeg om onbelemmerde materiaalvloei onder die raam te hê,” vertel Pieter van Biljon van Rovic Leers.

Die werktuig is beskikbaar in ‘n 20-, 25- en 27-tand grootte. Daar is ook ‘n DLB-model met meer reguit tande beskikbaar. Dit is hoofsaaklik vir deklaagbewerking van klipperige grond of ‘n harde bo-laag.

“Hierdie werktuig vereis trekkerkrag van 18 tot 20 kW per tand. Daar is ook verskeie rollers beskikbaar soos die swaartekragvloeirollers en die positiewedrukrollers.”

Quicke-laaigrawe met vinnige koppeling vir veelsydigheid

André van Heerden, gebiedsbestuurder vir die Vrystaat, praat met lof oor dié werktuig wat gemaak is vir vinnig aanhegting. Die Sweedse vervaardiger het sedert hulle ontstaan in 1949 die resep vervolmaak en vervaardig tussen 25 000 en 30 000 laaigraaf-aanhegsels per jaar.

“Hierdie laaigrawe het nie die standaard reguit balk nie, maar een met ‘n kurwe wat die struktuur stewig dog lig maak,” vertel André. “Dit, gepaard met die manier hoe die stukke aanheg, gee die laaigrawe ‘n langer dienslewe.” Die aanhegsels heg outomaties aan. Jy ry net in posisie en luister vir die kenmerkende “kliek’.

Wanneer dit afgehaak word, trek jy net die knop op die arm uit en ry weg.

Die vervaardiger het ‘n laaigraaf vir elke trekker! Dit is beskikbaar in ‘n nommer drie vir 40 kW trekkers en agt vir 200 kW trekkers. Daar is agttien modelle beskikbaar.

Altesaam is daar ook meer as 50 soorte aanhegstukke wat onder meer grondverskuiwing, kuilvoerhantering, baalhantering, hyswerk en hoëvolumebakke insluit. Verder word die laaigrawe geklassifiseer as S (standaard), M (swaardiens) en L (langer).

Die laaigraaf het sy eie beheerpaneel in die trekker se kajuit wat hom volgens die Quicke-companionstelsel beheer. Die stuurstok kan geprogrammeer word om spesifieke funksies met die laaigrawe vinnig uit te voer.

“Die hyser het ‘n kapasiteit van 1,4 tot 2,7 ton op die voorste strekpunt,” sluit André af.

Rovic leers se gedugte Quicke-laaigrawe het verskillende aanhegsels om te verseker daar is ‘n oplossing vir elke boerderytaak. Die laaigraafarms is ook in verskillende modelle beskikbaar om elke trekker te pas.

Kuhn Excelerator 8010

Die hoofgebruik van hierdie vertikale bewerker is om droë materiaal fyn te maak en oor ‘n gebied in die grond te werk om ‘n deklaag te vorm sonder om grond te verdig.

“Dit is ‘n vertikale bewerkingsaksie met geriffelde skywe wat in die grond in sny,” vertel Mike Lombaard, Rovic Leers se gebiedsbestuurder vir Mpumalanga. “Kuhn het die werktuig aangepas sodat die invalshoek van die lemme kan verstel: op 1° het jy absolute bewerking. Op 8° is daar meer van ‘n meng-aksie. Lemme is 18 cm uitmekaar geplaas.

“Agter die lemme volg ‘n stel veerbelaaide tande wat kluite opbreek en materiaal eweredig oor die hele oppervlakte versprei.”

Hidrouliese druk sorg dat die werktuig deurgaans die regte werkdiepte handhaaf.

Na die volgende stel snyskywe volg saadbedrollers wat verdigting ophef sodat die rollers heel agter ‘n netjiese saadbed kan vorm – gereed vir die planter.

Die Excelerator is perfek vir vertikale bewerking sonder grondverdigting.

Fortima- en Veripack-rondebalers van Krone

Daar is baie raakpunte tussen Krone se Fortima- en Veripack-balers, maar daar is ook verskille om verskillende behoeftes te pas. Mike Lombaard verduidelik dat albei die EasyFlow-invoer het wat sonder nokke werk om ‘n hoër deurvloeikapasiteit en laer onderhoudskoste te bemoontlik.

“Die invoerrollers druk die materiaal plat om dit in te neem en verhoed dat dit vorentoe rol,” sê hy. “Die optelwydte is 2,15 m.”

Albei modelle se kapvermoë verstel met wiele langs die kant, Die verskil tussen die twee balers is dat die Fortima se wiele vry loop waar die Veripack se drywende opteller op sy eie wiele loop.

“Albei is toegerus met ‘n netbindaksie wat deur die ISOBUS-terminaal beheer word. Albei het ook ‘n oliestelsel wat die kettings gesmeer hou en die leeftyd verleng,” voeg Mike by. Die spanning van die kettings word deur vere konstant gehou.

Die Fortima 1250xcut-model. Die 1250xcut het ‘n messekas wat verstel kan word vir verskillende snylengtes.

Die Veripack is ‘n hoë-digtheid, hoë-volume baler. Sy sentrale smeerstelsel en bindmeganisme werk hidroulies.

“Jy kan bale vanaf 0,8 tot 1,6 m maak en dit is ook beskikbaar in die 1,6 m Veripack en die 1,9 m Veripack xcut,” sê Mike.

Vir meer inligting oor die wye verskeidenheid meganisasie-oplossings, besoek Rovic Leers se webtuiste by https://www.rovicleers.co.za/.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0