Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 30th October 2024

Rooivleispryse: Is rooivleis in die winkels werklik so duur?

By 3 min read
658 words

flesh-3139641_1920 (2) (1)

Suid-Afrika se rooivleis is van die lekkerste vleis ter wêreld en word in die beste restaurante bedien. Die pryse van rooivleis wat boere die afgelope jaar gekry het, het drasties verminder, maar die verbruiker betaal steeds baie in die winkel. Daarom word prysoordrag, (hoe die prys van ՚n produk deur die waardeketting styg) veral in die rooivleisbedryf bevraagteken.

Boere vergelyk baie keer die prys van die hele karkas by die slagpale met die duurste snitte lamstjops of beeshaas by handelaars of winkels, en kla dan oor die prysverskil – wat gewoonlik groot is.

Dr Frikkie Maré, hoofuitvoerende beampte van die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) gee meer inligting oor die onderwerp. Hy sê dat elke abattoir kan betaal wat hulle voel reg is en net so kan elke handelaar ՚n prys maak wat hy goeddink.

“Die benadering dat daar ՚n groot verskil is tussen handelaars-en karkaspryse is gewoonlik gegrond op ՚n scenario waar die prys van ՚n A2-beeskarkas vergelyk word met die prys van ՚n beeshaas of lendeskyf-biefstuk, terwyl die prys van ՚n A2-lam-karkas vergelyk word met die prys van ՚n lendetjop. Dit beteken dat die prys van die hele karkas (BTW uitgesluit) vergelyk word met ՚n enkele duur snit (BTW ingesluit). ՚n Karkas het wel nie net primasnitte vleis nie en mens moet na die groter prentjie kyk,” sê hy.

Tabel 1: Vraag en aanbod van skaapkarkas teenoor enkele snit skaapvleis in die winkel

Dr Frikkie verduidelik ook ՚n praktiese voorbeeld van ՚n besoek aan ՚n groot slaghuis in Pretoria. “Dit het gewys dat die lendetjops se marge baie hoog is op 111%. Die marge op ongeveer 4 kg se braaipak (wat ՚n rib en verskeie tjops ingehad het) was 24% en die marge op ՚n hele en halwe karkas was slegs 9%. Hierdie marges is vir die hele waardeketting en moet al die kostes dek tussen die abattoir en klant wat dit koop.”

Dit is duidelik dat die aanvraag vir lendetjops groot is en die vraag vir braaipakke en heel karkasse baie laag is. Dit is hoekom die slaghuis sy geld/wins moet maak op die snitte wat hoog in aanvraag is, want hulle verloor weer  op die snitte wat laag in aanvraag is en
volle karkasse. Dr Frikkie noem dat boere na die karkas as geheel moet kyk.

Daar is niks so lekker soos ՚n gebraaide biefstuk nie.

“Mense moenie aanstoot neem op die groot bedrag van R194/kg vir lendetjops nie. Hoe meer die verbruiker bereid is om te betaal, hoe meer kan die prys wat die boer kry verhoog, want hoe meer die handelaar kry, hoe meer kan hy betaal vir die karkas wat hy aankoop.”

Karkaspryse verlaag ook as handelaarspryse verlaag en verhoog wanneer die ander een verhoog. Dr Frikkie gee ՚n voorbeeld: “As ons wil hê dat winkels die prys van prima snitte (dié wat ons vergelyk met die karkasprys) met 10% moet verlaag omdat die karkasprys met 10% verlaag het, beteken dit dat die handelaar 15% minder sal moet vra. Dit beteken dat hulle nou 15% minder op die karkas sal moet aanbied om geld te maak.”

Mense moet nie ՚n aanname maak op ՚n enkele stuk vleis wat vergelyk moet word met ՚n hele karkas nie. Rooivleis bly van die lekkerste vleis om te eet en verbruikers sal dit aanhou koop. “Hoe beter die bemarkingspogings van die handelaar is, hoe beter die ervaring, hoe meer moeite met die voorbereiding (veroudering) en aanbieding (verpakking) van die vleis, hoe groter is die vraag van die welgestelde verbruiker. Namate verbruikers meer van die prima produkte koop, sal die prys styg en op sy beurt die kleinhandelaar in ՚n posisie plaas om meer vir ՚n karkas te betaal, al bly die vraag na die ander gedeelte van die karkas laag,” sê hy.

Hier kan ՚n mens sien dat die prys van ՚n A2-A3 bees afgekom het, maar dat skaappryse weer so ՚n bietjie gestyg het.

A2/A3 Bees-en skaapvleispryse oor die afgelope jaar:

Bron:
Dr Maré, F. 2024. RPO: Red Meat price transmission

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0