Rob met twéé dodelike siektes in Mosselbaai gevind

Foto
’n Kaapse pelsrob wat verlede maand by Die Punt in Mosselbaai gevang is, het nie net hondsdolheid nie, maar ook voëlgriep gehad. (Bron: Pixabay)
Jy stap met jou hond op die strand en doer ver sien jy iets op die sand lê. Jy gaan nader, remmend aan jou hond se leiband. As jy nader kom, sien jy dit is ’n rob. Jy kan sien die rob haal swaar asem. Jou eerste instink as diereliefhebber is om nader te gaan en te kyk of jy kan help, dalk die dier terug help in die water?
Moenie.
’n Kaapse pelsrob wat op 9 April vanjaar by Die Punt in Mosselbaai gevang is, het positief getoets vir voëlgriep, is pas deur die organisasie Stranded Marine Animal Rescue Team (Smart) bekend gemaak. ’n Week gelede het toetse getoon sy het ook hondsdolheid.
Dit is die eerste voorval van voëlgriep, oftewel hoogs patogene avian influenza (HPAI) onder pelsrobbe in Suid-Afrika. Vyf ander is ook reeds positief getoets vir hondsdolheid.
Die rob is oorspronklik op 3 April op die rotse by Die Punt opgemerk. Sy het tekens van asemhalingsprobleme getoon en is ’n paar dae lank deur Smart-vrywilligers dopgehou. Uiteindelik is sy op 9 April na die Hartenbos Dierehospitaal geneem waar sy van kant gemaak is om verdere lyding te voorkom.
Monsters is na die staatsveearts gestuur om vir hondsdolheid en voëlgriep getoets te word. Hulle het positief getoets vir hondsdolheid – die sewende voorval van vermoedelik hondsdolheid in die Wes-Kaap, waarvan vyf robbe positief getoets is.
Eerste rob in SA met voëlgriep
Hoewel talle soogdiere elders in die wêreld al voëlgriep opgedoen het en weens dit dood is, is hierdie die eerste plaaslike rob wat positief vir voëlgriep getoets is.
Volgens Smart word gehoop dat die spesifieke voëlgriepstam nie ’n groot invloed op die Kaapse pelsrobbevolking langs die Suid-Afrikaanse kus sal hê nie. Duisende robbe elders in die wêreld is al van ’n ander virusstam van die siekte dood.
Voëlgriep word deur besmette diere oorgedra deur druppeltjies vanuit die lugweë. In ander wêrelddele is die siekte ook al aan mense oorgedra, wat gewoonlik net griepsimptome getoon het, maar sekere virusstamme het ook al tot sterftes gelei.
Voorkomende maatreëls
Smart maan die publiek om robbe te vermy. “Enigiemand wat op die strand stap moet in gedagte hou dat robbe albei aansteeklike siektes kan oordra. Bly weg van hulle af en hou ook kinders en troeteldiere weg.”
Die publiek word ook gemaan om nie dooie voëls of diere op die strand te hanteer nie. Kontak die owerhede wat die diere of voëls met die nodige voorsorgmaatreëls en beskermende klere sal hanteer en verwyder.
Volgens ’n woordvoerder van die landboudepartement is hondsdolheid in robbe nou ‘n gegewe. Die departement monitor die situasie in samewerking met dieregesondheidsorganisasies. Die publiek word gewaarsku om weg te bly van robbe wat aggressief is of ongewoon mak vertoon.
As ’n rob duidelik probleme ondervind of onnatuurlik optree:
- Bly weg en hou kinders en troeteldiere weg;
- Meld die rob aan by die naaste staatsveearts.
Indien ’n persoon gebyt of gekrap is:
- Was die wond onmiddellik met seep en water;
- Kom so gou moontlik by ’n dokter uit vir noodsaaklike behandeling om te voorkom dat die pasiënt die dodelike siekte opdoen.
Wanneer ’n voël of ’n dier voëlgriep het:
Voëlgriep word oorgedra deur kontak met ’n siek voël of soogdier of ’n besmette omgewing.
- Bly weg;
- Moenie siek diere of voëls hanteer nie;
- Moenie raak aan liggaamsvloeistowwe of karkasse nie;
- Meld enige siektesimptome of vrektes van voëls of diere aan by die naaste owerhede;
- As jy met ’n siek voël of dier in aanraking was wat voëlgriep het, moet jy ook dadelik mediese sorg ontvang.
Kontakbesonderhede
Kontak Smart by 072-227-4715 of die Seevoël-en-pikkewyn-rehabilitasiesentrum (Saprect) by 082-364-3382.
Meld enige buitengewone gedrag, siekte of vrekte aan by Thuli Makhala, dieregesondheidstegnikus in George, by 079-048-0984.
Verwysingsbronne
Marais, T. (2026) First for SA: Point seal tests positive for avian flu Mossel Bay Advertiser
Pieterse, C. (2026) 5 positive rabies cases in WC, 3 in Mossel Bay Mossel Bay Advertiser
Steyn, T. (2026) Voëlgriep maai onder Kaapse seevoëls
https://proagri.co.za/voelgriep-maai-onder-kaapse-seevoels/
Steyn, T. (2026) Voëlgriep onder eende, pelikane, meeue in Wes-Kaap
https://proagri.co.za/voelgriep-onder-eende-pelikane-meeue-in-wes-kaap/
Steyn, T. (2026) Pasop vir hondsdolheid hierdie vakansie
https://proagri.co.za/pasop-vir-hondsdolheid-hierdie-vakansie/