Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 17th November 2025

Pasop vir hondsdolheid hierdie vakansie

By 6 min read
1107 words

pexels-trinitykubassek-313979

Met die somervakansie op hande word die publiek ernstig gewaarsku teen hondsdolheid wat in troeteldiere en wilde diere kan voorkom. Die dodelike, staatsbeheerde en aanmeldbare siekte kom selfs in die Kaapse pelsrob voor en vakansiegangers aan die Kaapse strande word veral gemaan om enige kontak met hierdie diere te vermy.

’n Dodelike, maar voorkombare siekte

Hondsdolheid is ’n virussiekte wat die brein van alle soogdiere, mense ingesluit, aantas. Die virus word deur speeksel oorgedra wanneer ’n dier of ’n mens deur ’n besmette dier gebyt, gekrap of gelek word. In 2025 is daar verskeie sterftes onder mense aangemeld wat deur besmette honde in KwaZulu-Natal, Limpopo en die Oos-Kaap gebyt is.

Die siekte is dodelik maar kan voorkom word deur troeteldiere gereeld daarteen in te ent. As ’n mens in gevaar is, moet mediese hulp onmiddellik gekry word. Die publiek word dus aangeraai om weg te bly van rondloperdiere en nie aan hulle te raak nie. Enige vermoede van ’n hondsdoldier moet onmiddellik by die staatsveearts, polisie of plaaslike welsynsorganisasie aangemeld word.

Hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe

Die siekte is nou ook endemies onder Kaapse pelsrobbe, met gevalle wat toenemend langs die Weskus en Suidkus tot by Algoabaai aangemeld word.

Robbe lyk dalk mak, maar hulle kan baie gevaarlik wees omdat hulle nie net hondsdol kan wees nie, maar ook ander siektes aan mense kan oordra. Boonop kan hul skerp tande ’n ernstige bytbesering veroorsaak.

“Ons herinner vakansiegangers daaraan dat robbe wilde diere is,” sê dr. Ashley Naidoo, uitvoerende hoof van CapeNature. “Selfs goedbedoelde interaksie kan ernstige gevolge hê vir mense én die diere.”
Dr. Naidoo versoek besoekers om ’n veilige afstand te hou, geen robbe aan te raak nie, en onmiddellik abnormale gedrag by robbe by die owerhede aan te meld.

Hoe lyk ’n hondsdoldier?

Diere wat met hondsdolheid besmet is, toon abnormale gedrag, wat insluit dat hulle kwyl, verlamming ontwikkel, nie kan sluk nie, onophoudelik blaf of tjank, aggressief raak, oënskynlik hulle vrees vir mense verloor en jou nader, of hul bewussyn verloor.

Enige soogdier kan besmet raak, van honde, katte en vee tot jakkalse, muishonde, vlakvarke en Kaapse pelsrobbe. In Namibië word selfs koedoes besmet.

Troeteldiere moet teen hondsdolheid beskerm word deur inenting. (Bron: Pixabay)

Wat om te doen as jy gebyt of gekrap word

Indien ’n dier jou byt, krap of op jou slymvliese lek, moet jy eerstens die wond of slymvlies dadelik met seep en lopende water minstens 15 minute lank uitwas en dan so gou moontlik by ’n kliniek of hospitaal uitkom vir behandeling.

Die hospitaalpersoneel sal bepaal of jy verdere behandelings soos ’n reeks inentings nodig het, of in ’n ernstige geval, die toediening van hondsdolheid-immunoglobulien in die wond. Hierdie behandeling voorkom infeksie met die virus, mits dit vinnig genoeg toegedien word.

Beskerm jou troeteldiere

Die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) bepaal dat alle honde en katte teen hondsdolheid ingeënt moet word. Wanneer jy met jou troeteldiere reis moet jy seker maak hulle inentings is op datum en dat jy hul inentingsboekies byderhand hou.

Honde wat die huis/tuin verlaat moet altyd aan ’n leiband wees of onder beheer gehou word om kontak met rondloperdiere, wilde diere of selfs robbe op die strand is, moet voorkom.

In geval van ’n robaanval op die strand

Indien iemand op die strand deur ’n rob beseer word, sal die strand onmiddellik gesluit word. ’n Haaisirene sal geaktiveer en ’n haaivlag gehys word om die publiek te waarsku. Reddingspersoneel of lewensredders sal CapeNature en die staatsveearts onmiddellik in kennis stel, die rob se bewegings dophou, en die strand eers weer heropen wanneer die dier verwyder is of self padgegee het.

’n Persoon wat deur ’n rob beseer is, moet die wond was en hospitaal toe gaan, soos hierbo verduidelik. Indien moontlik, moet omstanders ’n video van die rob se gedrag neem en die video met ’n GPS-pin aan CapeNature stuur by 083 236 2924 sodat die voorval opgevolg kan word.

As jou troeteldier deur ’n rob gebyt word, raadpleeg dadelik die staatsveearts met die besonderhede van die voorval en die troeteldier se inentingsgeskiedenis.

Besoekers aan Kaapse strande moet wegbly van Kaapse pelsrobbe wat moontlik met hondsdolheid besmet kan wees. (Bron: Scott Ramsey, CapeNature)

Wetgewing beskerm robbe én mense

Volgens die Nasionale Wet op Omgewingsbestuur: Wet op Biodiversiteit (Wet 10 van 2004) (Nemba) en die regulasies vir bedreigde of beskermde spesies (Tops), is dit onwettig om robbe te pla of hulle aan te raak sonder ’n permit.

Selfs wanneer ’n robwelpie alleen op ’n strand voorkom, moet mense wegbly – kontak eerder opgeleide owerhede wat weet hoe om met die diere te werk.

Hoewel dit normaal is dat robbe soms op die strand rus, kan hulle verdedigend optree as hulle bang of seergemaak is. ’n Rob met hondsdolheid kan aggressief of gedisoriënteerd wees, wat ’n duidelike teken is om weg te bly.

Swemmers en branderplankryers moet ook waaksaam bly. As jy ’n rob in die water sien, verlaat dadelik die see en rapporteer dit aan die lewensredders of die munisipale owerhede.

Waar kom hondsdolheid in Suid-Afrika voor?

Hondsdolheid kom in al nege provinsies voor, maar is die algemeenste in die oostelike dele van die land, naamlik KwaZulu-Natal, Limpopo, die Oos-Kaap en die oostelike Vrystaat. In Mpumalanga is die siekte klaarblyklik tans hokgeslaan.

Omdat mense hul honde en katte veral gedurende vakansietye tussen provinsies vervoer, kan diere wat nie ingeënt is nie maklik die virus oordra en nuwe uitbrekings veroorsaak.

’n Gemeenskaplike verantwoordelikheid

Volgens dr. Ben du Plessis, adjunk-direkteur vir dieregesondheid in Mpumalanga, het dekades se volgehoue inentingsveldtogte die voorkoms van hondsdolheid in die provinsie wesenlik beperk. Dit kan waarskynlik aan die nougesette inentingsveldtogte toegeskryf word wat voorkom het dat die siekte nie in die Krugerwildtuin posgevat het nie.

“Ons het sedert 1985 gesien dat deur-tot-deur inentings en veldtogte by kommunale dipbakke, op plase en by diereklinieke ’n groot verskil maak,” sê hy. “Wanneer gemeenskappe saamwerk, kan ons die voorkoms en verspreiding van hondsdolheid beperk.”

In Suid-Afrika is daar twee hoofsoorte hondsdolheidvirusstamme wat albei na soogdiere en mense oorgedra kan word:

•die Canid-tipe, wat deur honde en jakkalse versprei word, en
•die Viverrid-tipe, wat hoofsaaklik deur die witkwasmuishond versprei word.

Voorkoming bly die sleutel

Die beste beskerming teen hondsdolheid is steeds voorkoming – deur inenting, opvoeding en waaksaamheid.

“As al die honde en katte in jou buurt teen hondsdolheid ingeënt is, vorm hulle ’n beskermende muur wat jou gesin én jou troeteldiere veilig hou,” sê dr. Du Plessis.

Hoewel hondsdolheid 99,9% dodelik is sodra simptome verskyn, is dit ook 100% voorkombaar as die regte stappe betyds geneem word.

Vir meer inligting oor die behandeling en voorkoming van hondsdolheid, besoek die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se webwerf by www.nicd.ac.za/diseases-a-z-index/rabies

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0