Voëlgriep onder eende, pelikane, meeue in Wes-Kaap

Image 2
‘n Klomp witpelikane het in die Malmesbury-omgewing van voëlgriep gevrek. (Bron: https://agrinews.co.za/bird-flu-resurfaces-western-cape-on-alert/)
Die Wes-Kaapse departement van landbou het ‘n dringende waarskuwing uitgereik oor hoog patogene avian influenza (HPAI) wat in die provinsie uitgebreek het.
‘n Uitbreking van die virus wat dodelik is vir voëls, maar ook na soogdiere en mense kan versprei, is begin Julie by mak eende op ‘n plaas in die Paarl-omgewing aangemeld. Die eerste vrektes onder wilde voëls, naamlik witpelikane naby Malmesbury en Hartlaub-meeue (sterretjies) in die omgewing van Kaapstad, is sedert April aangeteken.
Dit is die eerste grootskaalse vrektes weens voëlgriep in die Wes-Kaap sedert 2022.
Die Wes-Kaapse departement van Landbou het die nuwe uitbreking in ‘n mediaverklaring onder pluimveeboere en die publiek se aandag gebring.
Die verklaring bevestig ‘n uitbreking van voëlgriep onder eende en hoenders op ‘n plaas by die Paarl. Eende word soms op wingerdplase gebruik om plae soos slakke te beheer. Die eende en hoenders is op humanitêre wyse van kant gemaak.
‘n Uitbreking het ook ‘n groot aantal pelikane naby Malmesbury en meeue in die omgewing van Kaapstad laat vrek. Dit is die eerste voorval van die siekte onder wilde voëls in die Wes-Kaap sedert 2024, en die eerste massavrektes sedert 2022.
Die uitbreking volg op onlangse brekings onder hoenders in Noordwes en Mpumalanga.

‘n Aantal van Hartlaub se meeu, oftewel sterretjies, het in die Kaapstad-omgewing van voëlgriep gevrek. (Bron: https://agrinews.co.za/bird-flu-resurfaces-western-cape-on-alert/)
Hoogs aansteeklik
Voëlgriep is ‘n virussiekte wat hoofsaaklik voëls aantas. Besmette wilde voëls mag mak voorkom want hulle verloor hulle vrees vir mense, en kan neurologiese simptome soos stuiptrekkings vertoorn. Die virus is in die voëls se liggaamsvloeistof, mis en vere versprei na ander voëls deur direkte kontak of besmette voorwerpe.
Elders in die wêreld is die siekte na soogdiere, soos koeie in die VSA, en ‘n aantal mense oorgedra. Die verklaring se daar is tans geen bewyse dat die virus direk tussen mense oorgedra word nie, maar ‘n persoon kan besmet raak as hulle siek of dooie diere sonder beskermende klere hanteer. Enige voorvalle moet onmiddellik by die owerhede aangemeld word.
Die verklaring verseker ook dat pluimveeprodukte op winkelrakke veilig is vir menslike gebruik.
Biosekerheidsmaatreëls
Die Wes-Kaapse regering het die publiek en landbousektor se samewerking versoek om die verspreiding van die siekte te voorkom. Dit kan gedoen word deur streng toepassing van biosekerheidsmaatreëls.
Dit sluit in:
- Moenie iemand wat die vorige 48 uur kontak met pluimvee gehad het op die pluimveeplaas toelaat nie.
- Vermy kontak tussen pluimvee en die liggaamsvloeistof, mis of vere wilde voëls deur ‘n heining, skerm of nette.
- Voorkom dat die virus na die pluimvee oorgedra word deur besmette klere, skoene, voertuie of toerusting.
- Voertuie moet by aankoms en vertrek ontsmet word.
- Ontsmet skoene voor en na betreding van die hoenderhok.
“Deur waaksaam te wees en saam te werk, kan die verdere verspreiding van voëlgriep voorkom word, nie net om ons voëls, die pluimvee bedryf te beskerm nie, maar ook gemeenskappe.
Meld aan
HPAI is ‘n aanmeldbare en beheerde siekte in terme van die Dieresiektewet van 1984 en dit is belangrik dat enige simptome dadelik by die naaste staatsveearts aangemeld word. Vir meer inligting: https://www.elsenburg.com/services-and-programmes/veterinary-services-0#s=Animal-Health-and-Disease-Control.
Dit is ook belangrik dat siek of dooie wilde voëls wat saam in ‘n groep aangetref word, of individuele siek of dooie voëls soos roofvoëls wat op hul gewoonlik op hulle eie voorkom, by https://arcg.is/1585011 aangemeld word.
Bronverwysings
Lemmin-Woolfrey, U. (2020) A Parade of 2,000 Ducks Keeps a South African Vineyard Running
https://www.atlasobscura.com/articles/duck-pest-control
Bird Flu Resurfaces: Western Cape on Alert as Avian Influenza Cases Rise https://agrinews.co.za/bird-flu-resurfaces-western-cape-on-alert/