Categories: Nuus, Pluimvee, Vee en WildPublished On: 24th March 2026

Voëlgriep maai onder Kaapse seevoëls

By 8 min read
1561 words

Picture5

Slegs persone wat amptelik toegelaat word, en dan ook met behoorlike beskermende klere, mag siek of dooie voëls verwyder. (Bron: Sanccob)

‘n Uitbreking van voëlgriep, oftewel hoogs patogene avian influenza (HPAI) maai onder seevoëls by die Soutriviermond in Melkbosstrand. Met die Aprilvakansie om die draai is dit goed vir besoekers – en inwoners – om kennis te neem van die situasie.

Verskeie seevoëls word hierdeur geraak, maar veral geelbeksterretjies (Sterna bergii) en Hartlaubse meeue (Chroicocephalus hartlaubii) word geraak, asook ander skaars en bedreigde voels soos die Kaapse pikkewyn (Spheniscus demersus).

‘n Toename in die voorkoms van die gevreesde siekte, wat voëls, soogdiere en mense aantas, is onlangs deur Sanccob (South African Foundation for the Conservation of Coastal Birds) aangemeld. Meer as 1 000 seevoëls, asook ten minste nege van die kritiek bedreigde Afrika-pikkewyne het sedert Julie verlede jaar van voëlgriep gevrek.

Sanccob-veldwagters, in samewerking met Blaauwberg Natuurreservaat, wat Quemic-sekuriteitsmaatskappy aangestel het om ook te help, verwyder siek en dooie voëls van die gebied om te voorkom dat die siekte na ander kwesbare spesies uitbrei wat hulle kan laat uitsterf.

Altesaam 26 moontlike voorvalle van voëlgriep by die Kaapse pikkewyn (ook bekend as Afrika- of Suid-Afrikaanse pikkewyn) het tussen 21 September en 24 Oktober verlede jaar voorgekom, waarvan nege gevalle positief vir voëlgriep getoets is. Hierdie pikkewyne is by Boulders-strand, Gordonsbaai, Rooi Els en Strandfontein in Valsbaai, Blouberg en Yzerfontein aan die Weskus, en Arniston in die Overberg gevind.

Sover bekend het meer as 1 400 seevoëls sedert 2025 van die siekte gevrek. Benewens geelbeksterretjies en Hartlaubse meeue, het wit pelikane (Pelecanus onocrotalus), gryskopmeeue (Chroicocephalus cirrocephalus), swartrug- of kelpmeeue (Larus dominicanus), witborsduikers (Phalacrocorax carbo lucidus),

kuifkopduikers (Microcarbo coronatus) en skoorsteenveërs (Threskiornis aethiopicus) ook gevrek. Mak hoenders en eende is ook geraak.

Plekke waar ander seevoëls met voëlgriep voorgekom het. (Bron: Sanccob)

Meer oor voëlgriep

Voëlgriep (HPAI) is die eerste keer op ‘n plaas in Asie aangemeld. Dit is ‘n virussiekte wat evolueer en nuwe stamme ontwikkel en nie net mak voëls nie, maar ook wilde voëls, soogdiere wat op land en in die see leef en selfs ook mense aantas.

Die virus word versprei wanneer ander voëls, soogdiere en mense in aanraking kom met die mis of druppels van die neus of bek van besmette voëls, asook aanraking met die liggaamsvloeistowwe van siek of dooie voëls.

Die siekte kan groot vrektes onder wilde en mak voëls soos hoenders, ganse, eende en volstruise veroorsaak. In die VSA het die sieke versprei na melkbeeste en selfs katte wat die besmette melk gedrink het. Die vrektes lei tot ernstige finansiële verliese want gewoonlik word al die pluimvee op ‘n besmette plaas van kant gemaak.

H5N8, H5N1

In 2018 het ten minste 7 500 seevoëls van ‘n stam van die H5N8-virus gevrek, en bykans 25 000 het in 2021-2022 van ‘n stam van die H5N1-virus omgekom.

Geelbeksterretjies is in 2018 die swaarste getref, terwyl die bedreigde Kaapse kormorant in 2021 en 2022 die ergste deurgeloop het. Ten minste 1 000 van die Afrika-pikkewyne het in Suid-Afrika en Namibië omgekom.

In Julie 2025 is ‘n toename in siek en dooie Hartlaubse  meeue rondom Kaapstad aangemeld en laboratoriumtoetste het die voorkoms van H5N1 is onder die meeue en witpelikane bevestig. Dit was die eerste voorvalle van wilde voëls in die Wes-Kaap wat met die virus besmet is en die eerste massavrektes sedert laat 2022. Sedert Junie 2025 was daar talle gevalle onder wilde voëls en pluimveeboerderye.

In die Wes-Kaap is vier kommersiële pluimveeplase met hoenders, ganse en eende sedert April 2024 besmet. Die mees onlangse uitbreking het vroeg in Oktober voorgekom. Uitbrekings het ook voorgekom op ses persele waar pluimvee of mak voëls aangehou is, terwyl meer as 1 000 besmette wilde voëls aangemeld is. Die spesies sluit Hartlaubse meeue in die Kaapstad omgewing en geelbeksterretjies langs die Weskus in. Al is dit moeilik om die uiteinde van die uitbreking te bepaal, is dit belangrik dat wilde voëls moniteer word om tred te hou met hoe die siekte ontwikkel.

Voëlgriep-besmetting onder wilde voëls veroorsaak  breinskade wat tot abnormale gedrag kan lei. Besmette voëls kom gevolglik onnatuurlik mak voor en vlug nie wanneer mense nader kom nie. Hulle kan ook stuiptrekkings toon.

Verspreiding  van die virus

Onder voëls word die virus versprei wanneer hulle druppels uit ‘n besmette voel se neus/snawel inasem, of met die mis of ander besmette voorwerpe in aanraking kom. Mense wat in aanraking met besmette voëls was kan die virus versprei deur hulle gekontamineerde hande, klere of enige ander voorwerp wat aan die siek voel geraak het. Roofdiere wat dooie voëls vreet kan ook besmet raak en die virus versprei.

Waar mense in ander lande besmet geraak het, het hulle gewoonlik nie te ernstig siek geraak nie.

Beskerm jouself

Beskerm jouself, jou gesin en jou troeteldiere deur kontak met siek of dooie voëls te vermy.

  • Moenie siek of dooie voëls sonder toestemming  van owerhede hanteer nie.
  • Hou jou troeteldiere weg van siek of dooie voëls.
  • Hou jou hond op ‘n halsband wanneer julle strand toe gaan.
  • Hou sover moontlik pluimvee of jou mak voëls soos parkiete of budjies  weg van wilde voëls se mis.
  • Verhoed dat wilde voëls jou troetelvoëls se water of kos kontamineer.
  • Gaan sien jou dokter wanneer jy griepsimptome soos ‘n koors, hoes, seer keel of seer oë binne 10 dae nadat jy met ‘n siek of dooie voel kontak gehad het toon. Vertel jou dokter dat jy dalk aan voëlgriep blootgestel was.

Na kontak met ‘n siek of dooie voël

  • Verwyder enige voëlmis of ander liggaamsvloeistowwe met ‘n weggooi-papiervadoek.
  • Was jou hande met seep en water of ‘n handwasmiddel met alkohol in.
  • Verpak enige items wat met die siek/dooie voel in aanraking was in ‘n plastieksak en oorhandig aan wie ook al die voel kom haal.
  • Oppervlakke wat besmet kan wees moet met seep en water gewas en met 120 ml bleikmiddel in ‘n liter water ontsmet word.
  • Was jou hande nadat jy alles skoongemaak het.
  • Trek skoon klere aan en was jou hare voordat jy met ander voëls in kontak kom.
  • Was klere wat dalk aan besmette voëls blootgestel was en droog in die son of in ‘n tuimeldroër.

Boere

Boere en veral pluimveeboere moet streng by biosekerheidsmaatreëls hou om te voorkom dat die virus versprei.

  • Voorkom toegang tot plase sover moontlik – moenie persone wat gedurende die afgelope 48 uur kontak met besmette pluimvee gehad het.
  • Hou pluimvee weg van mis of liggaamsvloeistof van wilde voëls wat by heinings, nette of skerms kan beland.
  • Voorkom dat pluimvee besmet kan raak deur gekontamineerde klere, skoene, voertuie of ander toerusting.
  • Ontsmet voertuie wat die plaas binnekom en voordat dit die plaas verlaat, en ontsmet skoene voor en nadat jy die hokke betree.

Sanccob se rol

Sanccob, ‘n organisasie sonder winsbejag, is op die voorpunt van die stryd teen voëlgriep in die Kaapstadomgewing.

Hulle doel is om seevoëls in hulle seevoëlhospitale teen die virus te beskerm, bewaringsowerhede te ondersteun en die uitwerking van die siekte onder wilde voëls te moniteer om hulle welstand te verseker. Die instansie werk nou saam met staatsveeartsenydienste.

Hoe kan die publiek help?

  • Meld enige siek of dooie voëls aan wat jy teenkom aan.
  • Moenie self die voel aanraak, voer of probeer red nie.
  • Staan ten minste ‘n meter weg van die voël en let op die volgende:
  • Die presiese posisie van die voël (GPS-koördinate, of die straatadres. Teken aan op Google-kaarte of stuur ‘n verwysingspennetjie (pin).
  • Teken die datum en tyd aan.
  • Identifiseer die spesie as jy kan.
  • Teken enige simptome soos stuiptrekkings, onnatuurlike mak gedrag, dowwe oë aan.
  • Teken aan hoeveel geaffekteerde voëls daar is.
  • Neem ‘n video of foto’s van die voël(s).
  • Meld aan by https://arcg.is/1585011
  • Meld drie of meer dooie voëls aan by die munisipaliteit, CapeNature, SANParks, of die grondeienaar sodat die voëls veilig verwyder kan word.
  • Siek voëls kan nie gered word nie. Die owerhede sal sorg dat die siek voëls op ‘n humanitêre wyse van kant gemaak word en dat dooie voëls veilig vernietig word.

Meld siek of dooie voëls aan

Meld moontlike gevalle van voëlgriep in die omgewing van Kaapstad aan https://survey123.arcgis.com/share/d5791b63ab65422ead648e64bff3238d

Vir meer inligting oor voëlgriep hier  https://ocims.environment.gov.za/AvianInfluenza.html

Melk enige moontlike voëlgriepgeval op plase by ‘n staatsveearts aan https://www.elsenburg.com/services-and-programmes/veterinary-services-0#s=Animal-Health-and-Disease-Control

Bronverwysings

Avian Influenza detected in Western Cape: Public urged to stay alert, not alarmed (2026) CapeNature

https://www.capenature.co.za/news/2025/avian-influenza-detected-in-western-cape-public-urged-to-stay-alert-not-alarmed

Bird Flu Outbreak Affects African Penguins 2025 Sanccob

https://sanccob.co.za/news/bird-flu-outbreak-affects-african-penguins/?fbclid=IwY2xjawPceTZleHRuA2FlbQIxMABicmlkETFOSEs0MlphMHlEdHNUVWljc3J0YwZhcHBfaWQQMjIyMDM5MTc4ODIwMDg5MgABHoMy9uLPRw-vRgqBS7c9y4TsL4Gdh2zUG-E-gF_NCnR-v13wSCMKsdTSM_0O_aem_WoaBYuDJYo-wB2J5rqkeZw

Putol, R. (2026) Bird flu is spreading rapidly in seals and sea lions, raising global alarm Earth.com

https://www.earth.com/news/bird-flu-is-spreading-rapidly-in-seals-and-sea-lions-raising-global-alarm/

Rangers intervene to combat Bird Flu crisis at Melkbosstrand (2026) Cape Town etc

https://www.capetownetc.com/conservation/rangers-intervene-to-combat-bird-flu-crisis-at-melkbosstrand/

Rhoda, A. (2026) Penguin Awareness Day: SANCCOB spotlights bird flu threat Cape Town etc

https://www.capetownetc.com/conservation/penguin-awareness-day-sanccob-spotlights-bird-flu-threat/

Seabird avian influenza reporting dashboard, Department of Forestry, Fisheries and the Environment https://dea-surveys.maps.arcgis.com/apps/dashboards/608a9c99f45c4be38bd7240cd853c113

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0