ProAgri SA 290

Proagri_290_April_2024_Internal link
Wolke van belofte steek oor verskeie dele van ons land op met berigte van goeie reën wat die afgelope week oor ‘n wye gebied geval het. Die afgelope paar maande is gekenmerk deur prysskommelings en boere hou asem op oor die uitwerking van die heersende El Niño-seisoen op hulle graangewasse.
In sommige dele van die Suid-Kaap het dit gereën, die veld is nat en die planters staan gereed. Maar te veel reën kan die plantery in die wiele ry. Is onsekerheid dan nou ál wat seker is?
Ons dink aan ons medeboere hierdie komende seisoen, waar sommiges regmaak vir strooptyd en ander voorbereiding doen vir die winter.
Tussendeur die bittersoet wat boere in die gesig staar, is daar opgewondenheid oor die komende 56ste NAMPO oesdag wat plaasvind van 14 tot 17 Mei 2024 te NAMPO-park, Bothaville. Net soos die hordes uitstallers en organiseerders, is ons ook gerat om die nuutste neigings en ontwikkelings wat aangebied word aan ons lesers bekend te stel.
Die tema van NAMPO 2024: “Landbou in ’n Digitale Era” eggo Suid-Afrikaanse boere wat toenemend die belangrikheid van rekenaarverbindings erken om doeltreffendheid, volhoubaarheid en welvaart in boerderypraktyke te bevorder. Soos gewoonlik sal die gewilde veeafdeling weer uit sy nate bars met ou gunstelinge se demonstrasies en uitstallings.
Wat is nuut? Wel, soos altyd is daar iets vir almal by NAMPO en vanjaar selfs nog meer. Van splinternuwe koservarings tot die gewilde vroueprogram en ‘n nuwe afdeling vir die Boereplanne-kompetisie. Baie uitstallers is besig om hulle uitstallingsaanbiedinge op te gradeer en uit te brei en die nuut bygevoegde Midas-saal aan die suidoostelike kant van die park huisves ’n bykomende sestig binnenshuise uitstallers.
Kaartjies is beskikbaar by TicketPro (www.ticketpros.co.za) met afslag op toegangsfooie vir aanlynaankope. Hekke open om 07:00 en sluit om 17:00. Vir meer inligting, besoek NAMPO se webwerf by www.nampo.co.za of laai die NAMPOtoep van jou voorkeuraanlynwinkel af.
Ons sien daarna uit om weer skouers te skuur met al ons boere en klante by NAMPO 2024. Sien julle daar!
ProAgri-groete!
Bianca Henning
bianca@proagri.co.za