Pioneer: Kuilvoer: Snyvenster-voorspelling

Mieliekuilvoer is die belangrikste deel van ‘n gebalanseerde voerkraal- of melkeryrantsoen. Die stysel in mieliekuilvoer is die energiebron van die rantsoen, en ook die goedkoopste vorm van stysel.
Van die belangrikste faktore vir goeie kwaliteit kuilvoer is:
- Sny teen die regte vogpersentasie, met ander woorde die droë materiaal waarde;
- Bunkerkompaksie; en
- Die tydsduur vanaf kerf tot toemaak van die kuilvoerbunker, met ander woorde die afsluit van suurstof.
Die belangrikste faktor is egter die regte tyd vir kerf en kuilvoer maak. Pioneer Saad het die afgelope 3 jaar ondersoek ingestel na die gebruik van ‘n kuilvoermodel om snytyd te voorspel vir Suid-Afrikaanse kuilvoerprodusente. Om die prentjie beter in te kleur is dit nodig om ‘n tree terug te gee, en net eers na die agtergrond van snytyd te kyk.
Melklyn
Om te bepaal wanneer die regte tyd is om mielies te sny, is dit nodig om vas te stel waar die melklyn op die kop is. Dit bly die maklikste, uit-die-bakkie-op-die-land manier om snytyd vas te stel. Die ideaal is om te sny vanaf 50% melklyn. Teen 50% melklyn behoort die droë materiaal (DM – waarde) 35% DM te wees.

Wat is die nadele verbonde aan die melklyn-bepaling?
- Spilpunte is gewoonlik homogeen en maklik, maar droëlande is nie so eenvoudig nie.
- Fisiese landinspeksies vanaf dag 95 behoort 5-daagliks plaas te vind, en nader aan 50% melklyn moet inspeksies 3-daagliks gedoen word.
- Op droëland is daar heelwat variasie tussen grondvorms en potensiale, en selfs meer waar kontoere ter sprake is.
Dit bly noodsaaklik om steeds die DM toets in ‘n lugbraaier of mikrogolfoond te doen. Dit bevestig hoe akkuraat die melklyn bepaal is. Die “air fryer” toets is ‘n standaard manier wat gebruik word om DM vas te stel, en neem gewoonlik 30- tot 35-minute per monster.
Goeie gehalte- en homogene kuilvoer
Goeie gehalte- en homogene kuilvoer verhoog voerinname. Die gehalte en homogeniteit verminder pH-fluktuasies in die rumen. Veranderlike pH’s veroorsaak dat die diere meer tyd spandeer aan herkou om die pH te stabiliseer, wat lei tot verminderde voerinname en swakker groei of lae melkproduksie. Vra jouself af of, as jy die dier was, jy die smaakliker of minder smaaklike voer sou vreet? Jou hoofdoel as bestuurder is om maksimum voerinname te verseker.
Snytydvenster-voorspelling
- Wat is die doel agter die gebruik van Granular Link om die snytydvenster te voorspel? Dis ononderhandelbaar om beter gehalte en meer homogene kuilvoer in die bunker te kry.
- Dit verminder die logistieke nadele van land-evaluasies ten opsigte van melklynbepaling.
- Jy gaan nie fisiese melklyn-bepaling weggooi nie, maar dit eerder net op die vooruitgeskatte datums doen.
- Deur dit só te doen, is ‘n addisionele kontrole wat jy vir jouself inbou om te verseker dat die model korrek is.
Die toekoms in kuilvoerproduksie
Die model gebruik satellietbeelde vanaf dag 1, maar voorspellings vind eers plaas vanaf die 60ste dag na aanplanting. In die meeste gevalle begin ons ultra-vinnige basters in Suid- Afrika sny vanaf 106 dae, wat beteken dat die model die skattings binne die daaropvolgende 50-70 dae bepaal.
Die aanbeveling neem die volgende in aanmerking:
- Die mieliebaster wat geplant is (groeilengte)
- Die beskikbare landinligting (NDVI en ander indekse)
- Effektiewe worteldiepte (gronddiepte)
- Die weerdata tydens die groeisiklus
- Plantestand
- Besproeiing of droëland
Aanbeveling
Met alles in die vorige paragraaf in ag genome, word ‘n snyvenster aanbeveel met verwysing na verskillende DM (droë materiaal) waardes.
| 32% | 35% | 38% |
| 09.03.2025 | 15.03.2025 | 23.03.2025 |
Wat is die voordele van die gebruik van die model?
- Jy kan in die gerief van jou kantoor jou snytyd begin beplan sonder om onnodige tyd op die landery self te spandeer.
- Melklyn-bepaling word dan net gebruik as bevestiging van die model se voorspelling.
- Snykontrakteurs kan voortydig bespreek word; die gehalte van die kuilvoer sal verhoog word deur dit nader aan die regte DM% te sny.
- 32% DM mag dalk net te nat wees om te begin sny, maar dit help om tydige beplanning te verbeter.
Droëland aanbeveling
Die toekoms in mielieverbouing in Suid- Afrika lê daarin om aan die tegnologiese voorpunt te wees en daar te bly. ‘n Verhoging in opbrengs vind plaas deur klein positiewe inkremente. Dis hoekom daar na presiese-verbouing oorgeskakel word, om die meeste uit ons beskikbare hulpbronne te kry.
Hoekom al die kostes en uitdagings van presisie-boerdery aangaan, en kuilvoersnytyd as minder belangrik te beskou? Dit is tyd om ‘n vars uitgangspunt oor die hantering van kuilvoer te vorm.
Een so ‘n voorbeeld is om gebruik te maak van Granular Link om jou snytyddatum te voorspel – dit verbeter die homogeniteit binne die kuilvoerbunker.
![]() Figuur 2: Die oorspronklike land as ‘n geheel gesny. |
![]() Figuur 3: Dieselfde land, verdeel in snydatums, op grond van groeikondisies om optimale DM% en homogeniteit in die bunker te kry. |

Figuur 4: Dieselfde land, verdeel in snydatums volgens satellietdata.
| 32% | 35% | 38% | |
| A | 23.03.2025 | 27.03.2025 | 30.03.2025 |
| B | 24.03.2025 | 29.03.225 | 02.04.2025 |
| C | 22.03.2025 | 27.03.2025 | 31.3.2025 |
In die voorbeeld (Figuur 4) is daar nie ‘n groot verskil tussen die kontoere nie, maar hoe steiler die kontoer en groter die grondverskille, hoe duideliker sal die verskille tussen die kontoere wees. Dit is duidelik dat as jy op 35% DM sou begin sny, jy eerder het aan Blok A, dan Blok C, sou begin sny, voordat Blok B sny, aangesien blokke A en C vinniger vog verloor as gevolg van omgewings-en grondverskille.
Die nadeel aan so ‘n presiese sny is dat die kuilvoerbunker naby die land moet wees, en dat jy van jou eie vervoer na die bunker gebruik moet maak. Indien jy vêr is, en of jy van ‘n kontrakteur gebruik maak vir vervoer, word die land voorspel as ‘n geheel. As mikotoksiene vir jou as melkprodusent belangrik is, sal dit
Uitdagings
Dis kardinaal om soveel moontlik data van verskillende mieliebasters in die model in te samel – veral die aantal dae tot blom, want die blomdatum is jou veiligheidsnet om te verseker dat die aanbeveling korrek is. Bestaande mieliebasters word deesdae baie vinnig vervang deur nuwer basters, elk met sy eie groeieienskappe.
Pioneer is besig om VT- en R6-data in die kuilvoersentra in die land te bepaal, wat ongetwyfeld toekomstige skattings sal verbeter.
Vir meer inligting, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com
Geskryf deur: Philip Fourie, Pioneer Landboukundige


Watter Pioneer kultivars is die beste om te plant vir kuilvoer?
Hi – Dankie vir jou navraag. Vir meer inligting oor Pioneer kultivars, kontak Pioneer by info.rsa@pioneer.com