Ontvangers gee terug uit eerste oes in sewe jaar

Voer 1
Boere tussen Oudtshoorn en Calitzdorp het vier vragte van die voer wat hulle vir die eerste keer self na sewe jaar se droogte kon oes, aan boere in Noordwes geskenk. Foto: Verskaf
“Woorde kan nie ons dankbaarheid beskryf nie. ’n Mens staan verstom oor hoe God steeds vir sy kinders sorg. Baie dankie dat julle ‘n instrument in Sy hand is!”
So skryf Gerbie en Lizanne Haasbroek, boere van Stella in Noord-Wes, nadat voer uit die Klein-Karoo in die Vryheid-omgewing afgelewer is by boere wat sedert Augustus feitlik al hulle weiding en ‘n onbekende aantal beeste in verwoestende veldbrande verloor het.
Vier vragmotors met sleepwaens, hoog gelaai met bale voer is deur ‘n klompie boere tussen Oudtshoorn en Calitzdorp gestuur.

Bale voer wat geskenk is bied noodsaaklike uitkoms vir die boere wat hul weiding verloor het.
Dié boodskap is maar een van talle boodskappe van dankbaarheid en waardering van boere in die omgewing wat hulpeloos moes aanskou hoe wegholveldbrande, aangehelp deur sterk winde, sowat 840 000 ha weiding, infrastruktuur en plaaswerktuie ter waarde van R1 miljard verwoes. Die skade aan vee en wild is nog nie bereken nie, maar sal na verwagting ook enorm wees.
Links: So het die veld gelyk voordat die brande in Augustus begin woed het. Regs: So lyk dit nou na maande se veldbrande.
Eerste oes in sewe jaar
Colin Pote is een van sowat 20 boere wat in die omgewing van Die Bad, ‘n warmwaterbron tussen Oudtshoorn en Calitzdorp, op die oewers van die Olifantsrivier boer. Hy het die inisiatief geneem om boere te nader om voer te skenk.
“Toe ons deur die uitgerekte droogte moedeloos was, het mense wat ons nie ken nie vir ons voer geskenk,” sê Colin. “Die afgelope ses maande het dit goed gereën en ek het besluit dat dit na ons eerste oes in sewe jaar tyd is om terug te gee.”
In dié gebied waar die grond arm en die grondwater brak is, plant die boere hoofsaaklik lusern vir saad en voer vir vee soos volstruise, skape en beeste wanneer daar die vooruitsig van ‘n leibeurt uit die Kammanassiedam is. Indien nie, word hawer en gars met die genade van ‘n reënbui of twee geplant.
Colin het Saai gekontak wat bepaal het waar die nood groot is en Saai en AfriForum se Manna vir Boere-projek het die vervoerkoste betaal.

Die voer is op twee sentrale punte afgelaai vanwaar dit na die onderskeie plase geneem is.
Manna vir Boere
Volgens Iné Bester van Saai het hulle op hulle Manna vir Boere-netwerk bepaal waar die nood groot is, maar wat ook nie so ver is dat die vervoerkoste die waarde van die geskenkte voer oorskry nie. Daar is gereël dat twee vragte voer by Vryburg en nog twee by Reivilo afgelaai word.
“Ons verkies om vir gemeenskappe te skenk eerder as individuele boere, dit maak die logistiek en reëlings net soveel makliker,” verduidelik Iné “As daar ‘n enkele boer is wat bel sal ons kyk hoe ons sy gemeenskap kan mobiliseer of hom betrek by ‘n gemeenskap wat noodhulp gaan ontvang, maar ons werk maar met geval tot geval om te sien hoe ons die beste hulp kan bied.”
Wonderwerke
Gawie Colyn was Saai se kontakpersoon op Reivilo. “Ons het 102 groot ronde bale gekry en dit aan 34 boere in ons omgewing uitgedeel,” vertel hy.
“Dit lyk maar rof hier: Party boere het darem reën gekry en die groen grassies kom al uit, maar daar is boere by wie dit nog nie gereën het nie. In ons klein boerevereniging van 24 lede het dit net by twee lede nie gebrand nie, maar ek weet nie wat die skade by nie-lede is nie.”
Evie Nel, ‘n vroueboer in die omgewing, vertel: “Ons is ‘n klein gemeenskap hier in die Lykso-omgewing tussen Vryburg, Kuruman en Reivilo, maar ons boere het groot harte, want as dit by een brand, is almal daar om te help.
“Ek het gebid en gevra dat dit asseblief nie hier op ons plase sal brand nie, maar nadat ons twee weke lank elke dag die vuur probeer keer het, het die vlamme een Sondagmiddag die oorhand gekry en ons plase van gras gestroop. Ons is meestal beesboere en ek het magteloos gestaan en kyk toe die vlamme met ‘n spoed kom. Ek het kliphard gebid dat daar asseblief net nie iemand in die brand sal omkom nie.
“Twee van ons wildkampe het gebrand en die vuur het ‘n gat deur die boma gemaak. Maar toe ons die volgende oggend gaan kyk, het niks van die wild gebrand nie – ek het vir my seun gesê dit is hoe ‘n wonderwerk lyk!
“Daardie aand het ‘n buurman gebel en gesê hy stuur ‘n groot vrag sojaboonreste. En ons Vastrap-boerevereniging het laat weet ons kan bale voer kom afhaal, want iemand het voer geskenk.
“’n Mens kan nie glo daar is soveel mense wat vir jou omgee nie! Dis wanneer jy wens jy kan jou hart uithaal en vir die skenkers die dankbaarheid wys. Ons bid dat God julle duisendmaal sal seën vir die voer wat elkeen vir ons gee. Ons dank ook God dat ons nie so baie diere verloor het nie. Nogmaals dankie vir al die voer wat die skenkers gestuur het – ons waardeer dit verskriklik baie.”
In die Vryburg-omgewing het sowat 840 000 ha in die slag gebly.
Miljard rand se skade
Stephanie Stols is ‘n boer van Stellaland. Sy is die uitvoerende voorsitter van Agri Vryburg, voorsitter van Agri Stellaland, en saam met Gideon van Zyl die vise-presidente van Agri Noordwes.
“’n Baie groot gebied rondom Vryburg het gebrand. Ek het al baie brande help bestry, maar ek het nog nooit soveel diere sien doodbrand of wat van kant gemaak moes word nie.”
Volgens haar duur die brande al sedert Augustus. “Dit het nog net nie opgehou nie. Die hitte en sterk winde was verwoestend en party dae het tot vyf brande tegelyk rondom Vryburg gewoed. Baie plase in die gebied het in die slag gebly. Nou in die reënseisoen veroorsaak die weerlig nog vure in die omgewing,” sê sy.
“Dit het nog nie gereën nie en net om die oorblywende diere kos te gee kos baie geld. Ons is baie dankbaar vir elke lid en die gemeenskap wat kom help het om die brande te bestry, die wat kos en koeldrank aangery het en Agri SA en Agri Noordwes wat voer geskenk of gereël het.

Na sewe jaar se droogte het die gebied in die omgewing van Die Bad, ‘n warmwaterbron tussen Oudtshoorn en Calitzdorp so gelyk.
“Ons bedank ook die landbougemeenskappe van heinde en ver wat voer geskenk het en diegene wat vir die vervoer betaal het. En dankie vir ons Vader wat ons krag gee om aan te gaan.”
Volgens Stephanie het altesaam 840 000 ha in die Vryburgomgewing afgebrand en die voorlopige skade aan diere, infrastruktuur, wat geboue, heinings en toerusting insluit beloop meer as R1 miljard. “Ek gaan probeer om die munisipale bestuurder te oorreed om vir die boere wat soveel skade gely het kwytskelding op grondbelasting vir die jaar te gee.”
- Die vee- en wildgetalle wat in die wydverspreide brande omgekom het is nog nie vasgestel nie.
- Skade aan infrastruktuur, geboue en plaaswerktuie beloop minstens R1 miljard. Waar kragdrade in die slag gebly het, was geen kommunikasie tussen die verskillende spanne wat die brand probeer bestry het moontlik nie.
Kontakbesonderhede
Saai: Ine Bester: ine@saai.org of besoek die webtuiste by https://saai.org/
Stephanie Stols: 072-227-4501 of stolsstephanie@gmail.com
Gawie Colyn: 072-341-6914




