Nuwe droëland geel Pioneer-kultivar: P29050PW

Pioneer geelmielie
Inderdaad is dit so dat meer witmielies as geelmielies in die westelike produksiegebied verbou word. Die verdeling in terme van droëlandproduksie is nagenoeg 70% wit en 30% geel. Opbrengs en prys speel die grootste rol hierin. In terme van opbrengs het witmieliekultivars tradisioneel die botoon gevoer, maar is tot ’n groot mate ingehaal deur geel genetika wat deesdae soortgelyk presteer.
Aanpasbaarheid, stabiliteit en veral graangehalte is moontlik die rede waarom wit kultivars uit ’n agronomiese oogpunt die meer gewilde keuse is. Die gentleman’s-ooreenkomste tussen aangrensende boere om kontaminasie tydens bestuiwing te voorkom, plaas ook druk op die keuse van kleur. Prys bly egter die grootste bepalende faktor. Pioneer ontwikkel deurlopend nuwe geel kultivars wat geskik is vir die uitdagings wat mielieverbouing in die westelike droëlandgebiede bied. Onder die Cortevasambreel het Pioneer toegang tot ’n wye verskeidenheid genetiese kombinasies en kiemplasma wat eindelose moontlikhede as oplossings bied.
Daar is tipies genetika met groeiperiodes van 123 tot 129 VRV (vergelykbare reproduktiewe volwassenheid). Agronomies is die kultivars meerkoppig, het goeie staanvermoë, en is aangepas by verskillende plantpopulasies, rykonfigurasies, asook verskeie grond en klimaatstoestande. Opbrengstabiliteit is duidelik ’n vereiste. Pioneer is bekend vir produkte met diverse genetiese agtergronde. Produkte soos P2362PW is ’n vinnige groeiperiode-geelkeuse (VRV: 123) wat die voordeel van vroeë lewering moontlik maak. In droë jare waar reën eers in laat Desember voorkom, is hierdie genetika kort genoeg om die moontlikheid van ontydige ryp voor stroop te vermy.
Dit beklemtoon dat Pioneer voortdurend genetika en oplossings ontwikkel – ook vir hierdie skynbaar kleiner komponent van die mark in westelike produksiegebiede. Die markbehoefte kan ook oornag verander na geel, en dit word erken. Prys en tendense in die mark bly egter die groot bepalers. Pioneer streef na oplossings vir ons boere en is gereed vir watter rigting die markbehoefte ook al inslaan. Teen hierdie agtergrond stel ek die nuwe Pioneer-droëland-geelproduk, P29050PW,voor as ’n opsie vir boere in die westelike produksiegebied.
Die swart lyn in Figuur 1 hierbo verteenwoordig P29050PW, gelykgestel aan nul in terme van kg/ha-verskil relatief tot ander kultivars. Die meerjarige data in die westelike produksiegebied toon dat P29050PW uitstekend presteer. P29050PW klop Kompetisie A rakelings met 33 kg/ha oor 20 lokaliteite. Dit is merkwaardig dat P29050PW topverkoper-geelkompetisieprodukte B en C onderskeidelik klop met 2 234 kg/ha (18 lokaliteite) en 1 807 kg/ha (14 lokaliteite). Dit dui op betekenisvolle genetiese vooruitgang om die geel marksegment te dien.

Figuur 1: P29050PW gelykgestel aan nul in terme van kg/ha-verskil relatief tot ander kultivars.
Relatief tot die Roundup-weergawe, P29050R, het P29050PW selfs 830 kg/ha (19 lokaliteite) beter presteer. Dit is ’n bewys dat die toevoeging van PowerCore™-tegnologie die produk betekenisvol bevoordeel het. PowerCore™ is ’n stapelgeenkombinasie wat die mielieplant beskerm teen mieliestronkboorder. Dit bied ook beskerming teen Roundup, wat dit geskik maak vir die meerderheid bestuurstelsels.
Die meerkoppigheidsindeks is 1,82. Koppe ontwikkel relatief gelyktydig, wat dui op ’n sterk uitdrukking van koppe op die hoofstam. Graangehalte is uitstekend ten spyte van die voorkoms van witdop (white capping). Saailinge is vinnig en eenvormig uit die grond, wat die fondament lê vir ’n top-oes. Staanvermoë is uitstekend. P29050PW het ’n relatiewe lang groeiperiode en gevolglik word aanbeveel dat die kultivar geplant moet word. Plantdatums ná 15 Desember moet eerder vermy word. Hierdie genetika is goed aangepas vir alle potensiaaltoestande, maar presteer veral op dieper gronde met goeie waterstoorkapasiteit. ’n Plantpopulasie van 21 000 tot 28 000 plante per hektaar word aanbeveel, afhangend van die potensiaaltoestande.
Die genetika presteer goed op alle grondtipes. Enige ry-konfigurasie (0,91, 1,15 en selfs 0,76 m) is aanvaarbaar. Plante is sowat 2,28 m lank, met koppe wat ongeveer 50% van die plantlengte gedra word. Met koppe wat op 1,14 m gedra word, is P29050PW maklik stroopbaar. Gesien teen die agtergrond van uitstekende opbrengs en agronomiese eienskappe, behoort P29050PW deel te vorm van enige geelmielie-kultivarpakket wat in die westelike produksiegebied vir droëlandverbouing geplant word – veral indien vroeë plantdatums moontlik is.

Vir meer inligting oor Pioneer se PowerCore™-tegnologie en mieliekultivars, gaan na www.pioneer.com/za of stuur ’n e-pos na info.rsa@pioneer.com
