Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 30th October 2024

Noord-Kaap blommeboer blom waar sy geplant is

By 3 min read
698 words

IMG-20241017-WA0104

Die reuk van die bloeisels hang vars in die lug met die koms van lente en die land begin kleur kry. Daar is niks so mooi soos hierdie tyd van die jaar nie, veral vir ՚n blommeboer van Douglas in die Noord-Kaap. Mareli Visser is ՚n skeppende vrou met vele talente. Sy het al ՚n broodbakboek gepubliseer, ՚n trouplek bestuur en het ook al vir die vierde seisoen blomme geplant.

In COVID-tyd het sy gereeld in haar tuin gewerk en besef hoe baie sy daarvan hou. “Ek het ՚n bietjie navorsing begin doen en toe iemand in Kanada op Instagram gevolg wat ՚n klein blommeplasie het. Sy het my so begeester dat ek lus was om met my eie blomme te begin boer. Ek het niks geweet nie en is maar ՚n agterplaasblommeboer,” sê Mareli.

Sy het baie navorsing gaan doen oor watter plante van hulle warm weer en koue winter hou. “Ons het darem ՚n koue, droë winter. In die hitte plant ek plante wat in Meksiko ook groei, soos jakobregops wat ons oumas geplant het. Die meeste plante wat ek plant hou van die son,” voeg Mareli by. Haar blommeboerdery se naam is Love Dahlias want sy plant veral baie verskillende soorte dahlias. Dit is kleurvolle blomme in alle groottes, kleure en vorms en word geplant van September tot begin Desember. “Ek plant dahlias, leeubekkies, inkalelies, jacobregoppe en kosmos. Jakobregops en kosmos is eenjarige plante.”

Die plante moet een of twee keer per week goed water kry. Dahlias moet met rus gelaat word tot die blare geel geword het. Gedurende die winter word die knolle in kissies met droë grond gebêre. Net voor planttyd moet die bolle uitgehaal en verdeel word, maar ՚n stuk stam
moet aan elke knol gelaat word omdat die uitloper daar gaan ontwikkel. Kleiner dahliaknolle lewer die beste plante.

Mareli sê dat blommeboerdery baie arbeidsintensief is en sy probeer elke week iets anders. “Ek probeer baie hard om dwarsdeur die jaar blomme te kan voorsien. Dit verg baie beplanning. Elke saadjie wat jy saai vat drie maande voordat jy die blomme kan pluk, so ek plant weekliks om elke drie maande elke week ՚n blom te kan hê.”

Wanneer ek haar vra of blommeboerdery winsgewend is, vra sy wat is winsgewend en hoeveel geld is genoeg? “Jy moet net jou kostes onder beheer hou om ՚n wins te maak,” sê Mareli.

Mareli verkoop haar blomme plaaslik aan mense vir sosiale geleenthede en in kruidenierswinkels in Douglas, Prieska en Hopetown. “Hier is net soveel mense in die Noord-Kaap wat blomme koop, so dit is baie moeiliker as in die stad.”

“Mense dink om blomme te laat groei is die belangrike deel. Die belangrike deel is om die stele te verkoop, want jy kan fantastiese blomme kweek maar as jy niemand het wat die steel koop nie, is dit nie die moeite werd nie,” voeg Mareli by.

Mareli noem dat sy nie ՚n organiese boer is nie. Sy gee gif en kunsmis, want blomme kry ook swamme en siektes. “Ek gebruik swamdoders, want as die plant sy blare begin verloor, hou hy op om blomme te produseer. Ek doen organiese bemesting en deklae op die grond om die organismes onder die grond aan die lewe te hou. Dahlias kry byvoorbeeld rooispinnekop en baie dieselfde siektes as aartappels,” sê Mareli.

Haar saad het sy aan die begin by Starke Ayres aangekoop, maar as jy meer gespesialiseerd wil wees, is dit beter om snyblomsaad aan te koop. “Ek kweek soms saailinge onder ligte in tupperbakke, maar dit vat tyd, so ek koop nou klein plantjies en plant hulle.”

Sy het begin om alles buite in die oop son te laat groei. Die blomme het ses tot agt uur se direkte sonlig elke dag nodig.

“Op die oomblik is 40% oop en in die son en dan laat groei ek die res onder ՚n haelnet, nie skadunet nie, want my grootste bekommernis is die hael. Ek kan my hele oes in 15 minute se tyd verloor,” voeg Mareli by.

Mareli verkoop haar dahliabolle regoor Suid-Afrika in die winter op haar webtuiste: https://lovedahlias.com/. Stuur vir haar ՚n e-pos om meer inligting te kry by: sales@lovedahlias.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0