Categories: PlantersPublished On: 29th May 2014

Namponuus: Equalizer trap wye spore

By 2 min read
331 words

Die Suid-Afrikaanse maatskappy, Theebo Tech, is met hulle reeks Equalizer-wyeraamplanters besig om wêreldwyd ‘n spoor te trap en dit is veral die Australiërs wat hoog op die bestellysie staan vir minimumbewerkingkoringplanters. Daar is ook vyftien mielieplanters op pad na die DRK toe. 

Theebo Tech se gepatenteerde presisie-uitmeeteenheid is ook in groot aanvraag in Kanada. 

Die Equalizer-fabriek is die afgelope paar jaar aansienlik vergroot en kry ook eersdaags sy eie poeierdeklaagaanleg, wat die produksie ‘n hupstoot sal gee. Die bestellys vir die komende somer- en winterseisoen is reeds tjok en blok vol, maar boere wat vir volgende jaar bestellings wil plaas, kan dit nog tot 31 Julie teen vanjaar se pryse doen. 

Ondertussen gaan die ontwikkeling en opgradering van die bestaande toerusting onverpoosd voort. Ruan Jonas, bemarkingsbestuurder, sê boere kan gerus kennis neem van die volgende paar interessanthede: 

Equalizer word nie net na spesifieke behoefte op bestelling gemaak nie; boere het ook die keuse om byvoorbeeld die skyfkouter met ‘n tand te ruil na gelang van die grondstruktuur op die plaas. 

 

Die konvensionele planters se kunsmiskouters nou ook aan die karretjies self geplaas, wat beteken dat daar ‘n beter plasingsverhouding tussen die saad en kunsmis is, veral as die grond ongelyk is. 

Spuitwerk is baie belangrik in enige bewaringsbewerkingsoplossing en met ‘n Equalizer kan jy plant en spuit gelyk. Die Min-Till-mielieplanters, wat vir die grootste groei in verkope verantwoordelik was, se raamwerk is aangepas om ligter, maar sterker te wees en om makliker voorsiening te maak vir verskillende rywydtes. 

Met ‘n Equalizer-planter kan ‘n boer maar laat waai, dit is nie nodig om kort-kort te stop vir saad en kunsmis nie, en daar is nou nog groter tenks en bakke beskikbaar. 

Nuut!

Theebo Tech bou nou ook vir die eerste keer ‘n 4-ry Min-Till-planter. Dit is nie meer nodig om op die wenakker te sukkel nie en vee- of ander boere wat kleiner aanplantings doen, kan nou ook baat vind by dié planters wat in Suid-Afrika vir Suid-Afrikaanse omstandighede gebou word. 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0