Categories: Artikels, NuusPublished On: 2nd April 2024

Miljard rand opsy gesit vir landbou in Wes-Kaap

By 3 min read
664 words

Jannie en Ivan

Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, en dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van Landbou. Foto: Verskaf

Die Wes-Kaapse minister van landbou, dr. Ivan Meyer, het die departement se begroting van R1,018 miljard vroeër vandeesweek in die provinsiale parlement ter tafel gelê.

“Ten spyte van talle uitdagings soos vertragings en ondoeltreffendheid by die hawens, verhoogde geopolitieke onsekerheid en beurtkrag, het die landbou en landbouverwerkingsuitvoere van R63 miljard in 2018 tot R104 miljard in 2023 toegeneem, wat ‘n jaarlikse gemiddelde groei van 11% is,” het dr. Meyer gesê.

Die begroting maak voorsiening vir:

  • R196,2 miljoen vir die bevordering van die volhoubare gebruik en bestuur van natuurlike hulpbronne;
  • R40,3 miljoen vir ekologiese infrastruktuur, R38,5 miljoen vir rivierbeskermingswerke en R38 miljoen vir vloedskadeondersteuning;
  • R216,4 miljoen vir produsente-ondersteuningsdienste;
  • R35,4 miljoen vir die departement se voorligtings- en adviesdienste;
  • R16,7 miljoen vir inisiatiewe vir voedselsekerheid;
  • R57,8 miljoen vir die lewering van dieregesondheidsdienste en om dieresiektes te voorkom en te beheer;
  • R97,8 miljoen om landbouproduksie deur navorsing te verbeter, met die fokus op versagtings- en aanpassingsopsies vir boere in reaksie op klimaatsverandering;
  • R30,6 miljoen om produksie-ekonomie en bemarkingsdienste aan agri-ondernemings te verskaf; en
  • R48,2 miljoen vir onderwys en opleiding, en vaardigheidsontwikkeling vir landbou.

Volgens dr. Meyer  sal die opgeknapte, SANAS-geakkrediteerde Provinsiale Veeartsenylaboratorium, wat ‘n belangrike rol in die verbetering van biosekerheid in die landbousektor speel, weer op 1 April 2024 in bedryf wees.

“Hierdie begroting sal die Wes-Kaapse regering se groeistrategie ondersteun wat ‘n ambisieuse teiken stel om ‘n triljoen rand se werksgeleenthede in ‘n inklusiewe, volhoubare, diverse en veerkragtige provinsiale ekonomie te bou, wat teen 2035 in reële terme teen tussen 4 en 6 persent per jaar moet groei.

“Boere, werkers en besighede het seisoen na seisoen bewys dat landbou die moeite werd is om in te belê. Ons is vasbeslote om hierdie begroting te gebruik om verder in die groei en ontwikkeling van die bedryf te belê,” aldus dr. Meyer.

Agri Wes-Kaap verheug

In reaksie, het Jannie Strydom, hoof uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, gesê die bedryfsorganisasies is bemoedig deur die begroting van R1,018-miljard, wat R57,8-miljoen, oftewel 6%, meer is as die vorige begroting.

“Gegewe die uitdagende fiskale klimaat en menige uitdagings wat die landbousektor in die gesig staar, is die toewysing van fondse ‘n moeilike taak, maar Minister Meyer het die toewysing van beskikbare fondse goed geprioritiseer om die heersende uitdagings in ons sektor aan te spreek.”

Volgens Jannie is die begroting belyn met dr. Meyer se vyf ministeriële prioriteite. “Agri Wes-Kaap glo dat die begroting Minister Meyer in staat sal stel om die duidelike en meetbare doelwitte wat hy as sy prioriteite gestel het te behaal.”

Die prioriteite sluit in:

Opleiding en navorsing

Die begroting maak voorsiening vir R48,2 miljoen vir landbou-onderrig, -opleiding en -navorsing.

Jannie sê hoewel die begroting minder is as vir die huidige boekjaar is, moet in ag geneem word dat die derde iterasie van die Fly Over-projek, ‘n opname van grondgebruike in die provinsie, onlangs voltooi is.

Altesaam nege navorsingsprojekte word deur die Alternatiewe gewasse-fonds gefinansier. Daar was ook reeds ‘n merkwaardige toename in die aantal skole wat hul kurrikulum uitgebrei het deur landbouvakke in te sluit.

“Dit blyk duidelik dat die departement daarin glo om die sektor deur wetenskaplik- gefundeerde ondersteuning te help groei.”

Klimaatsverandering

Agri Wes-Kaap is ook baie tevrede met die R97,8 miljoen wat toegestaan is om landbouproduksie te verbeter deur navorsing met die fokus op versagting en aanpassingsopsies vir boere in reaksie op klimaatsverandering.

Natuurlike hulpbronne

Omdat die volhoubaarheid van die Wes-Kaapse landbousektor onderhewig is aan die instandhouding en beskikbaarheid van natuurlike hulpbronne, is Agri Wes-Kaap verheug dat die begroting vir die volhoubare hulpbrongebruik en -bestuursprogram met R61,4-miljoen, oftewel 46%, verhoog is tot R196,2 miljoen.

Vloedskade

In die lig van die enorme skade wat deur verlede jaar se vloede veroorsaak is, is Agri Wes-Kaap ook bly dat die begroting vir beskermingswerk aan riviere met R20 miljoen vergroot is tot R38,5 miljoen. Die addisionele R38 miljoen wat begroot word vir ondersteuning aan vloedskade, bring hoop vir produsente wat daardeur geraak is, terwyl daar steeds gewag word op nasionale finansiële ondersteuning.

Kontak Agri Wes-Kaap skakelbeampte Rojeanne de Wet by 071-170-3744.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0