Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 18th September 2023

Mielieopkoms hervat: Pro-aktiewe wyse tot goeie opkoms

By 10 min read

1

OPSOMMING

  • Grondtemperatuur en grondvog is ‘n varieërende faktor in die eerste 5 cm, en dit skep ongunstige toestande vir ontkieming en die vorming van nodale wortels.
  • Die vorming van nodale wortels begin al by V1 en eindig by V6, die wortels speel ‘n groot rol in die opname van voedingstowwe en water gedurende die mielieplant se groeiseisoen.
  • Vlak plant van pitte kan lei tot verrotte plante weens swak ontwikkeling en aanleg van nodale wortels by V1 tot V3.
  • Pro-aktiewe toepassings tot beheer van goeie opkoms.
  • Skoner planter-voor verseker beter diepteplasing van pit en so beter en egalige ontkieming en opkoms.

INLEIDING

Ontkieming en opkoms is een van die fases in ‘n mielieplant wat die grootste invloed het op opbengs. Maar om te verstaan hoekom, moet die fases eers verduidelik word. Nadat die pit geplant is, moet die pit water opneem en ongeveer 30-35 persent in gewig toeneem.

Die proses staan bekend as imbibisie. Volgens my is die proses van groot belang in versekering van goeie oeste selfs in moeilike droë jare. Soos wat ontkieming voort gaan, begin die koleoptiel na die grondoppervlakte beweeg, dit is as gevolg van die verlenging van die mesokotiel. Wanneer die koleoptiel die grondoppervlakte breek, het opkoms (VE) plaasgevind. Sonlig ontwrig koleoptiel- en mesokoteil verlenging, waartydens die posisie van die kroon en die eerste nodale wortels onder die grondoppervlakte vasgestel word. Die diepte van die kroon en die eerste nodale wortels kom voor op ‘n konstante diepte, tensy die plantdiepte uitsonderlik vlak is (minder as 4 cm).

Sien Figuur 1 vir die verskil in plantdiepte en die effek daarvan die lengte van die mesokotiel en vorming van die kroon en eerste ring nodalewortels. Hierdie posisionering van nodalewortels speel `n groot rol in opname van water en voeding later in die mielieplant se vegetatiewe fases.

PLANTDIEPTE – ‘N FAKTOR WAT OPKOMS BEÏNVLOED

In die Gewas Insig gaan gefokus word op die effek van plantdiepte en hoe ‘n produsent met behulp van tegnologie seker kan maak dat hy elke pit die beste kans kan gee om te ontwikkel tot ‘n plant met hoë opbrengste.

Plantdiepte is een van die faktore waaroor die produsent die meeste beheer het, en daarom die fokuspunt. Die gesegde “so diep soos ‘n vuurhoutjiedosie wat jy op die lengte draai, is diep genoeg vir ‘n mieliepit” dit wil sê dat die ideale diepte dan 5 cm moet wees. Navorsing, gedoen deur Pioneer in die mieliebelt van Amerika, het getoon dat mielies nie vlak geplant wil word nie, maak nie saak watter kultivar geplant word nie. (Figuur 2).

Waarom het plantdiepte dan so groot invloed op opbrengs?

Mielies verkies `n warm klimaat en daarom word mielies tydens somer geproduseer. Gedurende die somer is daar hoë temperature en droë periodes tydens die ontkieming- en ontwikkeling van die plant. Nie net droë en warm klimaatstoestande heers tydens plant en groei van mielies nie maar ook nat en koel. Die variasie in atmosferiese temperatuur het ‘n invloed op grondtemperatuur, veral in die vlakker dele van die grond.

Produsente in Wisconsin plant eers hul sanderige lande in die vroeë lente, omdat die sanderige lande vinniger uitdroog as hul swaarder lande. Sandgronde het nie die waterhouvermoë soos swaarder gronde nie en daarom is daar groot variasie in grondtemperature veral in die vlakker dele. Dit wil sê dat water die buffer is vir groot spronge in grondtemperatuur. Die rede hiervoor is omdat water eers begin kook by 100˚C en eers begin vries by 0˚C.

Daar is dus baie energie nodig om water te verhit en ook te verkoel. Dus moet daar oor `n lang periode, groot toename van nag tot dag temperature wees, om enige verhoging in grondtemperatuur te laat plaasvind. In 2009, het Agronome van Wisconsin, grondtemperature van ‘n sanderige grond net na plant, tot en met die eerste 7 dae van ‘n vroeër lente aanplanting gemonitor. Die temperatuur was slegs gemeet in die eerste 5 cm (2 inch).

In Figuur 3 kan gesien word dat daar ‘n groot variasie is in die 6am en 6pm grondtemperatuur meting (I. Saab., 2009). Die is wel ‘n vroeë aanplanting en temperature is heelwat koeler in vergelyking met somertemperature. Maar die beginsel sal dieselfde bly, temperature sal net hoër wees.

Die variasie in grondtemperatuur in die eerste 5 cm van die grond het groot invloed op ontkieming en groei van ‘n mieliepit. Die eerste stap van ontkieming is water imbibisie, na plant moet die pit 30 – 35 persent in gewig toeneem, deur water op te neem. Nadat die pit geswel het, begin die kiemwortel, of primêre wortel, verleng, gevolg deur die koleoptiel wat in die teenoorgestelde rigting (na grondoppervlakte) groei.

Die minimum temperature vir die ontwikkeling is 15˚C. Laer as dit kan die metaboliese proses tydens ontkieming nie meer plaasvind nie. Dit wil sê dat koleoptiel verlenging tot stilstand kom omdat daar nie meer selvermeerdering plaasvind nie. Sou grondtemperature weer bo 15˚ C wees, sal die koleoptiel verlenging weer plaasvind. Sou`n pit baie vlak geplant word, veral in sanderige grond, sal dit tydens imbibisie en koleoptiel verlenging, baie variasie in temperatuur en vog ondervind.

Dit veroorsaak dat die prosesse sogenaamde “aan en af” periodes ondervind. Dit wil sê dat die groei en ontwikkeling plaasvind as die temperatuur en vog gunstig is en dan weer stop wanneer die temperatuur en vog ongunstig is. Die wisseling sal bydrae tot die aantal dae wat dit sal neem vir die vlakker geplante pit om op te kom in vergelyking met die pitte wat nader aan die optimale diepte geplant is.

PLANT VOOR VARIASIE

Tydens plant is daar baie variasie wat in die plant-voor (plant furrow) voorkom. Soos reeds genoem en bespreek is temperatuur en vog baie veranderlik in grond se diepte, maar soos die planter eenheid deur die grond beweeg ondervind dit soms obstruksies soos ou mielie stoppel, kluite, klippe en soveel meer, veral onder minimum- en geen bewerkingspraktyke. Al die obstruksies maak dit moeiliker vir die plantereenheid om die saad op die regte diepte te plaas indien die baan voor die plantereenheid nie goed genoeg skoon gemaak word nie, deur die planter se ploegmes.

Daar is baie verskillende ploegmesse (Figuur 4) op die mark en elk met ‘n spesifieke doel, maar gaan nie elkeen se spesifieke doel bespreek in die Gewas Insig nie. Alhoewel die hoofdoel van ploegmesse is, om seker te maak dat die plant voor skoon gemaak word vir goeie saad plasing.

Tydens die seisoen 2018-2019 het ons oor dele van die somergewas produksie areas moeilike plant toestande ervaar. Tydens een van my proewe in Kwazulu-Natal het ons gebruik gemaak van ‘n tegnologie opsie op die planter genaamd Smart Seed firmer op ‘n droë land. Die tegnologie verskaf die produsent tydens plant ‘n in-tydse beeld oor verskillende aspekte wat gemeet kan word deur die Smart Seed firmer. Een van die meetings wat gedoen word waarop ek wil fokus in die Gewas Insig is “Furrow cleanness” (planter-voor se skoonheid). Daar was studies gedoen deur die maatskappy wat die tegnologie bemark oor “Furrow cleanness” se impak op mielie opbrengs (Figuur 5).

Figuur 5 wys dat soos die persentasie skoonheid van die “furrow” afneem is daar ‘n afname in die opbrengs potensiaal van die mielie plant. Wat veroorsaak die afname in die persentasie? Soos wat die planter eenheid oor die grond beweeg, en ‘n ou mielie stoppel tref, as gevolg van die swak skoonmaak vermoë van die ploegmesse, veroorsaak die ou mielie stoppel dat die planter eenheid, ‘n sekond, uit die grond gedruk word. Dit veroorsaak dat die pit se plantdiepte in daardie sekonde van 8 cm na 4 cm, en selfs minder toe skuif.

Daarom lees die Smart seed firmer die planter-voor in daardie sekonde byvoorbeeld 93% skoon is in plaas van 97%. Die impak van vlakker geplante pitte, ondervind moeiliker toestande (vog en temperatuur), soos bespreek onder die opskrif: Plantdiepte – ‘n faktor wat opkoms beïnvloed. Figuur 6 wys ‘n voorbeeld van hoe ‘n “Furrow cleanness” kaart lyk, gedoen deur die Smart seed firmers.

Net soos die maatskappy gewys het, dat daar ‘n minimum toelaatbare persentasie is vir “Furrow cleanness”, het die proef ook die verskil aangewys in die moeilike produksie jaar van 2018-2019 (Figuur 7).

PLANTDIEPTE EN NODALE WORTELS

Sodra die koleoptiel die grondoppervlakte breek, het opkoms voorgekom. Sonlig ontwrig koleoptiel- en mesokoteil verlenging, waartydens die posisie van die kroon en die eerste nodale wortels onder die grondoppervlakte vasgestel word. Die diepte van die kroon en die eerste nodale wortels kom voor op ‘n konstante diepte, tensy die plantdiepte uitsonderlik vlak is (minder as 4 cm). R.L Nielson sê dat die sukses in ‘n mielieplant se opbrengs lê in die ontwikkeling van nodale wortels wat rondom V2 tot en met V6 plaasvind.

Wanneer die plant V1 stadium bereik, kan die eerste nodale wortel ontwikkeling geïdentifiseer word (Figuur 8a). By die V2 stadium kan die eerste stel of ring nodale wortels gesien word. Tot en met V6 gaan daar 5 ringe nodale wortels gevorm (Figuur 8b) word. Mieliesaailinge se oorgang as voedingsafhanklike van die pitreserwes tot voedingsafhanklike van die nodale wortels vind plaas rondom die V3-blaarstadium.

Skade of stres toestande aan die eerste ringe nodale wortels gedurende die tydperk V1 tot V5, kan ‘n mielieplant se ontwikkeling ernstig vertraag en die plant kom verrot voor. Wanneer ons kyk na die toestande in die vlakker dele onder die grondoppervlakte, is dit ongunstig vog en temperatuur gewys. En sou die pit daar geplant word, is die begin alreeds swak. Daarom het plantdiepte ‘n groot invloed op posisionering van die kroon met sy eerste ring nodale wortels (Figuur 6).

As `n mieliepit te vlak geplant word sal die kroon met sy nodale wortels baie na aan die grondoppervlakte voorkom, en dis waar die meeste temperatuur en vog variasie kry. Dit sal ‘n groot invloed hê op die plant se vermoë om genoegsame vog en nutriënte op te neem vanaf V3. Die plant vertoon dus verrot en sal eers later vegetatief opvang wanneer die wortels verleng na die dieper dele in die profiel. Eers dan sal die plant meer voedingselemente en vog kan opneem om in die behoefte van die plant te voorsien, maar is alreeds te laat in vergelyking met plante wat nader aan die optimale diepte geplant is. Figuur 10 wys die plante wat uitgehaal is om onegalige plantdiepte te illustreer.

In Figuur 10 is daar ‘n verskil in die wortelmassa asook die verskil in hoeveelheid blare tussen die verskillende dieptes. Uit die Figuur 10 kan ons dan aflei dat plante wat op die optimale diepte geplant is, die groeiseisoen beter gaan benut in groeilengte dae as in vergelyking met die vlakker geplante mielies. Het dit ‘n invloed op opbrengs?

SAMEVATTING

Plantdiepte het ‘n groot impak op die seisoen se produksie en moet dus nie ligtelik op geneem word nie. Daarom is dit belangrik dat planters se komponente, veral die ploegmesse, die werk reg doen om te verseker dat elke pit wat geplant is die beste moontlike kans het tot goeie produksie.

Soos gewys in Figuur 7, ‘n verskil in plantdiepte wat veroorsaak is deur onvermoë van ploegmesse om skoon te maak voor die planter eenheid, sal veroorsaak dat die planter eenheid nie die pit op regte diepte sal kan plaas nie en dit sal lei tot ‘n daling in opbrengs soos in die geval van die land van 6,88 ton/ha na 4,83 ton/ha. Die daling was veroorsaak deur die daling van planter-voor se skoonheid van 96% tot 91%.

HULPBRONNE

Nielsen, R.L. 1999. Soil Temperature, Corn Emergence and Stand Problems. Chat ‘n Chew Café. Online at http://www.agry.purdue.edu/ext/corn/news/articles.99/990414.html

Nielsen, R.L 2013. Root development in young Corn. Chat ‘n Chew Café. Online at https://www.agry.purdue.edu/ext/corn/news/timeless/roots.html

Pioneer Agronomy library. Corn Planting Depth. https://www.pioneer.com/CMRoot/Pioneer/Canada_en/agronomy/agro nomy_research_summaries/pdfs/2014_Planting_Depth_Effects_On_C orn.pdf

Pioneer Agronomy Research Summary Book- Canadian edition 2012. Soil temperature and corn emergence p. 10-12. https://www.pioneer.com/CMRoot/pioneer/canada_en/agronomy/a gronomy_research_summaries/pdfs/2013_agronomy_research_sum mary.pdf

Pioneer Corn; Growth and development manual. p. 11-12. https://ca.pioneer.com/west/media/1803/corn-growth-anddevelopment-manual.pdf

Saab, I. 2009. Lessons from early planted corn emergence trials. Crop Insights Vol. 19, No. 7. Online at: https://www.pioneer.com/home/site/us/agronomy/library/template. CONTENT/guid.162E5A10-C690-4C2B-906D-414049D487E6

¹ De Bruyn Myburgh, Field Agronomist Pioneer South Africa

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment