Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 5th May 2025

Mielie-, sojaboon- en sonneblomboere stroom na Sannieshof: Pioneer haal uit en wys

By 5 min read
951 words

Suggested featured image_Pioneer

Pioneer bied aan boere die geleentheid om deur dae soos hierdie eerstehandse inligting rakende kultivars en proewe in te win.

Sien is glo en dit is presies wat boere by Pioneer se Agrononomie dag by Sannieshof vanjaar gedoen het: Hulle het met hulle eie oë gesien en geglo.

Pioneer bied hierdie Agronomie dae aan in verskeie dele van die land en die dae word nie net gekenmerk deur die kultivars wat Pioneer wys nie, maar ook die insiggewende lesings wat aangebied word.

Leer jou grond ken

Die eerste spreker vir die dag was prof Leon van Rensburg van Winfert wat oor bemesting gepraat het. Hy het verduidelik hoe ՚n gebrek aan grondkennis jou op die lange duur kan benadeel. Hy het gesê die volgende groot sprong in landbou sal die gebruik van bakterieë in die grond wees om saam met jou te werk en nie teen jou nie. Volgens hom moet boere leer hoe om die materiaal in hulle grond te manipuleer eerder as om kunsmis en insekdoders te gebruik wat baie geld kos en nie so doeltreffend en langdurig is nie.

Goss bakteriese verwelk en blaarskroei

Dr Rikus Kloppers van Robigalia Cropcare het met die boere gesels oor die onlangse toename van Goss bakteriese verwelk en blaarskroei. Die bakteriese siekte is die eerste keer in Februarie 2024 in Suid-Afrika opgemerk en daar is nog nie ՚n vinnige oplossing vir wanneer die siekte op jou plante voorkom nie. Rikus sê op die ou einde gaan die enigste oplossing vir die siekte reeds bestande kultivars wees, maar dit is nog ՚n entjie weg en toetse word nou eers nog gedoen om die siekte te verstaan. Mielies en sorghum is die hoofdraers van hierdie siekte, maar Rikus glo dat dit ՚n beheerbare siekte is.

“Soos met alle nuwe dinge is ՚n mens maar bang daarvoor, maar ek moet sê dit is nie die ding waarvoor ek die bangste is nie. Dit is net ՚n kwessie van leer hom ken en leer hom bestuur,” het hy gesê.

Mooi proewe

Na afloop van die lesings kon die boere deur die proewe stap. Charl de Wet, die Pioneer-gebiedsagent vir Lichtenburg-Oos, Coligny en Gerdau, is al agttien jaar ՚n Pioneer-verkoopsagent in die Sannieshofgebied. Hy vertel dat boere hierdie dae bywoon om na die nuwe kultivars te kom kyk. In die verlede het hulle net die boere aan die kultivars bekendgestel, maar vanjaar wou hulle bietjie meer doen. Daarom is daar kort lesings by elk van die gewasse aangebied.

Johan Kock het gepraat oor mielies en wortelontwikkeling, terwyl Philip Fourie die besoekers meer vertel het oor sonneblomsiektes en Hanno Maree gesels het oor Blue N van Corteva Biologicals. Charl vertel dat boere in die gebied op soek is na langer groeiers wanneer dit by sojabone kom. Hulle soek kultivars wat hulle peule hoog dra sodat hulle maklik kan stroop, en iets wat in ՚n groeiklas 6 is sodat dit die stremmingstoestande van die droë weste beter kan hanteer. Hiervoor is Pioneer se P64T39R- en P71T74R-sojaboonkultivars baie goed.

By die sonneblomme kyk die boere meestal na Pioneer se Clearfield-kultivars om die lande skoon te hou. Om hierdie rede is P65LP54- en P65LP65-sonneblomkultivars gewild. Nelis Potgieter, Pioneer se areabestuurder in die weste, vertel dat hulle graag wil hê boere moet sien hoe hulle kultivars sal aanpas op die plase in die omgewing.

“Ons wil vir boere volhoubare oplossings vir hulle mielie- of ander gewasse gee,” sê Nelis. In die Sannieshofgebied is droogte een van die grootste bekommernisse vir boere en Nelis sê: “Ons is ՚n gebied wat gebonde is aan reën; ons reën het die afgelope paar seisoene laat gekom en verlede seisoen het ons omtrent glad nie reën gehad nie. Vanjaar het ons ՚n baie moeilike plantseisoen gehad.”

Tog is hy baie gelukkig met hoe mooi hulle kultivars gegroei het. Die top-mieliekultivars vir die gebied met marginale grond is P2565WPW wat met die nuwe PowerCoreTM-geen en dubbelwurmgeen, asook ՚n RoundUp-geen kom. Op die hoë potensiaal lande en sanderige grond is dit P2885WPW wat ook die PowerCoreTM-geen in het. Vir die geelmielies is P29050R wat die RoudUp-geen het die beste.

Dirk van Niekerk, Pioneer-verkoopsagent vir Lichtenburg-Wes, Sannieshof, Baberspan, Vermaas en ՚n deel van Maratsane is reeds vyftien jaar by Pioneer. Dirk verduidelik dat Pioneer al sedert 2010 betrokke is met proewe op die plaas, Verdiend, in Sannieshof en hulle het nou vir die afgelope ses jaar Agronomie dae daar aangebied. Die plaas behoort aan Lourens van Wyk wat ՚n baie lojale kliënt van Pioneer is.

Hy vertel dat Pioneer nou al meer gefokus is op uitsluitlik droë Weste basters van die eerste proewe wat by Hooggekraal in Potchefstroom geplant is.

“Ons kan kyk na meerkoppigheid in die gebied, want hier plant ons laer stande as byvoorbeeld in die Ooste. Ons kyk na basters vir laer stande, meerkoppigheid en goeie wortelontwikkeling wat alles by hierdie droë toestande aanpas. Wanneer ons na die afgelope paar jaar kyk, kan jy sien hoe die basters uitstekend deurgekom het en ideaal geskik is vir hierdie toestande,” sê Dirk.

Hy glo boere moet Pioneer kies omdat hulle stabiliteit kan verskaf. “Tydens goeie reënjare moet hy vir jou goeie opbrengs gee, maar ՚n mens soek stabiliteit as dit die dag droog is ook. Wanneer jy kyk na Pioneer-basters, kyk jy na stabiliteit in terme van opbrengs, goeie siekteverdraagsaamheid, goeie staanvermoë en goeie wortelontwikkeling. Die hele kombinasie gee vir jou goeie opbrengs aan die einde van die dag,” verduidelik Dirk.

Volgens Nelis is hy baie tevrede met die sukses van die dag. Hy sê dat Pioneer vir hulle klante ՚n gediversifiseerde oplossing bied in terme van kultivarkeuse.

Vir meer inligting of navrae, kan boere Pioneer kontak deur ‘n e-pos te stuur na info.rsa@pioneer.com of besoek hulle webwerf by www.pioneer.com/za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0