Categories: NuusPublished On: 6th March 2025

Meld veediefstal maklik aan vir beter resultate

By 4 min read
853 words

tlu-sa-2-1024×436

Polisie op die toneel van 'n veediefstal. (Bron: https://proagri.co.za/tlu-sa-maan-boere-fnuik-veediefstal-in-die-feesseisoen/)

‘n Nuwe nasionale aanmeldstelsel vir veediefstal en verwante misdade is pas bekend gestel. Veediefstal lei nie net tot ekonomiese verliese nie, maar ook tot emosionele spanning omdat dit vir geen boer lekker is as sy vee tydens die diefstal beseer of mishandel word nie.

Volgens ‘n mediaverklaring van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), pluk veeboere in die Wes-Kaap, Vrystaat en Oos-Kaap wat reeds die aanmeldstelsel op die Earth Ranger-platform gebruik, reeds die vrugte van die doeltreffende stelsel.

In die Oos-Kaap, waar die polisie vanaf 12 tot 14 Februarie ‘n voorkomingsaksie op grond van inligting op die stelsel uitgevoer het, was die resultate verstommend: Nie net gesteelde vee is teruggekry, daar is ook beslag gelê op onwettige vuurwapens, ammunisie drank, en talle veeboere het hul rieme styfgeloop omdat hulle vee nie gebrandmerk is nie.

Altesaam 208 beeste ter waarde van R2,8 miljoen, 15 skape ter waarde van R22 500 en 25 bokke ter waarde van R25 000 is teruggekry. Beslag is gelê op twee ongelisensieerde pistole en 46 9mm-patrone; 78 850ℓ onwettige drank is teruggekry. Veertien vee-eienaars is met R4 250 beboet omdat hul vee nie gebrandmerk is nie.

Minder as 30% aangemeld

Veediefstal bly een van die grootste probleme vir veeboere. Volgens Louis Wessels, voorsitter van die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum, word na raming minder as ‘n derde van veediefstalsake aangemeld.

Volgens hom word die veediefstalsake nie aangemeld nie omdat boere ontevrede is met die diens wat hulle van die plaaslike polisiekantore ontvang. Hulle voer die ontevredenheid aan as rede waarom hulle nie die veediefstal aanmeld nie. Maar soms volg veeboere wat verliese weens diefstal gely het ook nie die korrekte prosedure nie.

Omdat net sowat 30% van die sake aangemeld word, is veediefstalsyfers onvolkome en die werklike ekonomiese uitwerking daarvan op die Suid-Afrikaanse veebedryf kan nie daaruit afgelei word nie.

Doelwit

Louis meen die nuwe stelsel sal ‘n positiewe uitwerking op die veediefstalsyfer hê. en hy doen ‘n beroep op al die veeboere in al die provinsies om die aanmeldstelsel te begin gebruik.

Volgens hom is die mikpunt om die aanmeldstelsel so gou moontlik landwyd in werking te stel. Die verwagting is dat voorvalle van veediefstal aansienlik sal verminder as almal saam werk. Die stelsel word gebruik om brandpunte te identifiseer wat voorkoming makliker maak.

Volgens dr Frikkie Maré, uitvoerende hoof van die Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), het die Nasionale Veediefstal Voorkomingsforum besef dat die probleem van veediefstal dringend aangespreek moet word.

Na ‘n deeglike ondersoek is die nasionale aanmeldstelsel wat afsonderlik van die SA Polisiediens bedryf word, in werking gestel en sal deur Nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) bestuur word.

Volgens Frikkie is die doel om inligting oor veediefstal en verwante voorvalle in te samel en op ‘n kaart aan te dui. Op die wyse kan patrone van veediefstal en sindikaatoperasies identifiseer word. Die inligting word dan met die polisie gedeel vir ‘n meer gekoördineerde en doeltreffende optrede.

 “Die doel is om inligting oor veediefstal- en verwante voorvalle in te samel, en dit dan op ’n kaart aan te dui.

Earth Ranger

Die Earth Ranger-platform is deur die Allen Instituut vir Kunsmatige Intelligensie ontwikkel. ‘n Sagteware-toepassing versamel en integreer alle beskikbare historiese afstand-waarnemingsdata, wat dan vertoon word en met veldverslae wat deur die boere verskaf word gekombineer word.

Die inligting word streng vertroulik ingevolge die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 2013 (Wet 4 van 2013) (Popia) hanteer.

Hoewel die platform hoofsaaklik vir bewaring gebruik word, gebruik ’n aantal nie-regeringsorganisasies dit ook vir landelike veiligheid omdat daar dikwels ‘n verband tussen stropery en veediefstal is.

Aanmeldproses

Louis doen ’n beroep op elke veeboer in die land om veediefstal of enige ander misdaad op sy plaas met hierdie stelsel aan te meld.

Die aanmeldproses is relatief eenvoudig. Dit behels ‘n aantal besonderhede wat by 071 515 2011 op WhatsApp verskaf moet word.

Die volgende inligting moet verskaf word:

  • Naam en kontaknommer van die veeboer;
  • Presies waar die voorval plaasgevind het;
  • Provinsie waar die diefstal of voorval plaasgevind het;
  • Distrik waar dit plaasgevind het;
  • Polisiekantoor naaste aan die voorval;
  • Die tipe voorval wat plaasgevind het, hetsy veediefstal, onwettige jag met honde, onwettige jag met die stel van strikke, verdwaalde of rondloperdiere, stropery, onwettige betreding van eiendom, poging tot veediefstal, oortredings van die Omheiningswet 1963 (Wet 31 van 1963), arrestasies vir veediefstal, asook wol- en sybokhaardiefstal;
  • Besonderhede van die voorval, soos hoe laat dit plaasgevind het, of ‘n voertuig gebruik is, enige bewyse en skoenspore op die toneel;
  • Inligting soos foto’s wat as bewyse kan dien; en die saaknommer wat deur die polisie voorsien is.

Veeboere wat reeds hul provinsiale strukture gebruik om veediefstal aan te meld, kan daarmee voortgaan. Al die Earth Ranger-veediefstaldata sal aan die einde van elke maand saamgevoeg word

Bykomend tot polisiewerk

Veeboere moet verstaan dat die stelsel bykomend tot die polisie se amptelike veediefstal-aanmeldstelsel is en dit nie vervang nie.

Die nuwe stelsel is nie verpligtend nie, maar ’n poging om die formele polisiestelsel tot almal se voordeel aan te vul en te versterk.

Dit is noodsaaklik dat veeboere alle diefstal en verwante voorvalle onverwyld by die polisie aanmeld om ‘n saaknommer te kry waarsonder geen vervolging kan plaasvind nie.

Kontakbesonderhede

Rig navrae aan dr Frikkie Maré by 084-446-6787 of frikkie@rpo.co.za

Louis Wessels by 082- 410-9256 of  louiswessels16@gmail.com

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0