Mei 2021: Trekker- en Stroperverkope

Trekker en Stroper
Artikel voorsien: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie
Kleinhandelverkope van landboumasjinerie vir Mei 2021 was soos volg:

Trekkerverkope van 518 eenhede in Mei, is byna 13% meer as die 459 eenhede wat verlede Mei verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope nou 24% meer as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar. In Mei is 35 stropers verkoop, vier eenhede meer as die 31 eenhede wat verlede Mei verkoop is. Vir die jaar tot dusver, is stroperverkope 24.0% meer as verkope gedurende dieselfde tydperk verlede jaar.
Daar is volgehoue optimisme in die bedryf, met verskeie oesramings wat die Oesskattingskomitee hoër aangepas het vir hulle jongste ramings in Mei. Die algehele mielie-oes sal nou na verwagting byna 6% meer wees as verlede seisoen en die soja-oes, die grootste ooit, sal meer as 50% meer wees as vir die vorige seisoen. Die goeie vraag na landboumasjinerie sal waarskynlik volgehou word.
Twee faktore kan egter lei tot langer wagtydperke vir voorraad wat plaaslik voorsien word. Eerstens is daar die toename in die wêreldwye vraag na toerusting. Tweedens is daar die logistiese probleme wat veroorsaak is deur die Covid-19-pandemie. Boere gaan goed vooraf moet beplan om seker te maak dat hulle die toerusting wat hulle nodig het kan kry wanneer hulle dit wil hê.
Karel Munnik
Voorsitter: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie
Vir meer inligting kontak: mnr. Karel Munnik (082) 412-2577 of dr. Jim Rankin (011) 453-7249