Categories: NewsPublished On: 8th November 2016

Meer vrugte moet na Sjina uitgevoer word

By 1 min read
293 words
vrugte

fruits1

‘n Samewerkingsooreenkoms om marktoegang vir vrugte tussen Suid-Afrika en Sjina te verseker, is pas onderteken. Willem Bestbier, die adjunk-voorsitter van Vrugte Suid-Afrika en die adjunk-president van die Sjinese Kwarantyn en Inspeksie Vereniging, Wang Xin het die ooreenkoms in Beijing geteken.

Sjina bly die land met die grootste mark gegewe sy bevolking van 1,38 biljoen. Die totale invoere van vrugte in Sjina gedurende 2015 was 3,8 miljoen ton en die waarde was $5-miljard. Suid-Afrika kon net 110 000 ton vrugte in die tydperk na Sjina uitvoer, wat ‘n druppel in die oseaan is.

Gegewe dat Suid-Afrika tans omtrent 2,7 miljoen ton vrugte wêreldwyd uitvoer is die waarde van sy uitvoere na Sjina baie klein. Vrugte SA werk saam met die departement van Landbou om meer toegang tot ander vrugtetipes te kry.

Die doel van die ooreenkoms tussen die twee organisasies is om die uitdagings wat tans ondervind word in die uitbreiding van en die verbreding van toegang tot die mark aan te spreek. Die ooreenkoms sal verseker dat die twee organisasies hulle regerings ondersteun in die verskaffing van die nodige tegniese inligting en leiding om die onderhandelingsproses vir marktoegang vir nuwe produkte te bespoedig.

Suid-Afrika kan net appels, tafedruiwe en sitrus na Sjina uitvoer. Die twee regerings onderhandel marktoegang vir pere en daarna avokado’s en dan ander tipe vrugte.

Die twee partye sal die ooreenkoms gebruik om die ondersteuning te verskaf  wat nodig is tydens onderhandelinge vir marktoegang tussen die twee lande.

Met die inwerkingstelling van hierdie ooreenkoms en die versnelling van marktoegang, wil die vrugtebedryf sy uitvoere na Sjina in die volgende vyf jaar met ongeveer 350 000 ton verhoog. Dit sal ‘n seën vir die landbou-ekonomie en ook vir werkskepping wees, aangesien meer boorde gevestig kan word om hierdie belangrike mark te ondersteun.

Bron: Bizcommunity

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0