Lizelle van Levubu is enige taak op die plaas se baas

lizelle 7
Lizelle Venter van Levubu in Limpopo is van kleintyd af betrokke by die boerdery – en op 43 is daar nog geen keer nie: nou is sy eers goed op dreef.
Lizelle het op die plaas grootgeword waar oupa Koos Muller en pa Piet in 1980 begin boer het. “Ek was oral saam met my pa, en toe ek twaalf was, het ek besluit ek wil boer. Toe kon ek al enige ding met wiele op die plaas bestuur.”
Sy het as kind met varke en hoenders geboer wat sy aan die arbeiders verkoop het, en die eiers aan die tannies op Levubu.
Sy was tot in gr 7 in Laerskool Levubu en het verder tuisonderrig ontvang. “My pa en ma het vir my en twee van my sussies skool gegee. Ek het dikwels saam met my pa gery wanneer hy vergaderings gaan bywoon en dan het hy my maar wiskundeklas in die bakkie gegee. Terwyl hy besig was, het ek in ‘n kantoor gesit en huiswerk gedoen.”
Sy is vanaf gr 10 reguit gr 12 toe met die voorwaarde dat sy moet begin werk om lewenservaring op te bou en werksetiek te leer. “Ek het 05:00 opgestaan en skoolwerk gedoen, van 07:00 tot 12:00 op die plaas gewerk, middae gimnastiek afgerig en self gaan oefen – ek het destyds op SA-vlak deelgeneem.” Saans was sy weer voor die boeke en haar ouers het net gehelp wanneer sy vashaak. “Ons moes self verantwoordelikheid aanvaar.
“Deur die jare het ons nog grond aangekoop en so het ons familieplaas tot 300 ha gegroei. My ousus, Irmarie Greyling, het ‘n paar jaar gelede by my pa as hoof uitvoerende beampte oorgeneem – hy probeer elke jaar aftree! Ma Alma help nog met die boekhouding, en haar pa se jonger broer, Werner, is in beheer van produksie.”
- Lizelle Venter van Levubu saam met haar man Shaunn Venter, haar pa Piet Muller en haar jongste seun Zian. (Bron: Verskaf)
- Lizelle is versot op jag, maar eintlik op “enigiets buite”, sê sy. (Bron: Verskaf)
Levubu-besproeiingskema
Levubu is ‘n besproeiingskema met plasies van 18 tot 25 ha groot in die Levubuvallei in die Soutpansberge. Die subtropiese gebied kry gemiddeld 1 200 mm per jaar, maar deesdae “sukkel ons so ‘n bietjie met reën”, verduidelik Lizelle.
Hulle boer met avokado’s, koejawels en makadamianeute. “Die avo’s is in goeie diep rooigrond geplant, die makadamias op die meer marginale grond en die koejawels op die uitvalgrond.”
Amondel Pakkers
Amondel Pakkers is in 1995 in die middel van die vallei gebou. “Ons wou ‘n ander rigting inslaan toe ons sien waarheen die bedryf op pad is en die koöperasie nie wou aanpas nie. My pa het toe al gesien dat voedselveiligheid baie belangrik sou word, maar toe hy na ‘n besoek aan Britse en Europese supermarkte vir die boere vertel wat gaan gebeur, het hulle vir hom gelag.
“Ons het weggebreek en Amondel was een van die eerste avokado-pakhuise in die bedryf. Ons het die HACCP-voedselveiligheidstelsel voor die groter rolspelers ingestel.”
Die drie aandeelhouers in die pakhuis, waarvan die Venters se Amana Boerdery die grootste is, en sewe ander boere se avokado’s word hier verpak.
In 2019 is die pakhuis vernuwe en opgegradeer en vandag is dit die grootste, modernste, onafhanklike pakhuis in die Soutpansberg wat nie deel vorm van ‘n uitvoermaatskappy nie. Dit is ook een van min pakhuise wat ‘n totaal papierlose, wolkgebaseerde adminstelsel, elektroniese hulpmiddels en outomatisering gebruik.
Diep spore
Haar pa het diep spore in die avokadobedryf getrap, maar as ‘n direkteur en aandeelhouer in Amana boerdery, is Lizelle ook besig om haar merk in die avokado- en koejawelbedryf te maak.
“Ek doen al die verpakking en bemarking vir my en my boere se avokado’s en ons eie koejawels. “Ek is geesdriftig oor avokado’s en koejawels, maar nie soveel oor die makadamias nie!”
Sy behartig ook die personeelbestuur van die boerdery en pakhuis. Sy hanteer ses voedselveiligheidsoudits vir die boerdery en nog twee vir die pakhuis en help die ander boere met hulle s’n.
- As die masjiene in die pakhuis gaan staan, “bring dit jou op jou knieë, of dalk jou maag”, maar Lizelle Venter maak haar eie masjiene reg as dit breek. (Bron: Verskaf)
- Lizelle en Shaunn se laatlam, Zian. Sy ouboet is vanjaar in matriek, maar hy word vyf! (Bron: Verskaf)
Veiligheidstelsel
Lizelle behartig die koördinering van ‘n veiligheidstelsel wat ’n klompie boere ‘n paar jaar gelede tot stand gebring het. “Die stelsel behels kameras op hoof- en ander paaie, asook tien hekke op sekondêre grondpaaie wat snags outomaties toemaak. Die beheerkamer, wat deur ‘n geregistreerde sekuriteitsmaatskappy bestuur word, word tussen sesuur saans en sesuur soggens gemoniteer en daar word deurlopend patrollies gery. Daar is ook kameras in sommige boorde en skure.”
Lang dag, ses dae per week
Haar dag begin soggens sesuur, ses dae van die week. “Ek glo ‘n bestuurder moet voor die werksmense by die werk wees om ‘n goeie voorbeeld te stel, maar ek gebruik ook die bietjie rustigheid om voor te berei vir die dag voor die span halfsewe begin inkom.”
Gedurende die oestyd is die werksure bietjie langer. “Ons maak skoon en kry alles reg sodat ons die masjiene om 06:45 kan aanskakel. Ek hanteer alles wat mag opduik met die laai van vragmotors, kommunikasie met boere, uitvoerders en inspekteurs, bemarking- en personeelbeplanning en hérbeplanning wanneer iets nie uitwerk nie. Ons bly besig tot ons die masjien om 18:45 afskakel.
“Gewoonlik kom ek so agtuur saans by die huis, maar hou heelnag lank ‘n oog op die sonkragstelsel en koelkamers. Soms laai ons Sondae trokke om ruimte in die koelkamers te skep of vragte wat op spertyd is sodat Maandae rustiger kan wees.”
Die koejawelseisoen het ook uitdagings, maar die werksdae is korter en daar word nie oor naweke gepak nie.
Die avokadoseisoen duur gewoonlik vanaf middel Januarie tot Mei, maar hulle pak ook ‘n buiteseisoen-avokadokultivar drie weke lank in Augustus/September. Dan begin die koejawelseisoen wat tot einde September duur. Sodra die oes af is, begin die snoeiseisoen wat tot net voor Kersfees duur.
In Desember word onderhoudswerk en beplanning gedoen vir die volgende jaar wat die tweede week in Januarie afskop.
Staan g’n terug vir ‘n man nie
“My pa het my en my sussies grootgemaak om vir niks en niemand terug te staan nie en dat ons enigiets deur harde werk en vasbyt kan bereik,” vertel sy. “Ek weet wie ek is en wat ek kan doen en bereik, en ek staan vir geen man terug nie.
“Soms neem mans my nie ernstig op nie, maar dit pla my nie. Die meeste van my boere vertrou my en aanvaar wat ek sê; ek het bewys dat ek nie net ‘n mooi gesiggie in die pakhuis is nie.
“Ek dink ek put hulle soms uit, maar hulle mis my as die seisoen verby is! Ek is ‘n bietjie van ‘n beheervraat en ‘n perfeksionis wat my werk betref, ek oorbeplan alles, maar dis belangrik in ‘n avokado-pakhuis met so baie veranderlikes. Dit laat my boere gerus voel as ek in beheer is en na hulle belange omsien.”
- Die dag toe Levubu afgebrand het, moes almal inspring om te help. (Bron: Verskaf)
- Lizelle is mal oor oefen, hetsy draf of fietsry, solank sy buite kan wees, “maar oral is ‘n agie by wat aan my plak!” (Bron: Verskaf)
Uitdagings in landbou
“Daar is ongelooflik baie uitdagings in landbou. Boere is uitgelewer aan die natuur, dra die risiko’s, maar is onderaan die voedselketting en het min beheer oor die prys van ons produk. Ons moet meestal tevrede wees met die oorblyfsels.
“Vanjaar was dit eers swartryp, toe ‘n brand wat groot dele van Levubu in puin gelê het. Toe volg die een storm op die ander met verwoestende wind, maar niks reën nie. ‘n Veertien-dae-hittegolf het die plase en boorde onder nog meer druk geplaas want geen besproeiingstelsel kan onder sulke omstandighede aan die behoefte voldoen nie. Toe die reën uiteindelik laat in die seisoen kom, hou dit net nie op nie en veroorsaak oorstromings wat ons uit die boorde hou sodat ons nie kan pluk of bespuit nie.
“Ons veg teen diefstal, minimumloon-vereistes, vervalle infrastruktuur, beurtkrag, inflasie en verhoogde brandstof- en kunsmispryse. Daar is druk van oorsese kopers met al strenger voedselveiligheidvereistes wat koste opjaag sonder ooglopende voordeel vir die verbruiker en geen vooruitsig van hoër prye nie. Al meer chemiese middels word onttrek en of verbied, maar die mark verwag steeds beter vrugte.”
Gaan draf, maar hol nie weg nie
Lizelle is ‘n positiewe mens wat aangevuur word deur haar liefde vir die boerdery. “Ek werk vir myself en my kinders se nalatenskap.
“As ek moeg en moedeloos is, gaan draf ek. My pa het my juis nou die dag uit die pakhuis gejaag en gesê ek moet gaan draf, ek werk op almal se senuwees – dit het gereën en ons kon nie pluk. Toe gaan draf ek tot die son uitkom en 15 km later was ek terug by die pakhuis toe die boere begin pluk.
“Ek hou vas aan my geloof en die Here se genade. ‘n Mens kan jouself vyf minute lank jammer kry, maar dan moet jy opstaan en aangaan. Jy kruip nie weg nie en gaan nooit lê nie, met die Here aan jou kant is daar altyd hoop.”
Kontakbesonderhede
Kontak Lizelle Venter by 082-853-8779 of





