Categories: NuusPublished On: 25th April 2024

Limpopo se grootste landbou-ekspo is terug!

By 2 min read

boerebemarkingsdag

Vivo Boerebemarkingsdag, Limpopo se grootste boere-ekspo, vind vanjaar op 30 & 31 Augustus plaas en dit beloof om beter en groter as ooit van tevore te wees.

Soos vantevore gaan die naweek ‘n skitterende program vir alle boere, besigheidsmense en gesinne aanbied. Die ekspo is die perfekte bemarkingsgeleentheid vir organisasies om met boere van regoor Limpopo sake te doen. Die boerebemarkingsdag bied ook ‘n unieke platform waar produsente hul kennis kan uitbrei en op datum met die nuutste tegnologie en produktiwiteitsoplossings kan kom.

CT van der Merwe, voorsitter van die Vivo Boerebemarkingsdag, sê die hooffokus van die ekspo is om die boer en die besigheid bymekaar uit te bring.

“Dis die ideale geleentheid vir besighede om met plaaslike en provinsiale boere op ‘n informele, boeremanier te netwerk. Verlede jaar het sowat 5 000 mense die ekspo besoek om die meer as 150 besighede te ondersteun. Vanjaar gaan dit nog groter en beter wees.”

Die Boerebemarkingsdag is die hartklop van die dorpie Vivo en ‘n ware gemeenskapsfees. Nie net is dit die hoofbron van inkomste vir die plaaslike skool nie, die gemeenskap sorg vir al die verversings en wegneemetes.

Terwyl besoekers smul aan al die lekkernye, kan hulle in die aande na sommige van Suid-Afrika se beste kunstenaars luister. Vrydagaand tree Arno Jordaan en Jay tydens die grootste langarmaand van die jaar op – kom dans dat die stof staan! Saterdagaand sal Adam en Demi Lee Moore sorg vir vermaak uit die boonste rakke.

Gedurende die dag is daar ‘n wye reeks aktiwiteite vir oud en jonk. By die MammaMall se snuffelmark en plaas-proe-produkte kan besoekers interessante items ontdek en huis toe vat.  ‘n Spesiale vrouefees sal die uniekheid van vrouwees vier met ‘n interessante program wat sprekers, gaskunstenaars en werkswinkels sal insluit.

Vir meer inligting of om ‘n uitstalruimte te bespreek, besoek gerus Vivo Boerebemarkingsdag se webblad of stuur ‘n epos aan vivobemarkingsdag@gmail.com.

Bron: Vivo Boerebemarkingsdag

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment