Limagrain stel nuwe kultivars bekend by NAMPO 2026

20260513_105538
By vanjaar se NAMPO Oesdag het Limagrain Field Seeds (LFS) hul fokus op moderne saadgenetika en opbrengspotensiaal beklemtoon. Ons het met die span gesels oor hoe hulle tegnologie en navorsing gebruik om boere te help om meer volhoubaar en winsgewend te boer.
Die nuwe wit- en geelmieliekultivars was een van LFS se hoogtepunte by NAMPO 2026 en het baie belangstelling onder boere gelok.
LFS is internasionaal bekend as een van die wêreld se grootste saadmaatskappye en fokus op die ontwikkeling van hoëprestasie-genetika vir verskillende omgewings. By NAMPO 2026 was hul doel duidelik: om boere in te lig oor waarom die regte kultivarkeuses ’n direkte invloed op opbrengs, kwaliteit en winsgewendheid kan hê.
Een van die groot temas vanjaar was aanpasbaarheid. Volgens die LFS-span verskil klimaatstoestande, grondtipes en bestuurspraktyke grootliks tussen streke, en daarom is dit belangrik om kultivars te ontwikkel wat spesifiek aangepas is vir Suid-Afrikaanse toestande.
Verskeie van hul mielie- en sonneblomkultivars is tydens NAMPO uitgelig, met spesiale aandag aan stabiliteit en konsekwente opbrengste onder wisselende toestande. Die fokus is nie slegs op maksimum opbrengs in ideale seisoene nie, maar ook op betroubare prestasie wanneer toestande moeiliker raak.

Die nuwe witmieliekultivars toon goeie pitvulling en eenvormigheid, eienskappe wat belangrik is vir stabiele opbrengste onder verskillende toestande.
Twee nuwe witmieliekultivars wat baie aandag getrek het, is LG31.755BR en LG31.777BR. Volgens die span is hierdie kultivars ontwikkel met die fokus op sterk opbrengspotensiaal en goeie aanpasbaarheid. Die bekendstelling van nuwe genetika wys hoe vinnig saadtegnologie ontwikkel en beter oplossings aan boere bied.
Die span het ook twee nuwe geelmieliekultivars, LG31.664BR en LG31.668BR, wat deel vorm van LFS se uitbreiding van hul genetiese aanbod, bespreek. Hierdie kultivars fokus op hoë prestasie en stabiliteit, veral in uitdagende omgewings waar boere staatmaak op goeie opbrengste.

Een van LFS se nuwe geelmieliekultivars wat fokus op sterk opbrengspotensiaal en uitstekende graankwaliteit.
Die nuwe sonneblomkultivar, Gandalf CLP, is ook by NAMPO bekend gestel. Sonneblomproduksie bly ’n belangrike deel van baie boerderybedrywighede in Suid-Afrika, en LFS spesialiseer ook in die ontwikkeling van genetika wat goeie olie-inhoud, sterk plantgesondheid en verbeterde opbrengste kan lewer.
Die span het verder beklemtoon hoe belangrik navorsing en plaaslike proewe in die ontwikkelingsproses is. Deur uitgebreide navorsing in verskillende produksiegebiede, verkry LFS ’n beter begrip van watter genetika die beste by spesifieke omgewings pas. Hierdie data help boere om meer ingeligte besluite te neem wanneer hulle hul saadkeuses beplan.
Nog ’n belangrike onderwerp wat bespreek is, is siekteverdraagsaamheid en stresweerstand. Met uitdagings soos veranderende klimaatstoestande word genetiese verbeterings al hoe belangriker om risiko te beperk.
Volgens die span gaan moderne saadontwikkeling oor veel meer as net hoër opbrengste. Daar word ook gefokus op plantgesondheid, wortelontwikkeling, staanvermoë en algemene gewasprestasie regdeur die seisoen.
NAMPO bied jaarliks aan boere die geleentheid om direk met kundiges en vervaardigers te gesels, en vir LFS is hierdie persoonlike gesprekke uiters belangrik. Dit gee boere die kans om vrae te vra, resultate te vergelyk en eerstehands meer oor nuwe genetika en tegnologie te leer.
LFS het verlede jaar 60 jaar van genetiese innovasie en diens aan boere wêreldwyd met hul “Farmer Owned, Farmer Led”-benadering.
Die maatskappy beklemtoon ook die waarde van langtermynverhoudings met boere. Volgens die span gaan dit nie net oor die verkoop van saad nie, maar oor samewerking en ondersteuning regdeur die produksieseisoen.
Die sterk fokus op innovasie en toekomstige groei in die Suid-Afrikaanse landboubedryf het ook die aandag getrek by NAMPO. LFS glo dat genetiese vooruitgang ’n groot rol gaan speel in die doeltreffendheid en volhoubaarheid van voedselproduksie in die toekoms.
LFS se produkkatalogus verskaf inligting oor die maatskappy se nuutste ontwikkelings in genetika en kultivars vir Suid-Afrikaanse boere.
As gevolg van hul uitgebreide internasionale navorsing en kennis oor die ontwikkeling van plaaslike kultivars wat tot voordeel van Suid-Afrikaanse boere strek, wys LFS waarom hulle steeds ’n belangrike rolspeler in moderne landbou is.
Vir meer inligting oor LFS se produkte en genetiese oplossings, kontak hulle by (+27) 11 541 0600 of besoek Limagrain Suid-Afrika