Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 11th April 2025

Leon koop egte onderdele … En wen ’n nuwe Case IH-trekker!

By 3 min read
575 words

IMG_2122reg

Die span van Case IH se Thabazimbi-tak.

‘n Blinknuwe Case IH JX45-Ttrekker pryk op Leon Fourie van Olifantskopboerdery by Thabazimbi se plaas – net omdat hy egte Case IH-onderdele koop. Leon is die gelukkige wenner van CNH se Wen-‘n-trekker-kompetisie en hy het sy prys onlangs by die Case IH-tak in Thabazimbi gaan haal. Die Case IH JX45T is ‘n veeldoelige tweewieldryfstaatmaker met ‘n turboaangejaagde driesilinderenjin wat 31 kW lewer.

Tydens die oorhandiging het David Visser, CNH se nasionale hoof van onderdele vir Suid-Afrika, gesê dat die oorhandiging nie net oor die kompetisie gaan nie, maar om die gebruik van egte onderdele te bevorder.

“Egte onderdele verseker maksimum betroubaarheid en ’n lang lewe vir jou toerusting om werkverrigting en die sukses van jou boerdery te verseker,” het David gesê.

Leon het dertien jaar gelede by Koedoeskop, Thabazimbi, begin boer en die heel eerste trekker op sy plaas was ‘n Case IH JX95 wat hy in 2013 gekoop het. Oor die jare het hy nog Case IH-trekkers bygekoop vir sy gemengde boerdery met mielies, koring, sojabone en sonneblom. Nadat hy vir die kompetisie ingeskryf het, het hy nie weer daaraan gedink nie, veral nie dat hy die wenner sou wees nie.

“Soos wat ons onderdele gekoop het het ons heeltyd ingeskryf. Ek het nooit regtig gedink ons kan wen nie; daar skryf net te veel mense in,” het hy vertel.

Die kompetisie het van Oktober tot Desember 2024 gestrek en vir elke R10 000 wat ‘n klant aan egte onderdele bestee het, het sy naam in ‘n trekking gegaan. Toe kom die oproep een Vrydagaand terwyl hulle by die huis vleis gebraai het. Leon vertel dat hy baie opgewonde was om te wen en selfs so ‘n paar keer na die aanlynskakel gaan kyk het net om seker te maak.

Leon glo daar is altyd werk vir nog ‘n trekker op sy plaas en hy weet reeds van ‘n paar plekke gedink waar hy die trekker nuttig wil inspan. Die nasionale onderdeleverkoopbestuurder vir CNH Suid-Afrika, Morné Pretorius, sê om egte onderdele te koop is eintlik ‘n heel eenvoudige, logiese besluit.

“CNH onderdele word natuurlik gemaak deur dieselfde fabrieke wat ons trekkers maak. Dit is spesifiek ontwerp vir Suid-Afrikaanse toestande, so dit dra by tot die lang lewe van jou masjiene,” sê hy.

Lourens Moolman, bestuurder van die Case IH Thabazimbi-tak sê hy beraam dat so sestig van hulle kliënte vir die kompetisie ingeskryf het en dat hulle almal baie opgewonde was om te hoor die wenner kom van hulle tak af. Leon is reeds sewe jaar ‘n getroue kliënt van hierdie tak wat al sestien jaar bestaan. Hulle diens onder meer die Ellisras-, Dwaalboom-, Koedoeskop- en Thabazimbi-gebied.

“Wat Case IH se egte onderdele vir ons so belangrik maak, is dat daar altyd ‘n onderdelewaarborg is op alles wat klante by ons koop,” verduidelik Lourens.

By die Case IH Thabazimbi-tak is klante hulle nommer een prioriteit. Hulle maak seker dat hulle ook deel is van boeredae en boereverenigings om hulle vinger op die pols in hulle gebied te hou.

“Case Thabazimbi se diens is uitstekend, hulle is lekker naby aan ons, en ‘n ou kry altyd die onderdele wat jy nodig het,” vertel Leon. “Hulle is vinnig en het altyd onderdele beskikbaar. Die tydsgleuf wat ons het om te plant langs
die Krokodilrivier is baie klein omdat ons twee oeste per jaar insit, so dit is vir ons belangrik om vinnige goeie diens te kry wanneer ons onderdele nodig het of wanneer ons toerusting breek.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0