Landbou, ‘n strategiese sektor, moet nóú veilig wees!

covid 19 handwas reg
Beide Agri SA en TLU SA doen ‘n beroep op hul lede tot groter waaksaamheid. Die polisie word ook gevra om in dié tyd hulle sigbaarheid in landelike gebiede te handhaaf.
As landbou-organisasies besef ons dat daar nou baie druk op die polisie is en daarom het beide organisasies onderneem om saam met die polisie te werk om toe te sien dat die landboubedryf in ‘n veilige omgewing kan voortgaan met voedselproduksie.
In die President se uitbreiding van die verklaring van ‘n ramptoestand om die verspreiding van COVID-19 te bestry, is die landboubedryf as een van die essensiële sektore uitgewys. Dit bevestig weereens die strategiese waarde van dié sektor om in die ramptoestand voort te gaan om die bevolking te voed en voedselsekerheid te handhaaf. Die veiligheid van die sektor is dus ook van strategiese belang in die rol wat hy as ‘n essensiële sektor moet speel.
Die twee organisasies doen verder ‘n beroep op hul lede om hulle huis en haard beskerming in plek te hou en verskerpte veiligheidsmaatreëls te handhaaf. Skakeling met plaaslike beveiligingstrukture, die instandhouding van die plaasgemeenskap se beskermingsmaatreëls en die daarstel van ‘n plaaslike gebeurlikheidsplan in samewerking met die polisie is van die aspekte wat nou plaaslik aandag moet geniet.
Die doeltreffende toepassing van die Landelike Beveiligingstrategie om die plaasgemeenskap veilig te hou is nou nodig. Die toepassing van die Plaastoegang Protokol moet ernstig oorweeg word om toe te sien dat plaasbesoeke gemonitor kan word.
Landbouers moet nou meer as tevore bedag wees op persone wat hulle wanvoorstel om só toegang tot die plaas te kry om misdaad te pleeg. Vir die veiligheid van die plaasgemeenskap is dit belangrik dat almal sal weet wie die plaas besoek en wat die rede vir die besoek is. Dié ramptoestand kan die geleentheid aan misdadigers bied om die boerderygemeenskap te teiken en deur die toepassing van die protokol kan dit as afskrikmiddel dien en ‘n bydrae tot plaasbeveiliging lewer.
Bron: TLU SA en Agri SA