Categories: Artikels, SA294-vrouemaandPublished On: 8th August 2024

Landbou is lekker saam met New Holland en Hoërskool Waterkloof

By 5 min read
955 words

20240802_112350(0)

Danksy Hoërskool Waterkloof en New Holland lyk die toekoms van landbou net so bietjie blinker. Die skool bied nou Landboutegnologie as ՚n vak aan en met New Holland se ondersteuning is die landboustudente besig om gereed te maak om hulle merk in die land­boubedryf te maak.

Vier graad 11-leerders van Hoërskool Waterkloof het reeds hulle landbou­drome beplan. Hulle wys dat jy nie ՚n man hoef te wees om te droom van boer nie, en beslis nie net ՚n boer hoef te wees om lief te wees vir landbou nie.

Hanri Visagie wys gretig die klaskamer waar hulle hulle Land­boustudies aanpak.

Die 17-jarige Hanri Visagie het op die plaas grootgeword en vertel dat boerdery in haar bloed is.

“Ek het die voorreg gehad om elke dag wakker te word op die plaas en saam met my pa te boer. Ek is baie lief vir diere en die plaasomgewing met sy mense,” vertel sy. Haar liefde vir die bedryf het gegroei elke naweek wan­neer sy saam met haar pa in die lande of die kraal besig was.

Hanri is nog nie seker watter land­bourigting sy wil inslaan nie en vertel dat haar ouers graag wil hê sy moet met beeste boer, maar haar belangstel­ling lê ook by saffraan.

Sy glo landbou is die toekoms en sy is baie opgewonde om te sien hoe druk­beweiding in die toekoms toegepas en verbeter gaan word. Sy wil onthou word as iemand wat geleenthede geskep het vir ander mense om ook te kan doen wat sy doen.

Haar rolmodel is ՚n oudleerling van Hoërskool Wa­terkloof, Ingrid Cronjé, wat aan die Universiteit van Pretoria Veekunde studeer het en nou in die Wes-kaap op ՚n melkplaas werk.

Genevieve Malherbe se oupa se sto­ries oor hoe hy op die plaas groot­geword het, het haar gemotiveer om ook ՚n landbourigting in te slaan.

Genevieve Malherbe (16) se liefde vir landbou kom van haar oupa af. Hy het haar altyd stories vertel van sy grootworddae op die plaas.

“So, ek dink om in ՚n rigting te beweeg waar ek ook dalk daardie gevoel kan kry wat hy as kind gehad het,” vertel sy trots.

Wat haar opgewonde maak oor die toekoms van landbou, is die vele ge­leenthede wat die bedryf inhou vir jong dogters soos sy, wat deel is van die nuwe geslag wat volgens haar, “strewe om voedselproduksie en volhoubaarheid daarvan te verbeter. Ek sien uit daarna om ՚n groter verskil daarin te maak”.

Genevieve wil ՚n rigting in Landbou­produksie en Bemarkingbestuur volg. Sy wil graag eendag onthou word as iemand wat van niks af ՚n groot verskil kon maak in landbou; net soos haar rol­model, Allison Caine, ՚n antropoloog wat bewusmaking vir die rol van diere skep.

Stephanie Johnson wil ՚n loopbaan maak deur diere te rehabiliteer.

Nog ՚n leerdling wie se hart by diere lê is Stephanie Johnson (17) wat ook haar voete van jongs af al in die plaaslande vind. Sy het haar oog op ՚n loopbaan in rampbestuur vir diere. Dit behels die beplanning vir en rehabilita­sie van diere in nood.

“Ek wil graag ՚n verskil maak aan diere wat deur mense te na gekom is,” verduidelik sy.

Waar ook al haar landbouloopbaan haar neem, weet Stephanie wel dat sy eendag werk wil skep vir ander. Haar landbourolmodel is Simone de Villiers.

“Simone het Hoërskool Waterkloof ՚n kans gegee om landbou vir die stadsjapies te leer, en dit het ՚n groot verskil in die skool gemaak,” vertel sy.

Vir haar is landbou Suid-Afrika se toekoms want die Here het almal die potensiaal gegee om die beste uit die grond te kry en sy glo dat daar nog baie groot dinge vir die bedryf en Suid-Afrika voorlê.

Nikha Lambden is reg om ՚n veearts vir die boere te word.

Nikha Lambden is nie kieskeurig oor die diere waarmee sy wil werk nie; sy het sommer vroeg al begin regmaak vir haar loopbaan in Veeartsenykunde.

Die 16-jarige Nikha vertel dat sy nog altyd liefde vir diere gehad het en geweet het dat sy ՚n lewe in die natuur wil voer.

“Ek weet vir ՚n feit ek wil nie heeldag in ՚n kan­toor sit nie,” sê sy laggend.

Haar plan is om in vee te spesialiseer, met boere te werk, en selfs eendag haar eie forelplaas te besit.

Sy kom van ՚n familie van boere; haar pa en oupa het met beeste geboer en vir ՚n tydperk het sy ook op die plaas grootgeword.

“Ek dink die landboubedryf skep baie geleenthede daar buite, dit leer jou baie van jouself en hoe om met ander mense en die Here se skepping te werk,” sê Nikha.

Indien sy die voorreg kry om ՚n veearts te word, sal sy onthou wil word as iemand wat die boere kon help en die diere se lewensgehalte kon verbeter.

Haar rolmodel is tannie Annerine Mool­man, ՚n boerbokboer. “Sy het bloot gegaan en haar passie en droom gaan uitleef, dit is hoekom sy my rolmodel is.”

Nikha glo landbou is die toekoms omdat dit ‘n mens toelaat om jou droom te volg.

Nico Pretorius, hulle Landboutegnolo­gie-onderwyser vertel dat die vak die leerlinge meer leer oor die nuutste tegnologie wat op plase gebruik word, soos die tegnologie wat New Holland beskikbaar het.

Hy vertel dat hulle baie gelukkig is om vir New Holland te hê wat hulle onder­steun omdat die kinders nou praktiese voorbeelde van hierdie tegnologie onder oog het en daarvan kan leer.

Hoërskool Waterkloof beplan om met die hulp van New Holland hierdie vak in die toekoms nog meer uit te brei na die ander grade en nog landbouvakke by te voeg om die hele pakket te kan aanbied.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0