KragDag 2026 beklemtoon selfstandigheid: Druppels word strome, strome word riviere

vlcsnap-2026-08-10-14h25m19s785
KragDag 2026 het van 6 tot 8 Augustus vir die 17de keer op Diamantvallei Landgoed, naby Rayton, plaasgevind. Met ’n sterk fokus op selfstandigheidsoplossing waaronder alternatiewe energie, landbou, opvoedkunde en avontuur het die ekspo weer ’n platform gebied waar die hele gesin inspirasie, inligting en praktiese oplossings kon ontdek.
Vanjaar se tema, “Druppels word strome, strome word riviere”, het die kernboodskap van die ekspo vasgevang: elke klein aksie kan ’n verskil maak – nie net in ’n individu se lewe nie, maar ook in dié van ’n gesin en gemeenskap.
Ongeveer 34 000 besoekers het vanjaar se ekspo bygewoon.
Meer as 700 uitstallers het ’n wye verskeidenheid produkte, dienste en oplossings aangebied wat besoekers kan help om groter selfstandigheid te bereik.
Van die uitstallers en hoogtepunte het ingesluit:
- Alternatiewe en kleinskaalse landboutoerusting.
- Moderne, funksionele leefruimtes in unieke podhuise.
- Kwartelboerdery en kwarteleiers.
- Robothondjies en ander nuwe tegnologie.
- Sampioengroeistelle en produkte.
- ’n Groot verskeidenheid sonkrag-, energie-, water- en veiligheidsoplossings.
- Kragtoerusting en praktiese oplossings vir die doen-dit-self-entoesias.
Volledige lys van KragDag 2026-uitstallers
Jong entrepreneurs kry kans om hul merk te maak
Een van vanjaar se besondere hoogtepunte was die Entrepreneuria Junior Entrepreneurskompetisie, wat jongmense die geleentheid gebied het om hul entrepreneurskapvaardighede te ontwikkel en hul besigheidsidees voor ’n gehoor ten toon te stel.
Die Doelgerig-wenner, Heino Beneke van Rolbos Leerprodukte, het ’n prys van R10 000 ontvang, terwyl die Voete Natmaak-wenner, Simon Henning van Berry Blessed, met R 4 000 bekroon is.
Deelnemers ontvang ook besigheidsafrigting van die bekende besigheidsafrigter Fergus Ferguson van Fergusmor.
Harry Welby-Cooke van ActionCOACH was by die prysuitdeling betrokke en het ook drie pryse vir Belowende Opkomende Entrepreneurs oorhandig. Die pryse is toegeken aan:
- Corne Tolmay van Tolmay Industries
- Elysia Engelbrecht van Honey Liquid Gold
- André Smit van Bosveld
Ses programareas bied inhoud vir jonk en oud
KragDag se program het vanjaar oor ses hoofprogramme gestrek.
Die Kopskuifateljee, saamgestel in samewerking met Lex Libertas, het bekende sprekers soos dr. Ernst Roets, Steve Hofmeyr, Dawie Roodt en Gareth Cliff aangebied, met gesprekke oor onder meer vryheid, identiteit, ekonomie, alternatiewe media en gemeenskapselfstandigheid.
Die MPO Landbouprogram het op die uitdagings en geleenthede in die landbousektor gefokus, met sprekers soos dr. Theo de Jager van SAAI, Francois Maree van Regen Roots en PW van Heerden van CDP Auctioneers.
Twee verhoogprogramme het deurentyd musiek en vermaak gebied, terwyl die twee arena-programme besoekers op hul voete gehou het met onder meer die BRSA Dromresies-kampioenskappe, ’n perdeskou, RoughStock Rodeo-demonstrasies en Genesis K9-hondedemonstrasies.
Nuwe tegnologie en avontuur
KragDag 2026 het ook ’n aantal nuwe elemente bekendgestel.
Conduit Energy het vanjaar vir die eerste keer ’n elektriese voertuig-herlaaisone en die nodige infrastruktuur in die parkeerarea geïnstalleer.
Die nuwe 4×4-baan, in samewerking met Pretoria Noord Toyota, het besoekers die geleentheid gegee om die vermoëns van nuwe 4×4-modelle op die proef te stel.
’n Praktiese gids vir groter selfstandigheid
Nog ’n belangrike toevoeging was die bekendstelling van die KragDag Selfstandigheidsgids, wat deur Lex Libertas en KragDag ontwikkel is.
Die praktiese werkboek is daarop gerig om huishoudings, gesinne, boere en entrepreneurs te help om hul eie pad na groter selfstandigheid te bepaal.
Die gids is ontwerp as ’n langtermynhulpmiddel wat lesers help om hul huidige situasie te beoordeel, moontlike oplossings te ondersoek en ’n persoonlike plan vir die toekoms saam te stel.
Laai die KragDag Selfstandigheidsgids hier af
’n Kykie na die verlede
By die Voortrekker-uitspanning kon besoekers ook op ’n meer tradisionele manier met selfstandigheid kennis maak, met demonstrasies van onder meer kersmaak, koeëls giet en botter maak.
Die area het gewys dat selfstandigheid nie ’n nuwe konsep is nie – maar eerder ’n beginsel wat oor generasies heen prakties toegepas is.
Dankie aan KragDag se borge en vennote
KragDag 2026 sou nie moontlik gewees het sonder die ondersteuning van sy hoofborge en vennote nie.
KragDag bedank ATTSA, Sakeliga, NEASA, City Gates, Rural Maintenance, AP Akademie, Pretoria FM en ontbytSAKE vir hul ondersteuning en betrokkenheid, as vaandelborge.
Elke druppel maak ’n verskil
“KragDag gaan uiteindelik nie net oor die produkte wat op die terrein uitgestal word nie. Dit gaan oor mense wat besef dat hulle nie altyd hoef te wag vir iemand anders om ’n oplossing te bring nie,” sê HP Steyn, Uitvoerende Hoof van KragDag.
“Een nuwe vaardigheid. Een nuwe idee. Een klein verandering in ’n huishouding, plaas of onderneming. Dit is die druppels wat mettertyd strome en uiteindelik riviere word.”
KragDag wil elke borg, uitstaller, vennoot, spreker, kunstenaar, vrywilliger en besoeker bedank wat bygedra het tot die KragDag 2026 ervaring.
Die volgende druppel begin by jou. KragDag 2027 vind DV van 5-7 Augustus 2027 plaas.

