Knittex wys boere by NAMPO: “Dit is waarom ons markleiers in landbounette is!”

DSC_0042-1536×1024
Multiknit, die houermaatskappy van Knittex bestaan al sedert 1964. Wat begin het as ‘n invoerder van tekstiele vir landbougebruik vervaardig ook nou 86 verskillende produkte in hulle fabriek in Mkhuhlu, Suid-Afrika. Plaaslike en internasionale boere maak reeds jare lank staat op hierdie maatskappy.
“Die skadunet wat ons vervaardig word gemaak uit hoë-digtheid poliëtileen. Dit is ‘n gebreide produk wat veelsydige gebruike in landbou het,” vertel Deon Joubert, besturende direkteur van Multiknit.
“Die belangrikheid van ‘n gebreide produk is dat dit sy vorm en patroon hou terwyl dit vir jou konstante skaduwee gee,” noem hy.
Onder die Multiknit-sambreel bestaan die Knittex, Sakpro en Multiknit Internasionaal-handelsname wat onder meer die produkte Knipol, Colourshade, SpectraNet, DriZ en Z25 bevat. Hulle vervaardig en versprei landbounette, akwakultuurnette, rypbeskerming, windbreeknette, grondnette, grens- en keernette, vrugtesakkies en tou.


Knittex se standplaas lok skougangers by NAMPO 2023
“Ons mikpunt vir NAMPO 2023 is om ons naam weer te kom vestig as die leier van skadunetvervaardiging in Suid-Afrika. Baie van ons klante kom besoek ons tydens die geleentheid. Ons vind dat NAMPO ‘n trekpleister is waar ons nuwe produkte soos ons haelvrystellingsnette kan bekend stel,” verduidelik Deon. “Ons het ook ‘n nuwe bemarkingsmaatskappy wat vir ons stalletjie ‘n nuwe gesig gegee het.”

By die stalletjie is verskeie modelle opgerig om die veelsydige toepassings en kenmerke van die nette te demonstreer.
Die kleurvolle sakke op die struktuur wys hoe sterk die kode-20 nette is. Dit word gebruik in die druiwe- en sitrusbedryf en moet gereeld swaar vragte hael vang. Die breipatroon gekombineer met die aanhegting bekend as Buggle tube is deel van die eienskappe wat die net so sterk maak.
Die struktuur is ongeveer twee by twee meter en 500 kg se gewig verpak in kleurvolle sakke lê gemaklik bo-op die net. Dit dui aan wat die gehalte van die nette is.
Die volgende model het spitsdakke wat die haelvrystellingnet demonstreer. Dit is vervaardig met die doel om jou boord teen hael te beskerm, maar die gewig laag te hou deur die hael sagkens en veilig grond toe te laat gaan.
“In gebiede waar daar baie hael voorkom dra die struktuur baie gewig. Om die struktuur so op te rig om die gewig bo-op die net te hanteer raak baie duur. Ons oplossing is ‘n net wat so opgerig word dat die hael strategies gelei word na waar dit deur gapings val om op die grond binne die boord te land.”

Verder was daar ook ‘n haelkanon by die stalletjie opgerig wat ‘n hael-simulasie is. Die kanon skiet yskorrels teen die spoed wat hael val om te demonstreer dat die net dit kan hanteer.
Deon sê: “Ons meet die projektiel (ysbal) deur ‘n chronograaf om aan skougangers te wys teen watter spoed die net die hael vang. Ons skiet nou al vir twee dae teen die Z25-dekoratiewe net wat ongeveer 125 skote op dieselfde plek hanteer sonder om te skeur.”
‘n Netjiese skaalmodel wys beide ‘n spitsdakstruktuur en ‘n platdakstruktuur wat in die vrugtebedrywe gebruik kan word. Omdat die ware Jakob in die boord so vreeslik groot is, is dit moeilik om te sien presies hoe dit werk. Die model wys egter duidelik hoe dit sal lyk.
Knittex wys hulle produkreekse by NAMPO
As ‘n voorbeeld van die verskeie nette wat hulle vervaardig, het Knittex ook die rolle wat hulle aan verspreiders voorsien, uitgestal. Die voorbeelde het alles ingesluit vanaf die kode 20-nette tot Z25 vir die motorafdakbedryf.
“Ons bied aan ons lojale verspreiders ‘n staander waarop drie rolle net pas. Ons het ook ‘n enkelrol weergawe. Die rolle is standaard 50 m lank en 3 m wyd. Dan kan ons verspreiders die regte lengte vir hulle klante afsny,” verduidelik Deon.
Om meer van Knittex se stalletjie te sien, gaan loer na die video hier.
Besoek hulle webtuiste vir meer inligting oor die wye verskeidenheid net-produkte by https://www.knittex.co.za.