Categories: HulpbronbestuurPublished On: 9th October 2026

Jou hond se lyftaal van kop tot stert: So maak jy hond haaraf

By 6 min read
1130 words

422737-german-longhaired-pointer-782498

Met ’n paar handige sleutelaanduiders, kan jy die raaiwerk van wat jou hond of enige ander hond vir jou met hul lyftaal probeer sê, uitsluit. Soos met mense se lyftaal, gaan diere se lyftaal ook nooit net oor een enkele visuele teken nie, maar oor ’n kombinasie van tekens as geheel. As jy mooi oplet kan jy hierdie tekens ontsyfer en presies weet wat jou hond vir jou probeer sê.

’n Waaiende stert kan byvoorbeeld aandui dat jou hond vriendelik is of wil speel, maar ’n hoë, styfbewegende stert is eintlik ’n teken dat ’n hond ’n ander hond of persoon “teiken” en gereed is om aan te val indien nodig.

Die hondegedragskenner, Cesar Milan, verduidelik hoe om jou hond se lyftaal te ontleed om sy gemoedstoestand te bepaal.

Cesar sê neem byvoorbeeld ’n hond in die bekende speelse “buig”-posisie. Sy kop is laer as sy lyf, maar sy agterbene en stert is hoog  – dus is hy onderdanig maar ontspanne, en nooi hy jou of ’n ander hond uit om met hom te speel. ’n Aggressiewe hond sal die teenoorgestelde balans van energie hê: agterbene onder en gespanne, gereed om energie vry te stel, en sy kop hoër of in lyn met sy lyf.

Hoe om jou hond se lyftaal te lees

Die eerste reël vir die lees van jou hond se lyftaal, is om werklik aandag te gee aan dit wat jy sien. Dit is ’n vaardigheid wat ook handig te pas sal kom tydens jou interaksies met mense. Dit is ongelooflik hoeveel betekenis mense eintlik in hul lyftaal en stemtoon oordra.

’n Bekende studie deur prof. Albert Mehrabian, ’n deskundige in die gebied van nieverbale kommunikasie, van die Universiteit van Kalifornië in die 1970’s het bevind dat slegs 7% van menslike kommunikasie eintlik gaan oor wat gesê word.

Lyftaal (55%) en stemtoon (38%) is die belangrikste oordraers van betekenis. Ons verskil tog nie so baie van honde nie.

Die eerste ding om te onderskei, is of ’n hond ontspanne of gespanne lyk. As hy gespanne is, sal hy op een van drie maniere reageer: veg, vlug of vermyding.

Maar hoe weet ’n mens? Een van die mees basiese dinge waarna jy moet kyk, is die hoogte van die hond se kop en stert. As hulle hoog gelig is, voel die hond selfversekerd en dominant. As dit laer as die res van die liggaam is, voel hy onderdanig of onseker, en moontlik bang.

Die verhale wat die stert vertel

Die ander, en miskien mees voor die hand liggende dinge waarna jy moet oplet, is jou hond se stertbeweging en die posisie van sy ore. Stert op = opgewonde. Stert in ’n natuurlike posisie = ontspanne. Stert tussen die bene ingetrek = onseker en onderdanig. ’n Stert wat in ’n wyer beweging waai, dui op speelsheid en liefde. Hoe kleiner die beweging, hoe minder seker en ontspanne is ’n hond. As die stert styf en hoog gehou word of sidder, is dit ’n duidelike bewys dat die hond aggressief is en die bedreiging waarsku om terug te staan.

Interessant genoeg word honde met gekapte sterte soos Bulldogs soms aanvanklik met wantroue deur ander honde in die park behandel omdat hulle nie hul sterttaal kan “lees” nie. Soortgelyk kry honde wat hul sterte regop of gekrul op hul rug laat lê, dikwels meer vyandige reaksies van dominante honde omdat dit as dominante lyftaal beskou word.

Luister, ek sê vir jou iets met my ore!

Die vertolking van “oor”-taal is glad nie so moeilik om te ontsyfer nie. Natuurlik verskil honde se ore beduidend. Maar die algemene aanwysings is as volg: natuurlik geposisioneerde ore = hond is ontspanne. Regop ore = hond is oplettend en ingestel op wat in sy omgewing aangaan. Ore wat hoër of meer vorentoe gehou word = hond voel aggressief. Ore agtertoe en plat of wat reguit na die kant uitsteek = hond is senuweeagtig of bang.

Die verplasingstaktiek

As jy al ooit ’n stoute hond gehad het wat ’n streng stem vereis, het jy dalk vreemde gedrag opgemerk sodra jy hom begin teregwys. Hy kan sy kop ernstig begin krap of skielik die behoefte voel om te gaap. Dit is ’n teken dat hy probeer om die aandag van hom af te trek en uit die gevaarsone wil kom.

Die goeie ou hondeskud kan beteken dat hy pas wakker geword het, maar dit is ook ’n manier om natuurlik van spanning ontslae te raak en jy sal dit dikwels opmerk wanneer jou hond jou angs of woede aanvoel.

Interessant genoeg is daardie deurslaggewende, skuldige voorkoms wat jou hond kry wanneer jy hom pas gevang het waar hy jou pantoffel vernietig, glad nie ’n skuldgevoel nie (honde ervaar nie skuldgevoelens nie), maar suiwer vrees in reaksie op jou woede. Dit is waarom straf selde werk met honde, maar positiewe versterking wonderwerke kan verrig.

Oogkontak

’n Laaste opmerking gaan oor oogkontak by honde. Die goue reël is dat direkte oogkontak in die hondewêreld as ’n uitdaging gesien word. Honde kyk mekaar selde reguit in die oë, hoewel hulle meer bereid is om oogkontak met mense te maak, veral hul eienaars.

Vernoude oë of oë wat op ’n skreef getrek is, kan aandui dat jou hond nie goed voel nie of pyn ervaar. Groter as normale oë met baie wit wat wys, is ’n goeie aanduiding dat hy angstig is en bedreig voel. ’n Direkte blik van ’n hond beteken dat hy jou uitdaag, en as dit ’n vreemde, aggressiewe hond is, is die beste ding om weg te kyk om aan te dui dat jy hom nie uitdaag nie.

’n Kalm, liefdevolle direkte blik van jou beste vriend beteken egter eenvoudig dat hy in jou belangstel en nuuskierigheid toon oor jou vreemde menslike gedrag. Buitendien probeer jou hond waarskynlik net so hard om jou lyftaal uit te pluis as wat jy probeer om syne te ontsyfer.

Hier is ’n paar handige maniere om jou te help verstaan wat jou hond sonder woorde vir jou probeer sê:

Ek is ontspanne en gelukkig:

Kop en stert gelig

Stert in natuurlike posisie of waaiend

Kalm en direkte blik, ontspanne ooglede

Natuurlik geposisioneerde ore

Ontspanne of “glimlaggende” mond

 

 

Speel met my:

Stert of lyf wat wikkel

Waaiende stert

Gebuigde voorbene en agterstewe hoog

Hyg opgewonde

Tong wat uitsteek

 

 

Ek is onderdanig:

Laer kop

Sagte oë op ’n skreef

Vermyding van oogkontak

Ontblote maag om onderdanigheid te toon

 

 

 

Ek is bang:

Stert ingetrek of laag

Laer liggaam of kop

Ore plat en oë grootoog oop

Bewende liggaam

 

 

 

Ek is gespanne en kan aggressief raak:

Staan lank en effens vorentoe

Stert hoog of reguit, beweeg miskien effens van kant tot kant

Ore na die kante gesprei of vorentoe

Maan- of rughare gelig

Wye oë en miskien ontblote tande

 

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0