Categories: Artikels, Gewasproduksie, GrondPublished On: 20th November 2024

Kenners: Herlewingslandbou maak grond gesond

By 6 min read

herlewingslandbou 1 deklaag

Kenners is dit eens dat ՚n deklaag noodsaaklik is om grondstruktuur te verbeter sodat water kan insink. (Bron: Pixabay)

Hortgro se eerste Volhoubare Voetspoor-webinaar met die tema grondgesondheid deur herlewingslandbou, is in Oktober aangebied. Nitasha Bijnath-Pillay, hoof van bronnebestuur en volhoubaarheid het die gesprek fasiliteer.

Anton de Jager van De Keur Landgoed in die Kouebokkeveld, Hendrik Pohl, ՚n konsultant in holistiese hortologie, en dr Mathhew Addison, Hortgro se navorser in toegepaste entomologie, het hulle benadering tot herlewingslandbou in die sagtevrugtebedryf toegelig.

De Keur oor Kouebokkeveld

Anton is De Keur se landboukoördineerder en aan die spits van die landbouonderneming se herlewingslandbou in die Kouebokkeveld.
Volgens Anton het hy, toe hy twee dekades gelede by De Keur begin werk het, geglo daar is ՚n chemiese oplossing vir alles en gesonde grond is ՚n bysaak. Vandag is De Keur goed op dreef om ՚n meer biologiese benadering te volg om mikroörganismes in die grond terug te sit.

“Gesonde grond verbeter nie net waterverbruik in stelsels wat van reën en besproeiing afhanklik is nie; dit bevat ook meer koolstof, om maar twee voordele te noem.”

Volgens Anton het herlewingslandbou die afgelope vier jaar tot groter oeste gelei namate die grond gesonder geraak het. Uiteindelik het die regeneratiewe boorde die ou boorde waar chemiese middels gebruik is, uitgestof en die bome was meer weerstandig teen droogte. Uiteindelik is die gebruik van chemiese bemesting en onkruiddoder uitgeskakel. Hy en sy span het bevind dat die gehalte van die kompos wat hulle voorheen gebruik het eintlik maar power was. Hy meen dit was goed genoeg as bemesting, maar het nie ‘n bydrae gelewer om die grond te verryk nie. Gevolglik het hulle hulle eie kompos begin maak en die grond in nuwe boorde waar hierdie kompos gebruik is, was aansienlik ryker as die grond in ouer boorde waar reeds drie jaar lank kompos en deklaag gebruik is.

Volgens Anton berus boerdery nie op monokultuur nie, maar op diversiteit. Die doel met die nuwe benadering is om gesonde vrugte en groente met ՚n hoë voedingswaarde te kweek – iets wat min mense nog in hierdie stadium regkry.

Herlewingslandbou sluit verskeie prosesse in wat in harmonie en nie teen die natuur is nie. Verdamping word voorkom deur ՚n deklaag van koringstrooi in boorde te gooi. Die spreiwydte van mikrosproeiers is verklein en in sommige boorde is oorgeskakel na drupbesproeiing.

Herlewingslandbou dra by tot die waterbestuurstrategie omdat gesonde grond se waterhouvermoë beter is en die grond vorm uiteindelik ՚n reservoir. Nette in sommige boorde beskerm nie net teen die fel somerhitte en hael nie, maar bring ook ՚n waterbesparing van 15 tot 18% teweeg. Dekgewasse in die boorde lei tot laer waterverbruik en groter biodiversiteit in die grond, wat verder deur wurmkompos aangevul word. Die wurmkomposaanleg word ook met herwinde papier en voedselreste van die plaas gevoed.

Volgens Anton is herlewingslandbou die sleutel tot meer volhoubare produksie van gesonde, voedsame groente en vrugte.

ZZ2 Bokveldskloof

Hendrik Pohl, ZZ2 se boordproduksiebestuurder, word as een van die leiers op die gebied van biologiese boerdery beskou. Eksperimente op die plaas Bokveldskloof fokus op die verbetering van grondgesondheid deur die gebruik van dekgewasse, die aanwending van kompos (20 m³ per hektaar per jaar), die gebruik van deklae van strooi en houtspaanders, en ՚n afname in die gebruik van chemiese bemesting en plaagbeheer.

Die benadering het gelei tot beter grondgesondheid met ՚n toename in mikrobes en fungi in die grond, asook beter waterindringing. Die
koolstofinhoud in eksperimentele boorde het van 0,4% in 2003 tot 4% in 2015 toegeneem. Bome in ZZ2 se boorde waar herlewingslandboubeginsels toegepas word, het beter wortelontwikkeling, is gesonder en het minder las van myte, nematode en wolluise. Oor die algemeen is die boorde nou ook meer weerstandig, sê Hendrik. Beter grondgesondheid en gesonder bome bied ՚n buffer teen
omgewingspanningsfaktore.

“Ons doen ekologiese boekhouding en pas nou geïntegreerde herlewingslandbou in elke aspek van die boerdery toe. Dit lei tot ՚n groter oes en vrugte van beter gehalte. “Ons glo hierdie benadering verseker dat ons landboubesigheid in die toekoms volhoubaar sal wees.”

Volgens Hendrik is die belangrikste dat die grond altyd met dekgewasse of ՚n deklaag bedek wees. Dit verander die grondstruktuur sodat die plant water en suurstof kan opneem ter wille van produksie. “Mens onderskat die grond se intelligensie en vermoë om aan die ekostelsel se behoeftes te voldoen,” sê hy.

Wanneer van ՚n konvensionele na ՚n alternatiewe boerderybenadering oorgeskakel word, sluit die boerdery aanvanklik elemente van albei benaderings in. Die fokus moet op groter oeste van goeie gehalte wees. Die koste om oor te skakel na herlewingslandbou moet per kilogram eerder as die koste per hektaar oorweeg word omdat die opbrengs per hektaar ՚n onbekende faktor is. Aanvanklik kan die koste hoog wees, maar oor die langtermyn sal die gehalte van die oes en die boord se weerstandigheid dividende lewer. Uiteindelik sal die groter biodiversiteit in die grond ook lei tot verminderde of geen chemiese insek- en onkruidbeheer. Die eerste stap na herlewingslandbou op ZZ2 se plaas was om die gebruik van chemiese onkruiddoders te staak en te vervang met natuurlike of biologiese teenvoeters.

Onkruid word eerder as pionier- of aanwyserplante beskou wat weerspieël wat in die grond gebeur soos wat die plante deur die verskillende opvolgfases vorder. Kompos wat al die voordelige mikrobes bevat word ook as kompostee-blaarsproei toegedien. Daar is met verskillende dekgewasse wat nie met boordgroei meeding nie, eksperimenteer. Voorts is diere – eers beeste en later ook hoenders – toegelaat om in die boord te wei. Die beeste beheer die pionierplante en skep ՚n bykomende inkomstestroom. Hoenders in die boorde beheer nadelige insekte soos snuitkewers selfs beter as chemiese middels.

Geïntegreerde pesbeheerprogram

Volgens dr Matthew Addison word die geintegreerde oesbeskermingsprgram (Integrated Pest Management Program (IPM) die afgelope 35 jaar in die sagtevrugtebedryf in die Wes-Kaap toegepas. Die beheerprogram is daarop gemik om pes-en siektebevolkings so laag te hou dat dit nie ՚n ekonomiese invloed op die produksie het nie. Die program maak gebruik van verskeie benaderings, insluitend feromone en die vrylating van steriele insekte om pesbevolkings te onderdruk.

IPM verskil van konvensionele plaagbeheer, wat berus op die roetine-toepassing van pes- en siektebeheermiddels wat voor die voet toegedien word. Met IPM word pes- en siektebevolkings intensief gemoniteer en bestuursaksies word net toegepas indien en waar en wanneer dit nodig is.

IPM berus ook nie net op die toediening van chemiese beheermiddels nie, maar eerder die mees geskikte metode op die regte tyd wat die minste invloed op die ekologie het. Daar word byvoorbeeld gebruik gemaak van biologiese beheer van myte en sagter alternatiewe soos berokingsmiddels, nematodes vir grondgesondheid, en herlewingslandbou. Herlewingslandbou moet landbou-ekostelsels bevorder. Dit sluit die verbetering van grond en biodiversiteit, asook die herstel van verskillende ekostelselsdienste tot voordeel van die natuur en die mens in en lei tot ՚n meer volhoubare en veerkragtige landboustelsel. Volgens Matthew sluit dit gesonde gronddiversiteit in en verskillende dekgewasse kan bydra tot gebalanseerde grondgesondheid.

Herlewingslandbou sluit ook wisselbou, die opbou van organiese materiaal in die grond en waterbestuur in en help om die vrystelling van kweekhuisgasse te versag deur atmosferiese koolstofdioksied uit die lug te absorbeer en koolstof in die grond te berg. Die verbetering en mededingendheid van die landbousektor is van groot strategiese belang. Om sulke verbeteringe volhoubaar te maak, moet dit klimaatsensitief en in ooreenstemming met die veranderende ekologiese konteks wees.

Bronverwysings

Steenkamp, E-M. (2019) Integrated Pest Management – Are we there yet? Hortgro. https://www.hortgro.co.za/news/integrated-pest-management-are-we-there-yet/
Steenkamp, E-M. (2021) Sustaining living orchards. Hortgro. https://bluenorth.co.za/wp-content/uploads/2021/06/Case-study-3_De-Keur.pdf

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0