Categories: NuusPublished On: 13th October 2022

Jy kan nie meer volhoubaar boer sonder betroubare inligting nie

By 3 min read
568 words

inteligro

Suid-Afrikaners is met reg trots op hul doen-dit-self, boer-maak-‘n-plan reaksie op die lewe se uitdagings. Wanneer dinge egter ingewikkeld raak, is goeie, onpartydige raad onontbeerlik.

Tegnologie en toegang tot inligting maak dit toenemend moontlik vir gewone mense om take te verrig wat voorheen as die domein van spesialiste beskou is. Jy kan jou oorsese reis self beplan en bespreek, geen gereg is onmoontlik met die internet wat wemel van resepte nie, en Dr. Google kom handig te pas om ‘n kwaal te diagnoseer en te dokter.

Een van die groot dryfvere van doen-dit-self, is kostebesparing. Wanneer die middelman uitgesny word, moet die produk of diens minder kos, redeneer ons. Hierdie selfde denkwyse is ‘n sterk tema in landbou op die oomblik. Geoganiseerde landbouliggame vra byvoorbeeld dat die waardeketting korter gemaak moet word om insetkostes laag en die bepaling van pryse deursigtig te hou.

“Produsente kan nie meer bekostig om deel te wees van ‘n oneffektiewe waardeketting nie,” sê Janet Lawless van InteliGro. Maar, voeg sy by, minder skakels maak nie noodwendig die ketting goedkoper nie. Die sleutel lê in elkeen se waarde.

“Agente wat slegs goeie produkte teen ‘n goeie prys en met goeie diens verkoop, is ‘n skakel wat nie meer plek het in die waardeketting nie,” verduidelik Lawless. “Vandag dring produsente aan op oplossings waarmee hulle komplekse struikelblokke uit die weg kan ruim én wat vir hulle plaas se eiesoortige omstandighede ontwikkel is. Dit is nie iets wat jy met die hulp van die internet kan ontwikkel nie.”

Die oplossings wat produsente nodig het om in die nuwe produksie- en markomgewing te floreer, sluit in:

  • Lae- en/of geen-residuprogramme wat toegang gee tot streng gereguleerde markte.
  • Betroubare en relevante data vir beter en vinniger besluitneming.
  • Opleiding vir plaaswerkers in die korrekte en veilige gebruik van produkte om aan die vereistes vir volhoubare produksie en rentmeesterskap te voldoen.
  • Programme en praktyke wat ontwikkel is vir ‘n spesifieke plaas se grondtipes, klimaat en bewerkingspraktyke. Dikwels is proewe op plaasvlak die enigste manier om werklik uit te vind wat werk en wat nie.
  • Opsies vir finansiering wat spesifieke uitdagings en geleenthede in ag neem.
  • Bestaande programme of projekte waarby produsente kan inskakel om hul rentmeesterskapverantwoordelikhede na te kom.

Onderliggend aan elk van hierdie punte, is die beginsel van onafhanklike advies wat die produsent tot voordeel strek en nie met ‘n verskuilde agenda gedeel word nie. “Ons het nou die era van vertroude besigheidsvennote betree,” sê Lawless. “Produsente koop nie meer produkte nie, hulle belê in oplossings wat op volhoubaarheid gerig is en die volle kompleksiteit van die produksie-omgewing in ag neem.”

Ten einde aan hierdie vereiste te voldoen, het InteliGro in 2021 ‘n program van stapel gestuur wat sy Gewas Adviseurs toerus om produsente van relevante, akkurate inligting te voorsien wat hulle in staat stel om munt te slaan uit die transformerende produksie-omgewing.

Met die program wil InteliGro al sy adviseurs en leerlingadviseurs mettertyd tot senior of Gesertifiseerde Gewas Adviseurs (CCAs, of te wel Certified Crop Advisors) ontwikkel. Die program is ‘n weldeurdagte kombinasie van gereelde evaluasies, tegniese en kommersiële opleiding en die ontwikkeling van persoonlike en interpersoonlike vaardighede.

Die eerste groep CCA’s het aan die einde van 2021 hul sertifikate ontvang en onlangs het ‘n verdere 14 gekwalifiseer. “Ons senior gewas adviseurs is volledig toegerus is om ‘n verskil op die plaas te maak, want soms is doen-dit-self nie die beste opsie nie,” sluit Lawless af.

Bron: Ideaengineers

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0