Jongooiklubs hou interskoukompetisie in die Karoo

jongooiklubs interskou aug
“Merino-boere in Suid-Afrika moet weet dat dit ’n voorreg is om in hierdie stadium in die wolbedryf te wees.” So sê Louis de Beer, besturende direkteur van Cape Wools. Dit is juis hierdie gesogte posisie van wolboere wat Diederik Vermeulen, NWKV-bestuurslid, skaap- en beesboer, laat besluit het om die Merinobedryf in die Karoo na ’n nuwe vlak te neem met ’n interskoukompetisie tussen jongooiklubs. Die kompetisie is in die hartjie van die Philipstown-distrik op Diederik se plaas, Vrede, aangebied.
Louis vertel in 2010 het Merinowol R57 per kg behaal. Ses jaar later, in 2016, verkoop skoon Merinowol al teen R163 per kg. “Daar is nie oortollige wol nie. 98% van die wol word op elke vei-ling verkoop, dus is daar ’n geleentheid om meer wol te produseer.”
Die klubs wat aan die interskoukompetisie deelgeneem het, was Philipstown Jongooiklub, Kraankuil Jongooi-klub, Middelburg Merino Jongooiklub, Noupoort Jongooiklub, Britstown Jongooiklub en Modern Merino.
Die oudste jongooiklub is die Philips-town Jongooiklub en Modern Merino is die lammetjie wat in 2016 die lig gesien het. Hanover, Philipstown en Colesberg se boere behoort aan die Modern Merino-jongooiklub en hulle het ook met die eerste prys as groepwenner weggestap. Diederik behoort aan die jongste en oudste klub.
Grant Naudé, voorsitter van die Modern Merino Jongooiklub, sê hulle het nog nie eens syfers om te wys nie, want die klub het in Januarie begin.
Die prys vir die beste ooi het aan Kraankuil Jongooiklub gegaan, Modern Merino het met die prys vir die beste fynwol en beste mediumwol weggestap en Philipstown Jongooiklub het die prys vir baie sterk wol verower.
“Die doel van die interskoukompetisie is om boere bymekaar te kry. Ramtelers kon gratis hulle ramme kom vertoon en so ook al die ander uitstallers wat by die geleentheid was,” sê Diederik. Die toegang was ook gratis, behalwe vir die vroue wat die kosdemonstrasie van kokkedoor Leroux van Vuuren wou bywoon.
Gawie van Wyk, produksie-adviseur van die NWKV, was die beoordelaar. Daar is na die ooie se bouvorm, tipe wol (medium, sterk of fyn), die tipe skaap, hoe sy loop en pote gekyk.
“Elke klub het agt skape gebring om beoordeel te word,” sê Diederik. Hy het nie gedink so baie mense gaan die dag bywoon nie.
Guillaume Strydom, SA skeerkampioen, het ’n skeerdemonstrasie kom aanbied. Guillaume het op Frankfort in die Vrystaat grootgeword en sy pa is ’n beesboer. “My oupa het darem skape gehad,” sê hy.
Hy het destyds met die hand begin skeer en later, ’n kursus wat die NWKV aangebied het, in Frankfort bygewoon. “Die masjiene skeer baie makliker en lekkerder.”
Die vinnigste wat hy nog ’n skaap geskeer het was 39 sekondes.“Van die beste skape kry jy in die Karoo, daarom oorweeg ons dit om volgende jaar voort te gaan met hierdie kompetisie,” sê Diederik.
Louis de Beer voeg by dat ons land met voedselsekuriteitsuitdagings en armoede sit. “Die wolbedryf het antwoorde daarvoor,” sê hy.

Modern Merino (Hanover, Philipstown, Colesberg) het die interskoukompetisie tussen die jongooiklubs in Philipstown-distrik gewen. Hulle was ook die jongste jongooiklub by die kompetisie. Van links voor: Niel Smit, Ivan Maskell, Kleintjie Retief, Diederik Vermeulen, PW de Vos en Fanie Naudé. Agter van links is Willem Retief en Grant Naudé.
