Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 28th April 2023

Hoekom hou bye soms nie van uieblomme nie?

By 7 min read

ball-1468936_960_720

deur Tisha Steyn

Heuningbye wat soms nie lus het om op uieblomme te werk en dit te bestuif nie, is wêreldwyd ՚n probleem. “Dit bly ՚n raaisel waarom bye soms weier om uieblomme te bestuif,” sê Charles Salmon, wat onlangs by die Afrika Apimondia-streeksimposium in Durban sy navorsing oor die verskynsel gedeel het.

Suid-Afrika, veral die Klein-Karoo, is een van die grootste uiesaadpro­dusente ter wêreld en dit is die land se waardevolste groentesaadoes. Maar bye, as die belangrikste bestuiwers van uiesaad, ignoreer al jare lank van tyd tot tyd uieblomme wat tot power bestuiwing en swak saadopbrengs lei.

Soms stel nie eens die bye in kom­mersiële korwe wat teen groot koste van elders af ingebring word, stel soms belang in die uieblomme nie. “Niks help nie; as die bye nie op die uieblomme wil werk nie, kan niks hulle oorreed om dit te doen nie.”

Charles, self ՚n byeboer en ՚n senior voorligtingsbeampte van die Wes- Kaapse Departement van Landbou, se meestersgraad in Landbou by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (CPUT), het gefokus op watermanipulasie (besproeiing) tydens die blomtyd van Texas Grano-uiesaad, hoe dit heuningbye se besoeke en die saadopbrengs beïnvloed het.

Heuningbye is die hoofbestuiwers op uielande, (Foto: Pixabay)

 Navorsing by Ladismith

Charles se navorsing is die eerste en enigste wat sover oor dié verskynsel wat ՚n geweldige impak op uiesaad­produksie hier en elders het. “Verliese kan tot 44% van die jaarlikse produk­sie beloop en selfs meer,” sê Charles.

“Dis ՚n globale probleem en niemand weet regtig waarom die bye soms by uieblomme verbyhou nie.”

Die huidige opvatting dat besproeiing natuurlike afweermiddels in die plante vrystel en/of lei tot ՚n laer suikerkon­sentrasie in die blomme, het gelei tot sy navorsing op sy tuisdorp Ladismith in die Klein-Karoo.

Hy het die verband tussen saad­produksie, besproeiing en die besoeke van heuningbye en ander insekte op ՚n uieland, wat in 56 proefblokkies opge­deel is, gemoniteer.

Gedurende die blomseisoen het hy verskillende hoeveelhede water gegee en opgeteken wanneer en watter bestuiwers, veral bye, die blomme be­soek. Uiteindelik het hy die sukses van die saadproduksie in elke proefblokkie opteken en die verskillende proewe se uitslae met mekaar vergelyk.

Hy het bevind dat die hoeveelheid water wat toegedien is geen invloed op die besoeke van bye en ander bestuiwers in die oggende gehad het nie, en ՚n klein maar beduidende invloed op byebesoeke en die algemene byebedrywigheid in die namiddae. Soos te verwagte, het saadproduksie ՚n noue verband met die besoeke deur insekte getoon.

Die afleiding kon gemaak word dat besproeiing gedurende die blomfase nie verantwoordelik is vir die periodieke on­aantreklikheid van saaduie vir bye nie.

Nog navorsing nodig

Charles Salmon verduidelik sy navorsing oor die invloed van besproeiing op die bestuiwing van uie tydens die onlangse Afrika Apimondia-simposium in Durban. (Foto: Facebook)

“Meer navorsing moet gedoen word om die aanloklikheid van die nektar en stuifmeelsamestelling van verskillende uiekultivars se blomme vas te stel,” sê Charles. “Wanneer ՚n basislyn vir die aantreklikheid van die kultivar vasgestel is, sal dit moontlik wees om kultivars te kweek waarvan die nektar en stuifmeel meer aanloklik vir die bye sal wees.”

Dit is ook belangrik om vas te stel of die stuifmeel tussen die hibriede kultivars versoenbaar is, aangesien stuifmeel vanaf een kultivar na ՚n an­der oorgedra moet word. Die klem van die navorsing moet val op faktore wat die lewensvatbaarheid van stuifmeel in hibriede uiekultivars kan beïnvloed.

Dit is ook noodsaaklik om die wei­dingsgedrag van die heuningbye met betrekking tot natuurlike faktore soos temperatuur, reënval, korfaktiwiteit en insek-aktiwiteit vas te stel.

“Dié inligting sal die bedryf help om vas te stel of dit ՚n aanduiding is van moontlike komplikasies met bestuiwing van uiekultivers deur heuningbye.”

Die kweek van uiesaad is die belangrikste groentesaadproduksie in Suid-Afrika. (Foto: Pixabay)

Nog moontlike redes

Daar is baie redes, sê Charles, maar die regte antwoord bly die ganse wêreld ontglip.

In 1972 is daar al gekyk na die nektarsamestelling van verskillende uiekultivars om vas te stel wat die rede vir die bye se onwilligheid is om op uieblomme te werk.

Sommige mense meen hoë kalium-vlakke maak die nektar bitter, terwyl ander meen te veel swael in die water of bemesting verleen ՚n skerp swael­reuk aan die uieblomme, wat die heuningbye laat verbyhou.

Nog ander meen hoë temperature of hoë humiditeit het ՚n invloed. “Daar is baie redes wat die oorsaak kan wees, maar wêreldwyd kon niemand nog ՚n vinger op die ware rede lê nie. Wat dit moeiliker maak, is dat daar sommige jare geen probleme is nie, terwyl daar ander jare massiewe probleme is. Die groot vraag bly: waarom is uieblomme in sekere seisoene of tye binne ՚n sei­soen nie vir bye aantreklik nie?

Oplossings bly ontwyk

“Dit help nie om korwe te vervang nie – desperate boere het byvoorbeeld korwe van die Suid-Kaap af vervang met korwe uit die Weskus, maar tever­geefs. Dit help ook nie om bykomende bye by te sit nie, want as die bye nie op uie wil werk nie, werk hulle net nie.”

Hy vermoed uieheuning is aanvaar­baar vir bye, want soms is daar tog geen probleem nie. “Dis ook nie net die bye wat ophou werk nie, ander bestui­wers hou ook op.”

Goeie reën, soos wat vanjaar in die Klein-Karoo geval het, lei tot baie veld­blomme wat meer aantreklik vir die bye is. “Ons weet nie of reën of droogte die uieplante fisiologies verander nie – dalk gebeur iets wat die blomme onaantrek­lik vir die bye maak.”

Gewone hitte en koue beïnvloed die bye se werk op die land, maar hulle pas aan deur net later in die dag te begin werk, terwyl hulle die warmste tyd van die dag in die korf bly, maar hulle hou normaalweg nie op werk nie! As die bye regtig wegbly van die uieblomme af, gaan hulle vir die volgende drie, vier weke nie weer terug nie, en dan is dit ՚n groot krisis.”

Die saad van die verskillende uiekultivars moet so suiwer moontlik gehou word. (Foto: Pixabay)

Bestuiwing

Die ingewikkelde bestuiwingspatroon vir die verskillende uiekultivars maak dit ook nie makliker nie.

Bestuiwing van die verskillende uiekultivars vind op verskillende tye plaas: Lente-uie is van einde Septem­ber tot middel Desember in die blom, terwyl gewone uie van middel Oktober tot middel Desember blom.

In ՚n homogene land kry ՚n mens ooplyn-kultivars, waar al die plante van dieselfde kultivar is en die man­like en vroulike blomme op dieselfde plante voorkom.

By basterkultivars word die manlike en vroulike plante in afsonderlike rye langs mekaar en gewoonlik in ՚n ver­houding van een ry manlik en drie rye vroulike plante geplant. By basterkultivars het die manlike plante stuifmeel wat na die vroulike plant oorgedra moet word. Die bye moet van die ry manlike plante na die ry vroulike plante vlieg om die stuif­meel oor te dra.

In 11,9% van die gevalle werk die bye van die manlike plant na die vrou­like plant toe; in 2,4% van die gevalle werk die bye van die vroulike plant na die manlike plant toe, en in 85,7% van die gevalle werk die bye in die ry af, dus net op manlike of net op vroulike plante. Die bestuiwingspatroon kan ook ՚n invloed op bestuiwingsukses hê.

Om saad suiwer manlik of suiwer vrou­lik te hou, word die manlike plante na bestuiwing verwyder. “Sommige boere werk dit in die grond in, ander pluk die manlike plante uit en gooi dit op ՚n hoop ver van die lande af sodat daar nie eens een pit van dié plante tussen die sade van die vroulike plante beland nie.”

Kwarantyngebiede tussen uiesaadlande is nog ՚n manier om die saad suiwer te hou. Vir sommige kultivars, moet daar 1,5 km tussen die lande wees, vir ander 2 km, en tussen rooi- en wit uie moet die afstand 6 km wees. Dit maak dit nogal moeilik vir boere wat beperkte geskikte grond op hulle plaas het.

Maar dit is alles die moeite werd, want die kweek van uiesaad is baie winsgewend, mits die saad suiwer is EN die bye hulle kant bring!

Kontakbesonderhede

Kontak Charles Salmon by 082-651-7466 of Charles.Salmon@western­cape.gov.za

Bronverwysings

Steyn, T. (2022) Veldblomme lok bye uit saadlande. ProAgri https://www.proagri.co.za/veldblomme-lok-bye-van-saadlande/  

Onions. BeeAware. https://beeaware.org.au/pollination/pollinator-reliant-crops/onions/

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment