Categories: Artikels, Vee en WildPublished On: 23rd January 2025

Hittespanning 1: Wees jou vee, varke en pluimvee genadig

By 5 min read
910 words

view-water-tank-storage

Ekstensiewe veeproduksie word deur omgewingsfaktore, weiveldplantegroei of voer, veranderinge in die verspreiding van peste en siektes en die beskikbaarheid van water beïnvloed. Hitte is egter die grootste faktor wat vee se gesondheid en die gehalte van veeprodukte beïnvloed.

Die Smart Agriculture for Climate Resilience-projek (SmartAgri), wat in 2014 deur die Wes-Kaapse Departement van Landbou en Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning van stapel laat loop is, verskaf ‘n praktiese en toepaslike reaksieplan teen klimaatsverandering, wat ook riglyne vir die res van die land inhou. Volgens navorsing in die Wes-Kaap, kom dit kortliks daarop neer dat veral melkbeeste, voerkraalbeeste en die donkerder Bos taurus-rasse sensitief is vir hittespanning, wat volgens alle aanduidings in die toekoms meer gereeld sal voorkom.

Volgens dié verslag verlaag hittespanning melkproduksie en vrugbaarheid in melkbeeste, soos alle boere reeds
lankal weet. Die risiko bestaan ook dat skape en vleisbeeste se groei- en voortplantingsvermoë kan afneem, vleisopbrengs en -gehalte kan afneem, wolproduksie en -gehalte kan afneem, en dat sterftes en siektes weens hitte- en voedingspanning kan voorkom.

Vir veeboere is raskeuse die vernaamste aanpassing wat reeds gemaak word. Alternatiewe dieetaanvullings kan ook die uitwerking van hittespanning verminder. In laereënvalgebiede of gedurende tye van lae reënval gebruik boere reeds ngekoopte kommersiële dieetaanvulling, soos pluimveereste en ureumblokke, aangeplante weiding, wat droëland- of weiveld onder besproeiing insluit, en gebergde voer soos kuilvoer, hooi, staande hooi en oesreste. Daar is ook die vooruitsig op die gebruik van nuwe voere van verskeie bronne soos tuinbou-oesreste, wynmakery-neweprodukte, en insekte en wurms wat alternatiewe bronne van energie en proteïne vir vee kan word.

Sommige boere dun hulle kuddes uit; verander hulle vee-samestelling; diversifiseer; pas sekere aktiwiteite se tydsberekening aan; verander veeroetes en afstande wat diere moet loop; verander veedigthede; maak gebruik van beurtweiding en multispesie-weiding; herbesaai weivelde met verbeterde grasse en peulplante om by droogtes aan te pas; en verbeter waterbestuur. Dieregesondheidsmonitering en -bestuur kan ook verbeter word.

Hittespanning en ekonomiese verliese

Namate aardverwarming tot meer uiterste hitte- en droogtetoestande lei, raak die invloed nog groter. Boere moet alles in hulle vermoë doen om hulle diere teen hitte en hulleself teen ekonomiese verliese te beskerm. Navorsers meen die nadelige invloed van hittespanning kan vererger indien vee geteel word vir produksievermoë eerder
as hulle natuurlik weerstand teen en aanpasbaarheid by klimaatsveranderings.

Herkouers, varke en pluimvee is weens hulle vinnige metabolisme, hoë metaboliese hitteproduksie, vinnige groei en die hoë vlak van produksiedruk uiters vatbaar vir hittespanning. Hulle het ‘n optimale temperatuurreeks of termoneutrale sone waar geen bykomende energie vir termoregulering nodig is nie. Wanneer omgewingstoestande of ‘n kombinasie van lugtemperatuur, uitstraling van die son, beweging van die lug en relatiewe humiditeit buite hierdie termoneutrale grense toeneem, styg die kernliggaamstemperatuur, wat ‘n nadelige uitwerking op die dier het.

Omdat varke en hoenders nie funksionele sweetkliere het nie, varke ‘n dik laag vet onder die vel en hoenders vere het, is hulle besonder sensitief vir hittespanning. Die hitte wat deur gisting van die voer in die grootpens van herkouers veroorsaak word dra by tot metaboliese hitteproduksie wat die diere se termoregulering beïnvloed.

Wanneer die dier hoe omgewingstemperatuur en humiditeit ervaar, lei dit tot ‘n outomatiese reaksie soos vinniger
hartklop en hoër respirasie, verhoogde liggaamstemperatuur, ‘n herverspreiding van die bloed van die ingewande na die vel vir termoregulering en ‘n hoër energieverbruik vanaf die liggaam se reserwes. Wanneer die dier weens hittespanning na asem hyg, lei dit tot respiratoriese alkalose, wat vinnig gebalanseer word wanneer die dier urineer, maar dit verlaag die bloed-pH, wat tot metaboliese asidose (suurvergiftiging) lei. Tydens metaboliese asidose is daar ‘n groter afhanklikheid van anaërobiese metabolisme om energie in die spiere op te wek. Dit lei tot laktaat, (lactic acid) wat vroeë rigor mortis na dood veroorsaak en wat ‘n invloed op die gehalte van die vleis het.

Hittespanning by pluimvee is een van die belangrikste omgewingspanningsfaktore wat die produktiwiteit en
welsyn van pluimvee in intensiewe en uitgebreide stelsels wêreldwyd beïnvloed. Moderne pluimveegenotipes word klaarblyklik meer deur hittespanning beïnvloed as niegeselekteerde of inheemse rasse, wat deur die rasse se verhoogde metaboliese hitteproduksie en vinniger groeitempo bevoordeel word.

Daar is dus ‘n sterk negatiewe verwantskap tussen liggaamstemperatuur, hitteverdraagsaamheid en eienskappe van ekonomiese belang. Akute hittespanning voordat die diere geslag word beïnvloed die gehalte en veiligheid van die vleis vir menslike gebruik. Patogene soos onder meer salmonella is ‘n groot bekommernis vir die ekonomie en veral vir openbare gesondheid. Daar is amper daagliks berigte oor produkte wat weens patogene van winkelrakke onttrek word. In die volgende artikels word riglyne verskaf vir die hantering van beeste, skape, varke en hoenders wanneer die kwik styg.

Varke is besonder sensitief vir hittespanning, maar daar is maniere, soos om die oppervlak waarop hulle lê aan
te pas, om hulle te help afkoel. (Bron:https://www.alltech.com/blog/keep-cool-summer-how-treat-heatstress-pigs)

Bronverwysings

Gonzalez-Rivas, P.A., Chauhan, S.S., Ha, M., Fegan, N., Dunshea, F.R., Warner, R.D. (2019) Effects of
heat stress on animal physiology, metabolism, and meat quality: A review. ScienceDirect https://doi.org/10.1016/j.meatsci.2019.108025

https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/S0309174019304917

SmartAgri: ’n Status Quo – Oorsig oor Klimaatsverandering en die Landbousektor in die Wes-Kaap https://www.greenagri.org.za/assets/documents-/SmartAgri/Briefs-/Afrikaans-1-Brief-for-the-Grain-and-
Livestock-sector-Web.pdf

Hoenders kry sommer gou warm, maar inheemse rasse kan hitte beter hanteer as rasse wat vir produksie geteel word. (Bron: https://www.poultryworld.net/ specials/tips-and-tricks-for-feedingduring- heat-stress/)

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0