Categories: Artikels, Gewasproduksie, SA295-gewasproduksiePublished On: 20th August 2024

Groentetuin vir beginners 14: Vrugtebome vir jou tuin

By 6 min read
1206 words

boom 8

Vrugtebome is ՚n gawe toevoeging tot jou groentetuin. Buiten die vrugte wat jy pluk en gebruik, kan ՚n vrugteboom op die regte plek ՚n mooi fokuspunt vorm.

՚n Olyfboom, suurlemoenboom en ՚n vyeboom is maar drie van talle vrugtebome wat feitlik oral goed aard en ՚n vrygewige oes lewer. Appelkose, perskes en pruime is steenvrugte wat ook in verskillende streke goed aard en met ՚n bietjie moeite vir ՚n heerlike, vars eetervaring kan sorg.

Olyfboom

Olyfbome is aangepas by ՚n Mediterreense klimaat en floreer in volson. Die bome het egter redelike lae wintertemperature nodig om blomen vrugvorming te stimuleer en jong bome, lote en blomhofies kan deur erge koue beskadig word. Plant die saailing in goedgedreineerde, klipperige grond in ՚n gat van minstens 80 cm diep. Olyfbome is redelik droogte-, siekte- en insekbestand. Die vrugte word met die hand gepluk of met ՚n plastiekhark van die takkies afgetrek. Plaas ՚n seil of ou kombers op die grond wat dit makliker maak om die olywe bymekaar te maak. Die verwerking van vars olywe om die bitterheid van die vrug te onttrek is

՚n lang proses, maar beslis die moeite werd. Lees meer hier: https://proagri.co.za/die-olyfbedryf-in-suid-afrika/

Suurlemoene

Soos ander sitrusvrugte, verkies suurlemoene ՚n tropiese of subtropiese klimaat, maar kan koue weerstaan indien die jong boom in die winter beskut word. Drie variëteite is in Suid-Afrika gewild, naamlik Eureka, Meyer en die ou dikskilsoort. Eureka het nie dorings of pitte nie en het ՚n gladde skil. Die variëteit verkies ՚n meer gematigde klimaat en wanneer die boom gevestig is, dra dit feitlik heel jaar deur.

Meyer is ՚n meer geharde, kleiner boom met sappige vrugte wat ook bykans heeljaar deur dra. Die Kaapse growweskil het ՚n dik, growwe skil, maar talle kokke verkies dié vlesige, sappige suurlemoen. Plant die jong boompie in goedgedreineerde grond en gee een of twee keer per week goed water, veral wanneer hulle vol bloeisels en klein vruggies is. Minder water is nodig wanneer oestyd nader en sorg dat die boom se wortels nooit deurweek is nie. Wanneer jong vruggies afval is dit ՚n aanduiding dat die boom nie genoeg water kry nie.

Voed die bome vier keer per jaar in Julie, September, Januarie en April met 3:1:5 of 8:1:5 om ՚n goeie oes te verseker. Moenie kompos of kunsmis tot teenaan die stam gooi nie, maar eerder op die druplyn waar die druppels val wanneer die boom besproei word. Maak goed nat voor en na kunsmis toegedien word. Suurlemoenbome word net gesnoei om ՚n mooi vorm te verseker en om siek takke en blare te verwyder om te keer dat siekte versprei.

Rooimytspinnekop veroorsaak dat knoppies op die blare vorm en die blare opkrul. Spuit gereeld met ՚n organiese insekdoder. As gesonde blare begin uitgroei is dit ՚n aanduiding dat die pes onder beheer is. Oes die suurlemoene net voor jy dit gaan gebruik. As jy dit ՚n rukkie wil hou voordat jy dit gebruik moet jy dit met ՚n snoeiskêr afknip met ՚n stukkie stingel aan.

Vyeboom

Vye is aangepas by ՚n Mediterreense klimaat met ՚n warm, droë somer en ՚n gematigde winter. Die gewilde vrug is tradisioneel in marginale grond soos sand aangeplant, maar ryker grond met ՚n suurgehalte (pH) van 6 of 6,5 en genoeg stikstof sorg vir ՚n groter oes. Drupbesproeiing en ligte, maar gereelde besproeiing is beter as ՚n weeklikse diep week. Vyebome het vlak, verspreide wortelstelsels. Hulle is sensitief vir peste soos nematode en stamboorders. Die bome word gedurende Junie tot September gesnoei om die son toe te laat om die vrugte te bereik en yler takke maak dit makliker om die ryp vrugte te oes. Daar is talle variëteite wat in verskillende streke aangeplant word. Afhangend van die variëteit en die gebied, begin die oesseisoen in November of Desember en duur tot April of Mei.

Die Adam-variëteit, wat tot vyf meter hoog en wyd groei, is een van die gewildstes in Suid-Afrika en is vroeër jare gereeld in die kombuiswerf aangeplant. Die vye word laat in Maart tot April ryp en is lekker net so vars, maar die wat jy nie opgeëet kry nie, maak heerlike konfyt en blatjang en droog goed. Die Cape Brown is ՚n stadige groeier wat sowat twee meter hoog en wyd word en dus geskik is vir ՚n klein tuin of in ՚n houer.

Die boom dra goed en die vrugte word vanaf einde Januarie ryp. Wanneer die vye begin ryp word moet dit elke dag geoes word om goeie gehalte te verseker. Dit is beter om die vye vroegoggend te oes wanneer die vye sowat 70% ryp is, wat keer dat die voëls by die ryp vye uitkom voor jy kans kry om dit te oes. Vye kneus maklik en moet met sorg hanteer word. Dit is beter om handskoene en lang moue en selfs ՚n serp te dra, omdat die wit melk blase op die vel kan veroorsaak.

Verskillende pruimvariëteite is by kwekerye beskikbaar. (Bron: Pixabay)

Steenvrugte

Appelkose en pruime is gewilde toevoegings tot ՚n groentetuin. Appelkoosbome (Prunus armeniaca) word sowat 5 m hoog en wyd. Die boom aard goed in effens alkaliese grond in gebiede met ՚n warm, droë somer met lae reënval en koue winters. Appelkoosbome is selfbestuiwend. Verskillende variëteite word op verskillende tye ryp.

‘Alpha’, wat groot geel vrugte dra, en ‘Early Cape’ word vroeg in die seisoen ryp; ‘Piet Cillie’ hou van ՚n matige klimaat en word middelen laatseisoen ryp; ‘Peeka’, wat oranje vrugte dra, word laat in die seisoen ryp. Perskes (Prunus persica) het ՚n wollerige of gladde skil en ՚n los- of taaipit. Nuwe variëteite aard in enige klimaat.

‘Desert Gold’ is ՚n vroeë perske wat in Oktober ryp word, ‘Oom Sarel’ word in Desember ryp en ‘Kakamas’ dra groot, goudgeel vrugte wat in Januarie ryp word en vir inmaak geskik is. Pruime (Prunus domestica) groei in feitlik enige klimaat. ‘Santa Rosa’ se donkerrooi vrugte is in Desember ryp, terwyl ‘Harry Pickstone’, ՚n taaipitvariëteit, in Januarie ryp word.

Plantwenke vir vrugtebome

  • Plant vrugtebome in die winter, wanneer die bome in rus is, in goedgedreineerde grond wat met kompos verryk is.
  • Beskerm jong boompies teen ryp.
  • Maak ՚n dammetjie om die stam en verwyder gras en onkruid wat sal meeding met die jong boompie se oppervlakwortels.
  • Gooi ՚n organiese deklaag in die dammetjie, maar nie tot teen die stam nie.
  • Maak deeglik nat in die somer wanneer groei en vrugvorming plaasvind.
  • Voed jong bome met 375 g kunsmis in die lente en somer, en pas die hoeveelheid aan vir groot bome. Versprei die kunsmis binne die druplyn van die boom en lei goed nat.
  • Snoei in ՚n kelkvorm in die winter en verwyder dooie of siek takke. In die somer word die boom net gesnoei wanneer die boom te dig groei.
  • Vrugtevlieë is die grootste probleem, maar kan met chemiese en organiese middels beheer word.

Bronverwysings

Anthony, D. (2014) Enigeen kan groente kweek. Metz Press ISBN 978-1-928201-12-0

Barnard, S. (2017) Pluk die vrugte. Netwerk24 https://www.netwerk24.com/tuis/Tuine/Tuindagboek/plukdie-vrugte-20170914

Louw, M. (2024) Fig Farming in South Africa. Southafrica.co.za https://southafrica.co.za/figfarming.html

Ludoph, N. (2022) Learn all about farming with figs. Foodformzansi.co.za. https://www.foodformzansi.co.za/learn-all-about-farming-with-figs/

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1