Groeistadiums en ontwikkeling by sonneblomme

sunflower-1627193_1280
Die totale groei en ontwikkeling van sonneblomme en die tydsduur tussen verskillende groeistadiums, word bepaal deur die interaksie tussen die genetiese agtergrond van die plant en seisoenale omgewingsfaktore.
Om te bepaal op watter groeistadium van ontwikkeling ‘n land is, is dit noodsaaklik om ‘n groot hoeveelheid plante wat verspreid oor die land voorkom, te evalueer. As dit kom by reproduktiewe groeistadium-identifisering op die kop (‘n drieweg-kruistipe plant is ter sprake), is ‘n verteenwoordige evaluering van die land uiters belangrik. As evaluasies gedoen word op koppe tussen groeistadiums R7 tot R9, maak seker dat gesonder, ontwikkelde koppe geëvalueer word.
Vegetatiewe groeistadiums

Opkoms V-E
- Die saailing het ontkiem en die eerste blaar na die saadlobbetjies is minder as 4cm lank.
Vegetatiewe stadium V
- Die vegetatiewe stadiums word bepaal deur die aantal ware blare, blare wat ten minste 4cm lank is, V1, V2, V3, ens.
- Indien die eerste blare nie meer aan die onderkant van die stam sigbaar is nie, tel die aanhegtingspunte (uitgesluit die aanhegtingspunte van die saadlobbe).
- V-1, V-2, V-3
Reproduktiewe groeistadiums


Reproduktiewe stadiums R – 1 tot R – 9.
R – 1 Die eindpunt of groeipunt vorm ‘n klein blomknoppie, eerder as ‘n bos saamgestelde blare. Van bo gesien neem die saamgestelde skutblare die vorm van ‘n veelvuldige sterretjie aan.
R – 2 Die onvolwasse klein blomknoppie bly groei en die naaste (hoogste) blaar op die stam is omtrent 2cm vanaf die blomknoppie. Die sterstadium is gewoonlik R1 en/of R2.
R – 3 Die onvolwasse, nou blomknop, verleng tot meer as 2cm vanaf die naaste (hoogste) blaar op die stam. Ignoreer die blare wat direk agter die kop ontwikkel.
R – 4 Die bloeiwyse begin oopmaak. Van bo gesien is ligtegeel, onvolwasse kroonblare in die middel van die blom sigbaar.
R – 5 Die begin van blom. Hierdie stadium word in verskillende stadia opgedeel, 5,1 tot 5,9, afhangend van hoe ver die koparea ontwikkel en gevul is.
Van buite na binne: 5,4 dui op 40% voltooi en 5,7 op 70% voltooi. 50% blom is nie dieselfde term wat gebruik word om 5,5 groeistadium aan te dui nie. Vandat die land begin blom, is 50% ‘n aanduiding dat die land al 50% van ‘n geel skynsel of geel blomme toon.
R – 6 Die blomstadium is voltooi en die geel kroonblare verlep.
R – 7 Die agterkant van die kop begin liggeel vertoon. Die oorgang is liggeel terwyl die skutblare nog donkergroen vertoon. Dit is steeds oorheersend groen aan die agterkant van die kop met die ligtegeel skynsel.
R – 8 Die agterkant van die kop is helder en duidelik geel, terwyl die skutblare steeds groen vertoon.
R – 9 Die skutblare verkleur geel met bruin vlekke en merke op. Soms bly die skutblare groen, maar eers as dit geel verkleur Is die plant fisiologies ryp, R – 9. Dis nie nodig om te wag dat die agterkant van die kop ook bruinerig verkleur nie.
Baie van die volseisoen groeilengte basters se koppe is reeds fisiologies ryp, maar die stamme is nog donkergroen. Die plante is reeds fisiologies ryp en die koppe sal lank voor die stamme afdroog. Sommige mediumgroeiseisoen basters se stamme en koppe droog gelyk af. Hier moet tydige stroping toegepas word, anders verloor die produsent op massa.
Bronne:
Schneiter, A.A., NDSU Professor.
Miller, J.F., USDA – ARS.
Berglund, D.R. emeritus NDSU extension agronomist.
“Sow a seed today and reap a harvest of abundance tomorrow” – Philip Fourie, Oktober 2023
Vir meer inligting gaan na www.pioneer.com/za of stuur ‘n e-pos na info.rsa@pioneer.com