Categories: Artikels, Vee en Wild, VoedingPublished On: 5th March 2025

Grasse van Suid-Afrika: Deel 14

By 4 min read
806 words

summer-816475_1920

Krulblaar-fynsaadgras (Sporobolus nitens)

Krulblaar-fynsaadgras groei in die bosveld en soms in grasvelde. Hierdie gras het ՚n lae blaarproduksie en is onbelangrik vir weiding. Dit speel ՚n belangrike rol teen erosie.

Hoe ken ek dit uit?

• Blare kort en breed
• Bloeiwyse eindig met ՚n skerp punt
• Blompakkies aan die punte van vertakkings gegroepeer

Olyf-fynsaad (Sporobolus centrifugus)

Olyf-fynsaad groei in hoogliggende grasvelde met goed gedreineerde grond. Dit is ՚n onbelangrike weigras en word selde bewei, omdat dit sulke harde blare het.

Hoe ken ek dit uit?

• Blare smal en draadvormig
• Blompakkies is klein en olyfgroen
• Bloeiwyse is ՚n saamgetrekte pluim

Ruigtegras (Miscanthus capensis)

Kom voor in grasveld, bosveld en fynbos. Die harde, veselagtige blare veroorsaak dat dit nie gereeld bewei word nie. Dit word soms as dekgras gebruik en is ՚n gewilde tuingras.

Hoe ken ek dit uit?

• Halms onvertak
• Bloeiwyse is harig en bruin of grys
• Knope is donker en behaar

Rondeblaar-ruigtegras (Miscanthus junceus)

Hierdie gras groei op rivieroewers en in vleie, gewoonlik in sandgrond. Rondeblaar-ruigtegras het ook harde blare, wat dit ՚n swak weidingsgras maak. Dit speel ՚n belangrike rol in watersuiwering.

Hoe ken ek dit uit?

• Blare is rond en glad
• Blaarskede is haarloos
• Groei altyd by water

Pylblaargras (Setaria sagittifolia)

Pylblaargras kom in die bosveld voor, in die skadu. Hierdie gras het ՚n gemiddelde weidingswaarde.

Hoe ken ek dit uit?

• Groei in skadu
• Blompakkies is rond
• Blare lyk soos ՚n pylpunt

Volstruisdoring (Cladoraphis spinosa)

Volstruisdoring kom voor in diep, los sandgrond, veral in die karoo en Namibwoestyn. Dit is een van die gehardste grasse in ons streek. Hierdie gras word selde bewei.

Hoe ken ek dit uit?

• Bloeiwyse se pluim het stekelrige pendoringvertakkings
• Blare is kort of afwesig
• Blaarskede is los van die halms

Kuilgras (Leptochloa fusca)

Kuilgras groei altyd in of naby waterbronne, gewoonlik in kleigrond. Dit kan goed groei in brakgrond, solank daar genoeg vog beskikbaar is. Hierdie gras is smaaklik en word goed benut vir weiding.

Hoe ken ek dit uit?

•Halms vertak vanaf onderste knope
•Hele plant is haarloos en dowwe groen
•Blaarskyf is plat met geronde punt

Riviergras (Arundinella nepalensis)

Riviergras kom voor in gras- en bosvelde. Dit is lief om in nat gebiede te groei. Hierdie gras is waardevol vir weiding tydens groeiseisoen, daarna word dit te hard en onsmaaklik.

Hoe ken ek dit uit?

•Algemeen in nat gebiede
•Knope is wit
•Versprei deur kruipende risome

Limpopo-gras (Echinochloa pyramidalis)

Limpopo-gras groei in bosveld-, grasveld- en fynbosstreke. Dit groei in staande water of dryf soms op die oppervlak. Veral langs mere is hierdie ՚n baie belangrike weigras.

Hoe ken ek dit uit?
•Blaarskyf het skurwe rande
•Kort risome of stolons
•Groei altyd op nat plekke

Watergras (Echinochloa colona)

Watergras groei daar waar reënwater versamel, soos by panne, vleie en riviere. Dit groei ook in tuine en landerye. Wêreldwyd is hierdie gras bekend as ՚n onkruid. Dit is ՚n smaaklike gras wat onder die regte toestande goeie blaarproduksie kan lewer. Dit word soms gebruik om hooi en kuilvoer mee te maak.

Hoe ken ek dit uit?

•Ligula is afwesig
•Halms is onvertak
•Onderste knope is knievormig

Katstertturfgras (Dinebra retroflexa)

Katstertturfgras groei goed in die bosveld in versteurde grond. Dit is lief vir water en skadu. Hierdie gras in nie goed vir weiding nie, as gevolg van die lae blaarproduksie. In sommige gebiede is dit ՚n onkruid.

Hoe ken ek dit uit?

•Hele plant het pers skakerings
•Groei in versteurde kleigrond
•Eenjarige polgras

Bruinsaadvingergras (Digitaria diagonalis)

Bruinsaadvingergras groei teen skuinstes in sandgrond en soms op klam plekke. Dit het ՚n gemiddelde tot lae weidingswaarde, omdat die blare hard en onsmaaklik is, hoewel dit goed blare produseer.

Hoe ken ek dit uit?
•Blompakkies is bruin tot swart
•Ou blaarskedes breek op in vesels
•Knope het pers skakerings

Kleinrolgras (Trichoneura grandiglumis)

Kleinrolgras groei goed in sandgrond en teen klipperige hellings. Dit is ՚n onsmaaklike gras met min blare en word dus nie sommer bewei nie.

Hoe ken ek dit uit?

•Die hele bloeiwyse breek af wanneer dit ryp is
•Vertakkings van bloeiwyse is styf en horisontaal
•Bloeiwyse is groot in vergelyking met die res van die gras

Vleivingergras (Dichanthium annulatum)

Vleivingergras groei in die bosveld en in die karoo. Dit groei goed in kleigrond. Hierdie smaaklike gras het ook ՚n hoë blaarproduksie en is dus uitstekend vir weiding. Dit kan ook swaar beweiding dra.

Hoe ken ek dit uit?

•Blaarskyf met verdikte blaarrand
•Groei in kleigrond
•Het ՚n ring wit hare rondom die knope

ProAgri sê dankie aan Frits van Oudtshoorn wat sy boek, Grasse van Suider-Afrika, beskikbaar gestel het as ՚n handleiding vir die reeks. Frits is ՚n weidingskonsultant en kan gekontak word by (+27)78-228-0008 of frits@alut.co.za.

Indien jy belangstel om meer oor die grasse van Suider-Afrika te leer, kan jy Frits se boek koop by Soutpansbergweg 121, Riviera, Pretoria of aanlyn via marketing@briza.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0