Categories: Artikels, Vee en Wild, VroueboerPublished On: 8th August 2024

Formidabele vroue in landbou: Marzanne Roets

By 7 min read
1306 words

U

Marzanne en haar man, wat sy as haar beste vriend beskou, woon op ՚n plaas by Cullinan buite Pretoria waar sy haar kleindogtertjiedroom van plaaslewe kan uitleef.

Marzanne Roets is die Nasionale Dieregesondheidsforum (NDGF) se nasionale koördineerder. Sy hou haar vinger op die pols van dieregesondheid in die land en weet eerste watter siekte waar uitbreek en wat om daaromtrent te doen.

“Wat ook al gebeur, gebeur – dit hang af van wat jy daarvan maak!” is haar leuse.

Veldwagter

Marzanne is gebore en getoë in Pretoria waar sy by Laerskool Menlopark en later Hoërskool Menlopark skoolgegaan het. Daarna het sy ՚n diploma in Natuurbewaring by die Technikon Pretoria, vandag die Tshwane Universiteit van Tegnologie, verwerf.

“Die dag toe ek my laaste eksamen skryf, het ek my Volksie vol gepak en my eerste werk as veldwagter in die Waterberge gaan begin. Ek het daar ook my praktiese jaar voltooi. Ek het my werk as veldwagter baie geniet. Ek en ses ander veldwagters het elke dag in die veld deurgebring om die renosters in die reservaat dop te hou en te beskerm. Ongelukkig was ons almal ons werk kwyt toe die plaas in die guns van elf verskillende families onteien is.”

Kontrakwerk in dieregesondheid

Terwyl sy veldwagter was het sy ook kontrakwerk vir die Nasionale Departement se direktoraat vir dieregesondheid gedoen, asook werk vir die Nasionale Dieregesondheidsforum en die Suid-Afrikaanse Varkprodusenteorganisasie (SAPPO). Sy het ՚n voltydse pos by CS Vet in Pretoria aanvaar en waardevolle ondervinding opgedoen, terwyl sy steeds die kontrakwerk voortgesit het.

Voltyds by NDGF

Uiteindelik het die Nasionale Departement vir wie sy die kontrakwerk gedoen het, haar gevra het om vir die NDGF te werk en in 2018 het sy voltyds by hulle ingeval. “Ek het nog nooit teruggekyk nie! “Vandag is ek die nasionale koördineerder van die NDGF en daar is elke dag nuwe projekte wat vir ons wag, veral wanneer dit kom by die uitbreek van nuwe dieresiektes.

“Almal vra my altyd watse werk doen jy, dan sê ek vir hulle ek werk nie ՚n dag in my lewe nie. Dit is ՚n passie waar ՚n mens ՚n verskil maak en dit is geestelik en emosioneel baie lonend om in dieregesondheid te werk.” Sy opdateer daagliks die NDGF se webtuiste (www.nahf.co.za) met die nuutste inligting rakende dieregesondheid en gevalle van uitbreke van dieresiektes sodat die publiek deurlopend bewus kan wees van wat in hulle gebiede aangaan.

“Die meeste van die tyd is ek besig met kommunikasie deur middel van e-pos, telefoonoproepe, vergaderings en ontmoetings by die verskillende jaarlikse skoue en ons veertien lede se jaarvergaderings. Kommunikasie met ons nege provinsiale dieregesondheidsforums se wonderlike spanne is ook baie belangrik!” Soos wat probleme opduik, soek hulle na oplossings.

“Gewoonlik word die situasie sommer dadelik hanteer. Ons het ՚n uitstekende verhouding met die nasionale en provinsiale departemente van dieregesondheid.”

Volgens haar het die NDGF nege provinsiale lede, twaalf diereproduksie-organisasies en twee verskaffingsorganisasies wat die grondwerk doen. Die 14 lede sluit in die Vereniging vir Veevoervervaardigers (Afma) (verskaffer); Suid-Afrikaanse Dieregesondheidsvereniging (SAAHA) (verskaffer); Cape Wools; SA Perdegesondheid en Protokol NPC; Mohair SA; Melk SA; Die SuidAfrikaanse Pluimveevereniging (Sapa); Rooivleisprodusenteverenging (RPO); SA Voerkraalvereniging; SA Federasie van Lewendehawe-afslaers; SA Veeartsenykundige Vereniging; Wildboerdery SA (WRSA); die Nasionale Opkomende Rooivleisprodusenteorganisasie (NERPO) en die Rooivleis -abattoirorganisasie (RMAA).

Uitdagings

“Die grootste uitdaging is om te keer dat dieresiektes versprei. Dit gebeur ongelukkig so vinnig dat die oplossings vir situasies soms uitdagend is. Dit is ook nie altyd maklik om inligting van ons lede-organisasies te ontvang dat hulle lede swaarkry met dieresiekteuitbrekings nie.

“Omdat die NDGF so ՚n goeie verhouding met die nasionale departement het, dink ek nie dat ons bekommerd hoef te wees oor diereproduksie, die verskaffing van voer en die nodige medikasie nie – ons was tog mos die uitblinkers toe ons die stryd teen die COVID-pandemie gestry het!” Sy meen die grootste probleem lê nie by die nasionale departement nie, maar die bevelsketting wanneer dit kom by landbou.

“Onthou dat ons met ՚n provinsiale regering werk wanneer dit by landbou kom. Sommige van die provinsies word deur munisipaliteite beheer. Daar sal nooit genoeg hulpbronne en kapasiteit wees as dit nie korrek bestuur word nie. Ek dink die privatisering van die meeste dienste, nie net landbou nie, kort ernstige aandag.”

Oplossings is daar

Sy meen navorsers in Suid-Afrika is klaar besig om ՚n oplossing vir voëlgriep te vind. “Ons werk aan ՚n oplossing en ons het nog net so twee klein klippies om uit die pad te rol, dan gaan ons laat wiel met daardie een!” Sy glo ook Suid-Afrika sal beslis ՚n stappie voor bly met klimaatsverandering.

“Natuurlik sal ons altyd een stappie kan voor bly. Ons werk tog daagliks met die skepping en ons weet dat alles in siklusse werk. Ons is net in ՚n siklus wat slim mense in ander lande nie altyd sal verstaan nie. Ons Suid-Afrikaners is die uitblinkers en ons hou altyd kop bo water en hierdie een sal ons definitief kan ore aansit.

Vroue is veerkragtig

Sy meen vroue is die veerkragtigste wesens van die skepping. “Ons kan enige uitdaging hanteer omdat ons van nature verkies om probleme op te los eerder as om te baklei. As vroue in landbou is moeilike situasies nie vir ons ՚n uitdaging nie, want ons dink heeltemal anders oor uitdagings – ons ego speel nie ՚n rol nie …” Sy meen ook vroue wat in landbou werk, kan dankbaar wees vir die geleentheid.

“Ons het definitief ՚n toekoms, want ons moet ons land se mense kan voed en moontlik kan bydra tot die land se ekonomie wanneer dit kom by uitvoer van ons wonderlike produkte. Ons vroue in Landbou moet na mekaar kyk en iewers plan maak om ՚n wyn te drink. Ek dink dis tyd vir ‘n Vroue in Landbou-kongres.”

Plaaslewe ՚n kleindogtertjiedroom

Intussen leef sy haar kleindogtertjiedroom om op ՚n plaas te woon uit. Die energieke, borrelende vrou het van kleins af geweet sy wil in die natuur werk. “Die plaaslewe is al van kleindogtertjietyd af ՚n droom – destyds het ons by my ouma en oupa op die plaas in die Vryburgdistrik gaan kuier. Ek het net geweet die Here sal my altyd in die rigting stuur waar hierdie droom ՚n werklikheid sal word.” En toe word die droom waar.

“Ek het lekker in die bos gaan werk en altyd my gebede daarop gerig om ‘vir altyd’ in die natuur lewe. Toe ontmoet ek my beste maat Renier Roets, wat ՚n pragtige ongerepte stukkie grond by sy oupa geërf het. Oupa het destyds die grond by Cullinan gekoop sodat hy naweke vir Ouma kon plaas toe neem om piekniek te hou. Toe kom woon hulle voltyds hier, en begin ՚n plaaswinkel. Ons woon nou in die plaaswinkel en is besig om hulle huis mooi te maak vir huurders.” Marzanne se nooiensvan is Polydorou.

“Ek is halfboer, half-Grieks. My ma was ՚n nooi van Bray in die Noordwes en my pa ՚n Griek. Sy pa, my oupa Papoelie, het in die jare 1950’s uit Ciprus na Suid-Afrika toe gekom vir ՚n sakegeleentheid en hom in die Fouriesburg-omgewing gevestig, waar my pa gebore is.” Op 2 Februarie 2022 is sy getroud met Renier Roets.

“Ons het twee wonderlike honde en ՚n huiskat. Ek het ook 11 wildgeworde katte, nege ganse, elf hoenders, vier makoue, ՚n redelike troppie blouape en ՚n klompie muishonde. Ek het verlede jaar ons plaas onder die Cullinan Bewarea geregistreer.

“Tussen my werk en die boerdery plant ek ook uie op groot skaal met behulp van hidroponika en ek maak ՚n lieflike organiese uiemarmelade wat ek by ons plaaslike melkery verkoop. Renier is besig om ՚n stukkie grond reg te kry om lusern te plant.”

Met haar vierwielmotorfiets kom sy middae na werk by al die diere uit om hulle te versorg en om die honde vir ՚n wandeling te neem – en om sommer net die natuur te geniet totdat dit donker word…

Kontak Marzanne Roets by admin@nahf.co.za of besoek die webtuiste van die Nasionale Dieregesondheidsforum by www.nahf.co.za

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0