Eisbrief aan minister van Landbou: VL en ander landbou rolspelers neem regsstappe oor BKS-entstowwe

francois wilken
Francois Wilken
Vrystaat Landbou (VL), saam met sleutelrolspelers in die landboubedryf waaronder die Suider-Afrika Agri-inisiatief (SAAI) en Sakeliga, het deur hul regsverteenwoordiger formele stappe geïnisieer om die staat se monopolie oor die verkryging en toediening van bek-en-klouseer (BKS)-entstowwe te verbreek.
Die organisasies het vroeër die week ’n eisbrief aan die Minister van Landbou en senior staatsamptenare gerig waarin geëis word dat daar skriftelik teen 30 Januarie 2026 bevestig word dat veeboere privaat entstowwe mag verkry en toedien, in samewerking met staats- en privaat veeartse.
“Hierdie stap volg ná maande van stilswye, onsekerheid en toenemende uitbrekings onder ’n volledig gesentraliseerde, staatsbeheerde stelsel wat duidelik misluk het,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. “Die voortbestaan van Suid-Afrika se veeboerdery- en vleisbedryf is nou direk in gevaar.”
Die betrokke organisasies verteenwoordig hul lede en ondersteuners met die doel om hul grondwetlike regte te beskerm, insluitend die reg om ’n beroep of bedryf vrylik te beoefen, die reg op eiendom en die reg op menswaardigheid. Volgens Wilken word hierdie regte tans ernstig geskend deur ’n BKS-uitbreking wat vinnig oor verskeie provinsies versprei het en reeds só buite beheer is dat die Minister van Landbou self aangedui het dat ’n nasionale ramptoestand oorweeg word.
Tydens ’n mediakonferensie op 14 Januarie 2026 het die Minister aangekondig dat die staat se strategie daarop gemik is om die hele nasionale veekudde te ent. Boere wag egter steeds op ’n duidelike, uitvoerbare plan en tydlyn.
“Ironies genoeg erken die Minister dat toegang tot entstowwe sentraal tot die oplossing is, terwyl daardie toegang steeds deur die staat beperk word,” sê Wilken.
Die eisbrief lig onder meer die volgende kernbekommernisse uit:
•Die staat beperk die verkryging en toediening van BKS-entstowwe tot staatsbeheer, wat ’n onaanvaarbare monopolie skep tydens ’n ernstige dieregesondheidskrisis.
•Die krisis spruit uit die versuim om uitbrekings doeltreffend te beheer en die aanhoudende tekort aan entstowwe namate besmette gebiede uitbrei.
•Boere word steeds verhinder om entstowwe privaat te verkry en hul kuddes self te beskerm.
•Daar is geen rasionele of wetlike rede om boere te verbied om self teen BKS te ent nie; privaat inenting sal die staat se las verlig en die entstofuitrol versnel.
Volgens die rolspelers is daar betroubare entstofverskaffers wat gereed en in staat is om die privaat sektor te voorsien.
“Om dit toe te laat is die logiese en noodsaaklike stap om boere weer ’n mate van beheer en stabiliteit te gee,” sê Wilken.
“Die situasie is só kritiek dat ’n beduidende deel van veeboere reeds die onmiddellike gevaar van totale bedryfsineenstorting in die gesig staar. Die beskikbaarstelling van entstowwe aan die privaat sektor sal geensins die staat se toegang tot entstowwe benadeel nie.”
Wilken wys uit dat ’n verdere groot bron van kommer die vertraging is met die uitreiking van permitte onder Artikel 21 van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965) aan privaat maatskappye. Hoewel die Minister beweer dat die privaat sektor reeds by invoere betrek word, bestaan daar onsekerheid oor of boere direk entstowwe sal kan verkry en self toedien binne die bestaande netwerk van staats- en privaat veeartse. “Hierdie vertragings wek ernstige agterdog oor die opregtheid van die staat se optrede en moet onmiddellik aangespreek word,” waarsku Wilken.
Wilken beklemtoon verder dat die huidige regulasies en protokolle boere onredelik beperk om normaal te handel en finansieel te oorleef. “Hierdie reëls is nie vir die huidige realiteit ontwerp nie en kan talle boere in finansiële ineenstorting dompel.”
“Dit is nie ’n tienjaar-beplanningsoefening nie. Dit is ’n oorlog teen ’n virus,” sê Wilken. “Boere kan nie langer wag terwyl die siekte onbeheersd versprei nie. Die staat het self erken dat hy nie die kapasiteit het om hierdie krisis alleen te bestuur nie.”
“Indien geen gunstige reaksie teen die sperdatum ontvang word nie, sal verdere regsoptrede oorweeg word. Hierdie stap is geneem uitsluitlik in belang van die bedryf, voedselsekerheid en die breër ekonomie,” sluit Wilken af.
Bron: Vrystaat Landbou