Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 20th April 2026

EETBARE BLOMME DEEL 3: ROSE

By 6 min read
1135 words

roos 3

Rose se kleur is ’n aanduiding van hul geur: Pienk rose se geur is sag en subtiel. (Bron: https://crateandbasket. com/types-of-edibleroses- and-how-to-use-them/)

Te kort jou skoonheids duur …

So het A.G. Visser, een van die vroegste, voorste Afrikaanse digters “Die roos” se lof (of is dit lot?) besing. (Ja, ek weet hy het eintlik na sy beminde verwys …) Daar is egter ’n manier om die sagte skoonheid en subtiele geur van rose so ’n bietjie langer te laat duur: gebruik dit in jou kos en drankies. Rose is nie net mooi in ’n statige vaas nie, nee, die koningin van alle blomme word reeds deur die eeue heen in kos gebruik. Geskiedenis vertel die Grieke, Romeine en Persiërs het rose gebruik om olie en water mee te geur vir gebruik in soet- en soutgeregte. In die Victoriaanse tydperk het versuikerde roosblare hoeka ’n tikkie elegansie aan die mooiste soetgoed vir ’n middagtee verleen.

Kies ’n roos

Wanneer jy ’n roosboom vir jou tuin aanskaf, is dit ’n goeie idee om nie net te dink aan die snyblomme in jou voorportaal nie, dink ook aan die betowering wat rose aan jou geregte kan verleen. Daar is meer as 100 roosspesies en duisende kultivars om van te van te kies – en alle rosewat organies gekweek word, is eetbaar. Jy kan jou deur jou neus laat lei – as ’n roos lekker ruik, gaan dit ook ’n heerlike geur aan jou geregte gee.

Die smaak van rose is so delikaat soos hul geur. Sommige ruik soet, ander is meer vrugtig. Hoe donkerder die kleur van die roos, hoe sterker is die geur. As jy jou eie rose kweek sonder om insekdoder of ander giftige produkte daarop te gebruik, is dit veilig om te eet.

Eetbare dele

Die roos se kroonblare is die gewildste in kulinêre kookkuns en hulle word gebruik in slaaie, as garnering vir roomys en nageregte, of versuiker vir ’n lieflike versiering op gebak. Die roosknoppe kan gedroog en in ’n fles bewaar word vir ’n heerlike geurige tee. Ryp roosbottels wissel in grootte, geur en kleur – oranje tot dieprooi – en is propvol vitamien C. Roosbottels (rosehip) kan gebruik word in konfyt, jellie en stroop, asook poedings en souse. Dit maak ook ’n heerlike geurige tee.

Geure

Rose se geur word onderskei as outydse roos, vrugtig, tee, mirre en muskus. Outydse roos is ’n klassieke geur van rooi en pienk rose, terwyl vrugtige rose helderkleurig is met ’n skerper geur van sitrus, bessies of eksotiese vrugte. Teerose is gewoonlik geel of appelkooskleurig en ruik na vars teeblare met ’n ondertoon van viooltjies en speserye. Rose met ’n mirregeur ruik na anys, terwyl muskusrose ’n warm, soet geur het wat effens ruik na kruienaeltjies.

Plant ’n roos

Party mense meen dit is moeite om rose te kweek, maar as jy eers die slag bemeester het, is rose meer plesier as pyn. Onthou, ’n mens kry roosbome, grondbedekkers en rankplante. Deesdae kry ’n mens ook miniatuur roosboompies in ’n pot wat jou sitkamer kan verfraai. Onthou ook dat verskillende rose net een keer in die seisoen blom, terwyl ander die hele blomseisoen of heel jaar lank blom.

Plant die roosplante in ryk grond wat met natuurlike, organiese bemesting verryk is. Moenie te opmekaar plant nie, daar moet lug deur sirkuleer. Maak ook seker die plante kry tussen ses en agt ure son, en verkieslik meer oggendson. Gebruik ’n natuurlike sproeimiddel wat by jou kwekery beskikbaar is om skadelike peste en plae weg te hou.

Vra ’n kenner by jou kwekery hoeveel water roosplante nodig het – en hoe dikwels dit toegedien moet word. Vind ook sommer uit hoe die plante gesnoei moet word sodat elke roos genoeg sonskyn kry om volop pragtige, gesonde rose te dra.

Pluk van rose

Dit is die beste om rose vroegoggend te pluk sodra die dou verdamp het en voor die son hulle begin bak. Sny die rose wat begin oopmaak se stingels net bokant ’n ogie teen ’n hoek met ’n skerp, skoon snoeiskêr af. Die nuwe ogie gaan ’n nuwe takkie vorm waaraan die roos gaan ontwikkel. Verwyder die stengel en blare en vou die roos toe in jou hand sodat jy die onderkant van die roosblare met ’n skerp skêr kan afsny, anders gee dit jou roosblare ’n bitter smaak.
Skud die roosblare in ’n vergiettes om stof, stuifmeel en insekte te verwyder en gooi beskadigde roosblare weg. Jy kan die roosblare ook sagkens in koel water afspoel en op papiervadoeke laat droog word.

Droog die roosblare

Om die roosblare uit te droog sodat jy dit kan bêre, kan jy dit in ’n enkellaag op ’n skoon, droë oppervlak uitpak en in ’n goed geventileerde plek weg van direkte sonlig laat uitdroog. Draai die roosblare af en toe sodat dit mooi egalig kan uitdroog. Dit kan ’n paar dae neem, maar op hierdie manier bly die roosblare se kleur en geur behoue.

Jy kan natuurlik ook die roosblare in ’n enkellaag op perkamentpapier in ’n voedseldroër pak en teen die laagste hitte laat droog word. Bêre die droë roosblare op ’n koel, droë plek in ’n houer wat dig seël en gebruik binne ses maande terwyl hulle nog kleurvol en geurig is. Vars en droë roosblare kan in soet en soutgeregte gebruik word. Laat die roosblare op warm water trek en gebruik dit as tee of om ’n subtiele geur aan geregte te gee. Versuikerde rose en roosblare lyk al te fraai op ’n heerlike koek of tert, terwyl roosblare wat in ’n ysblokkie gevries is styl verleen aan ’n doodgewone drankie.

Roossuiker

Maak hierdie maklike roosgegeurde suiker om in gebak of tee te gebruik en jou geliefdes eindeloos te beïndruk. Strooi ’n koppie suiker oor sowat drie handevol rooi of pienk roosblare op bakpapier in ’n bakplaat. Maak seker
die roosblare is goed bedek. Laat staan sowat agt ure totdat die roosblare met suiker deurtrek is. Blits liggies in ’n voedselverwerker om seker te maak die blomblare en suiker is goed gemeng. Strooi die mengsel terug in die pan en laat behoorlik vir 8 tot 12 ure uitdroog. Bêre in ’n lugdigte houer en moenie vergeet daarvan nie, want die geur
gaan mettertyd verslaan.

Rooswater

Gebruik ’n koppie gedroogde roosblare of 2 koppies vars roosblare en 5 koppies gedistilleerde water. Bedek die roosblare in ’n kastrol met water. Bring tot kookpunt, verminder die hitte en laat prut vir nog 20 minute. Skakel die plaat heeltemal af en laat trek vir ’n uur. Gooi deur ’n sif, bottel die vloeistof en geniet.

Bronverwysings

Escobedo, E. (2026) Edible Roses for Teatime Cuisine.https://teatimemagazine.com/edibleroses-for-teatime-cuisine/

Versamelde gedigte (1981) – A.G. Visser. https://www.dbnl.org/tekst/viss052vers01_01/viss052vers01_01_0071.php

Roos Wikipedia.https://af.wikipedia.org/wiki/

Wood, K. (2026) How to Make Rose Water Moon and spoon and yum https://moonandspoonandyum.
com/how-to-make-rose-water-athome/#recipe

Margaret (2021) Types of Edible Roses (and How to Use Them) Crate and Basket https://crateandbasket.com/types-ofedible-roses-and-how-to-use-them/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0