Categories: Artikels, SA294-hulpbronbestuurPublished On: 23rd July 2024

Droogtebestuur: Red jou veld 2 – Nama en Sukkulente Karoo

By 6 min read
1215 words

ken karoo 4

Die meeste natuurlike weiveld in die Karoo bestaan uit ’n mengsel van karoiede dwergstruike, grasse en ander kruidagtige plante. (Bron: Pixabay)

Weidingsbestuur tydens en veral na ’n droogte soos wat tans wydverspreid voorkom kan jou veld help om uiteindelik te herstel – en dit kan jou boerdery maak of breek.

Ken Coetzee van Conservation Management Services in George in die Suid-Kaap, verduidelik in sy boek Caring for Natural Rangelands (2023) hoe boere die uitwerking van droogte in drie tipes veld kan versag sodat die plantegroei die droogte kan oorleef.

Ken gee riglyne vir die bestuur van natuurlike weiding in droë- en half droë gebiede; in die eerste deel het hy verduidelik oor die subtropiese ruigteveld. In hierdie deel bespreek hy die bestuur van die Nama en Sukkulente Karoo wat gekenmerk word deur dwergstruikveld en sukkulente. In die derde deel gee hy raad hoe grasveld in die wydverspreide grasveldbioom gered kan word.

Nama en Sukkulente Karoo

Grasveld in die Karoo is gewoonlik nie volhoubaar tydens droogte nie en dan moet die boere terugval op die dwergstruike en sukkulente as voer. (Bron: Pixabay)

Die veld is basies ’n dor struikveld in die Suid-Afrikaanse binneland waar dwergstruike, sukkulente, seisoensgrasse en verspreide geharde bome voorkom.

Die meeste natuurlike weiveld in die Karoo bestaan uit ’n mengsel van karoiede dwergstruike, grasse en ander kruidagtige plante. Bome en struike kom gewoonlik langs waterweë en in valleie tussen heuwels voor. Die plantbedekking en hoeveel van die  grondoppervlak die plante bedek is uiters belangrik, want hoe digter die plantegroei, hoe minder gronderosie kom voor en hoe meer weiding is daar vir vee en wild.

In die Nama en Sukkulente Karoo kom die gras hoofsaaklike op sanderige grond in gebiede met reënval van 350 tot 400 mm voor. Ná goeie somerreëns kom gras wydverspreid voor, maar dit is gewoonlik nie volhoubaar tydens droogte nie en dan moet die boere terugval op die dwergstruike en sukkulente as voer.

Grasse word verdeel in smaaklike of redelik smaaklike spesies wat verdig namate die veld oorbewei raak, terwyl die eetbare klimaksgrasse se voorkoms afneem wanneer dit oorbenut word.

In die Karoo word plant- en dierepoduksie deur reënval en die seisoene bepaal. Alhoewel die plante by die uitgerekte droogtes wat dikwels voorkom aangepas is, is dit nietemin afhanklik van ’n sekere hoeveelheid reën vir oorlewing. Dit is ook besonder sensitief vir oorbeweiding wat tussen 70 en 80% van die plantegroei laat terug sterf, terwyl tot 100% van die grasse kan doodgaan.

Wanneer die grondbedekking weens oorbeweiding dramaties afneem, word die kaal grond aan wind- en watererosie blootgestel. Die water loop vinnig af na strome, riviere en damme eerder as om in die grond weg te sak waar dit die plante kan help oorleef, groei en vermeerder.

Die verlies aan water wat vinnig wegvloei lei tot ’n yler plantbedekking, agteruitgang en verdroging van die veld en gevolglike laer drakrag.

Oorbeweiding lei uiteindelik daartoe dat die natuurlike weiding oorgeneem word deur onsmaaklike dwergstruike wat die oorbenutte eetbare en waardevolle smaaklike struike vervang, omdat laasgenoemde nooit kans kry om te blom en saad te vorm nie. Sonder saadproduksie kan daar nie nuwe eetbare plante groei nie; daarenteen floreer die onsmaaklike struike totdat dit die veld oorheers.

Net so word smaaklike grasse in sekere dele van die Karoo ook weens oorbeweiding uiteindelik met onsmaaklike dwergstruike vervang.

In die Karoo word plant- en dierepoduksie deur reënval en die seisoene bepaal, en alhoewel die plante redelik droogtebestand is, het dit tog reën nodig om te oorleef. (Bron: Pixabay)

Organiese materiaal

Blare, stokkies, blomme en dieremis op die grond tussen lewende plante dra by tot die algemene welstand van die weiveld.

Hierdie bedekking is belangrik omdat dit:

  • die temperatuur van die grondoppervlak verlaag;
  • die spoed waarteen die reënwater wegspoel bietjie terughou;
  • reënwater help om in die grond weg te sypel en
  • organiese materiaal soos dieremis, saad en slik opvang.

Hierdie organiese materiaal is kritiek vir

  • verbetering van die gehalte van die bogrond;
  • ondersteuning van die organismes wat noodsaaklik is vir grondgesondheid;
  • behoud van grondvog;
  • beskerming van die grondoppervlak teen eroderende reëndruppels en
  • ’n beskermende omgewing vir saadontkieming.

Die plantreste is dus ’n sleutelkomponent van gesonde, produktiewe Karoo-weiding en dit kan gemoniteer word om die toestand van die weiding te help bepaal.

Na ’n droogte gebreek is, sal die eerste reëns lei tot ’n opslag van houtagtige kruidgewasse en eenjarige grasse wat die grond voorberei vir die vestiging van meerjarige gras van beter gehalte. Die eerste groen opslag na ’n droogte moenie intensief bewei word nie, omdat dit ’n sleutelrol speel in die verbetering van die natuurlike weiveld.

Eweneens dui die massas blomme aan die dwergstruike na die reën dat saad geproduseer word; dit is dus ’n slegte tyd om die plantbedekking te oorbenut.

Dit is belangrik om daarop te let dat baie van die dwergstruike ’n ruk vat om na droogte te herstel omdat daar nie genoegsame saadbanke is nie. Die plante moet genoeg tyd gegun word om saad te produseer sodat dit behoorlik en produktief na die droogte kan herstel. Die plante moet vir ’n lang tyd van tot drie jaar na die droogte toegelaat word om te herstel, maar dit is gewoonlik nie vir ’n veeboer moontlik nie.

Die eerste saadvorming van al die plante na die droogte sal hulle kondisie in die toekoms bepaal. Dit is dus ’n kritieke tyd vir die plante se herstel en dit moenie intensief bewei word nie.

Weidingstelsels

Veld moet tydens die droogte maar veral ook daarna goed bestuur word om te verseker die verdorde veld herstel. (Bron: Pixabay)

Weidingstelsels in Karoo-weiveld word gewoonlik met kampe bestuur. Daar is vyf basiese parameters wat aangepas kan word vir enige van die weidingstelsels om ’n winsgewende inkomste en weiding van goeie gehalte te verseker. Dit sluit in:

Drakrag verwys na die aantal diere per eenheid wat ’n kamp kan bewei en dit word bereken op die hoeveelheid en tempo waarteen hulle die plantmateriaal in die kamp bewei.

Weidingsduur verwys na hoe lank die diere in ’n kamp gehou word en saam met die drakrag bepaal dit hoeveel van die plantmateriaal opgevreet word.

Die rusperiode, reënval en temperatuur bepaal die herstel van plante en saad nadat die kamp bewei is en die vee of wild verskuif is. Die duur van ’n rusperiode kan nie voorgeskryf word nie want die doel is om die plantegroei genoeg kans te gee sodat die eetbare plante kan saad voortbring. Dit word opgevolg met ligte beweiding sodat die vee/wild die saad liggies in die grond kan intrap. Daarna moet die plantegroei lank genoeg rus sodat die saad kan ontkiem en nuwe plantjies kan uitloop en groei.

Kuddesamestelling  dui op watter diere saam ’n weiding benut. Die patroon hoe weiveld benut word verskil afhangend van watter diere daar wei. Beeste gebruik plante anders as bokke en skape. Dieselfde geld vir perde, volstruise en wild. Kort beweiding beteken dat verskillende diere soos perde, beeste, skape en bokke toegelaat word sodat die weiding, insluitend die onsmaaklike dwergstruike en harde gras opgevreet word.

Kampgrootte kan nie juis verander word nie, maar die grootte is belangrik om te bepaal watter drakrag dit het, hoe lank die kamp bewei kan word en hoe lank dit moet rus.

Kontakbesonderhede  

Caring for Natural Rangelands (bygewerkte tweede uitgawe 2023) is ’n praktiese gids vir die bewaring van natuurlike veld. Dit word uitgegee deur New Voices Publishing en is beskikbaar by Ken Coetzee by (+27)76-227-5056 of consken@mweb.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0