Categories: Artikels, Dieregesondheid, Vee en WildPublished On: 9th April 2024

Dieresiektes: Rooiwater lei tot vrektes

By 6 min read
1246 words

4228

Boere word gemaan om op die uitkyk wees vir kliniese simptome van rooiwater nadat twee voorvalle in die Vrystaat en Mpumalanga tot vrektes van beeste gelei het. ՚n Boer van Lydenburg in Mpumalanga het ses kalwers en twee dragtige koeie verloor, terwyl ՚n Vrystaatse boer altesaam 26 beeste verloor het en vir hulle is dit ՚n groot terugslag. Rooiwater se vernietiging kom ՚n lang pad in Suid-Afrika sedert Europese setlaars dit vir die eerste keer gedurende die 1930’s in KwaZulu-Natal aangemeld het.

Destyds het die Ooskuskoorsdipveldtog teen die bruinoorbosluis ook ՚n dramatiese uitwerking gehad op die bloubosluisbevolking, wat rooiwater oordra, en die voorkoms van die siekte het drasties afgeneem. Maar in 1972 het sowat 10 000 beeste in Transkei van die siekte gevrek, terwyl meer as ՚n miljoen beeste tydens die bosoorlog in die destydse Rhodesië, nou Zimbabwe, daarvan gevrek het. In 1993 het ՚n opname getoon dat 0,3% van die beeste in Suid-Afrika dieselfde paadjie geloop het.

Twee soorte rooiwater

Twee soorte rooiwater kom voor, naamlik Afrika-rooiwater en Asiatiese of Europese rooiwater, wat albei deur die protosoïese parasiete Babesia spp, wat op rooibloedselle parasiteer, oorgedra word.

Afrika-rooiwater

Afrika-rooiwater word deur die parasiet, Babesia bigemina, veroorsaak en deur albei bloubosluisspesies wat hier voorkom, naamlik Rhipicephalus (voorheen Boophilus) decoloratus en R. Microplus, asook die rooipootbosluis (Rhipicephalus evertsi evertsi) oorgedra.

Die bosluis voed by voorkeur op beeste, maar ook op perde, donkies, skape en bokke, asook wild soos sebras, rooibokke, bosbokke, koedoes, elande en swartwitpense. Die bosluis voltooi sy hele lewensiklus van larwe, nimf tot volwassene op een gasheer en staan bekend as ՚n eengasheerbosluis. Die lewensiklus neem sowat drie weke vandat die larwe op die dier klim tot die volgesuigde wyfie afval. Vandat die wyfie begin eiers lê – tot 3 000 daarvan – totdat die larwe uitgebroei het en gereed is om op die volgende gasheer te klim, duur sowat vyf weke.

Seisoene

Dit beteken verskeie geslagte bloubosluise kan in ՚n jaar in wisselende getalle voorkom. In die winter is eierontwikkeling en die uitbroei van die larwes ՚n bietjie stadiger, maar wanneer die warmer lente aanbreek kan daar ՚n menigte larwes op die plantegroei wees. Afhangend van die weersomstandighede in die lente, piek die larwegetalle, maar siklusse kom voortdurend op weiding in die somer, herfs en vroegwinter voor. Gedurende die warmer maande is daar dus altyd siklusse van larwes op die weiding, met die grootste voorkoms in die somer en herfs tot vroeg winter.

Verspreiding

Die bosluise kom op verskillende plantegroeitipes in die natter dele van die land voor, maar ook in die koeler Drakensberg. Hulle is afwesig in gebiede waar die reënval minder as 380 mm per jaar is, soos in die Wes-Vrystaat en westelike dele van Noordwes-Kaap. Die pantropiese bloubosluis, R. Microplus, is hoofsaaklik ՚n beesbosluis wat nie net rooiwater nie, maar ook bees galsiekte (anaplasmose) kan veroorsaak. Dit het waarskynlik die land vanaf Madagaskar binnegekom en langs die suidelike en oostelike kusstreke van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap gevestig. Dit kom ook op plekke in Mpumalanga en Limpopo voor. In warm, vogtige gebiede ding die R. microplus met R. decoloratus mee en kan dit selfs verplaas.

Kliniese tekens

Siek diere het ՚n hoë koors van tot 41 grade C, bloedarmoede, geelsug, lusteloosheid, die diere hou op vreet en melkproduksie daal. Koeie aborteer en die urine is rooi – vandaar die naam rooiwater. Dit is dikwels ՚n komplikasie van bosluisgalsiekte en is meestal dodelik met tot 90% vrektes.

Oordraging van die siekte

Bosluise raak besmet as hulle op ՚n bees voed wat ՚n draer van die rooiwaterparasiet is of die siekte onder lede het. Die parasiet word in die bosluis se nimfstadium aan die bees oorgedra. Beeste wat van rooiwater herstel, kan vir ses maande tot ՚n paar jaar lank latente draers van die siekte bly en verskillende rooiwaterstamme se virulensie mag verskil.

Asiatiese of Europese rooiwater

Hierdie siekte is hewiger as Afrikarooiwater. Dit word deur die parasiet Babesia bovis veroorsaak. Dit

toon dieselfde simptome, maar soms ontwikkel daar ook senuweesimptome wat serebrale rooiwater genoem word. Dit veroorsaak dat die diere wankelrig loop, nie kan opstaan nie en waar hulle lê, skopbewegings maak. Baie vrektes kom voor.

Voorkoms van die siekte

  1. microplus het ՚n meer beperkte verspreiding as R. decoloratus, want dit het ՚n hoë humiditeit nodig, soos in KwaZulu-Natal, Oos- en Wes-Kaap en Mpumalanga. Waar albei spesies teenwoordig is kan hulle verbaster, maar die eiers wat deur die R. microplus-wyfies gelê word is steriel.

tot sewe weke oorgedra word. Die voorkoms van albei rooiwatersiektes hang dus daarvan af of daar ՚n bron van die parasiete in die beeste op die plaas voorkom. Dit is goed en sleg, want as die plaas te skoon gedip is, gaan die beeste nie immuniteit opbou deur besmet te raak nie. Die boer moet weet wat die immuunstatus van die kudde en beeste wat ingebring word is en of die bosluis weerstandigheid teen middels opgebou het. Die ideaal is dat al die diere natuurlik geïmmuniseer word teen die siektes wat deur bosluise oorgedra word. Stabiliteit kan verkry word deur alle diere op ՚n baie jong ouderdom aan die siektes bloot te stel. Navorsing het getoon wanneer meer as 75% van die kalwers voor nege maande besmet is, is daar ՚n ensoötiese stabiliteit in die kudde.

Voorkoming

Bosluisbeheer is die enigste manier om te voorkom dat jy jou beeste verloor. Dit is dalk ՚n goeie ding dat algehele bosluisbeheer onrealisties is, want die ideaal is om ՚n ensoötiese stabiele toestand te skep deur beeste nie te skoon te dip nie. Dit sal help dat kalwers jonger as ses maande natuurliker met die rooiwaterparasiet besmet word en immuniteit verwerf. Gebruik ՚n middel wat die siekte blok by hierdie kalwers, skoudiere, beeste in ՚n voerkraal, waar vatbare diere na ՚n rooiwatergebied geskuif word, en tydens ՚n uitbreek van rooiwater.

Kalwers van drie tot ses maande oud moet teen rooiwater ingeënt word. (Bron: Pixabay)

Inenting

Daar is entstowwe beskikbaar. Kalwers van drie tot ses maande oud moet ingeënt word. Daar kan ՚n subkliniese reaksie ontstaan, maar diere toon nie kliniese tekens nie. Vatbare diere moet minstens vier weke voordat hulle na ՚n rooiwatergebied geneem word, ingeënt word. Diere moet in groepe van minder as 50 diere ingeënt word, want hulle temperatuur moet daagliks vanaf dag 5 tot 21 gemeet word en hulle moet goed dopgehou word vir koors van 40 °C of hoër. Hulle moet behandel word. Let op vir tekens van lusteloosheid.

Koeie wat meer as vyf maande dragtig is mag dalk aborteer. Bulle moet vir twee maande na inenting rus, want die koorsreaksie kan die semen doodmaak.

Bosluisbeheer

Beplan ՚n beheerstrategie saam met jou veearts. Daar bestaan verskillende dipmiddels in verskeie formulasies vir dompeldip, spreidip, handsprei, opgiet en inspuiting. Lees op die etiket of lakterende diere die middel gegee kan word. Bepaal saam met jou veearts vir watter middels die bosluise op jou plaas vatbaar is, want baie bosluise is weerstandbiedend.

Behandeling

Praat met jou veearts oor watter middels jy kan gebruik en of ՚n bloedoortapping nodig is. Maar onthou, voorkoming is die beste behandeling!

Bosluisoorgedraagde siektes: Afrika-rooiwater. Virbac https://za.virbac.com/home/every-health-care/pagecontent/every-advices/tick-borne-diseaserelated-articles/bosluisoorgedraagde-siektes-afri.html   

Cloete, J. (2019) Behandel rooiwater só. Landbouweekblad https://www.pressreader.com/south-africa/landbouweekblad/20191108/282557315010187  

Nortjé, C. (2020) Rooiwater: ’n Onverbiddelike vyand. Veeplaas https://agriorbit.com/rooiwater-nonverbiddelike-vyand/

Potgieter, F. (2006) Rooiwater by beeste. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/kundiges/vra-vir-faffa/Rooiwaterby-beeste-20180504  

Spandiel, O.A. (2024) Cattle farmers suffer devastating losses. Food for Mzansi https://www.foodformzansi.co.za/redwater-disease-strikes-cattlefarmers-suffer-devastating-losses/  

Van Niekerk, P. (2012) Rooiwater. Landbou.com https://www.landbou.com/landbou/Argief/rooiwater-20171019

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0