Die splinternuwe Massey Ferguson 9S pronk by Val Boeredag

WhatsApp Image 2026-07-02 at 15.19.16
Die nuwe Massey Ferguson 9S 425 het by Val Boeredag 2026 die kollig gesteel met sy moderne ontwerp, gevorderde tegnologie en indrukwekkende werkverrigting.
Val Boeredag is jaar na jaar dié plek waar boere die nuutste landboutegnologie van naby kan beleef, en vanjaar was die splinternuwe Massey Ferguson 9S 425 een van die trekkers wat beslis boere se aandag gelok het. Hy is rooi, hy is mooi en hy werk soos ’n droom!
By die Massey Ferguson-uitstalling het Hennie van der Walt van JWL Landbou boere meer vertel oor dié nuwe vlagskipmodel wat reeds die afgelope seisoen deeglik onder Suid-Afrikaanse toestande getoets is en nou amptelik plaaslik beskikbaar is.
Volgens Hennie is die 9S nie bloot ’n nuwe model nie, dit is ’n trekker wat op elke vlak verfyn is om produktiwiteit, bestuursgerief en winsgewendheid vir die boer te verbeter. “Die trekkers is reeds ’n geruime tyd in Suid-Afrika getoets en ons is baie opgewonde oor die sukses wat hulle reeds behaal het. Nou is hulle gereed vir die mark,” sê hy.
Slim ontwerp vir beter werkverrigting
Een van die eerste dinge wat opval, is die kenmerkende ontwerp waar daar ’n sigbare spasie tussen die enjinkap en kajuit is. Hierdie ontwerp, bekend as Protect-U, is nie net vir die voorkoms nie, maar verbeter die bestuurder se ervaring aansienlik deur hitte, vibrasies en geraas weg van die kajuit te hou. Die resultaat is ’n stiller, koeler en gemakliker werksomgewing gedurende lang werksdae.
Die kajuit self is ook merkbaar ruimer as vorige Massey Ferguson-modelle. Vir baie jare was Massey se kajuite bekend vir hul ietwat kleiner grootte, maar die 9S bied nou aansienlik meer ruimte sonder om die bekende ergonomiese uitleg prys te gee.
Die trekker is toegerus met meganiese aktiewe kajuitvering, QuadLink-voorasvering, outomatiese lugversorging en ’n premium luggeveerde draaistoel met ventilasie, verhitting en dinamiese demping. Al die kontroles is geïntegreer in die ergonomiese armleuning met die bekende Multipad-beheer, sodat die bestuurder alle belangrike funksies maklik binne bereik het.
- Die ruim en gerieflike kajuit bied uitstekende sig, meer ruimte en spog met ’n ergonomiese uitleg wat lang werksdae makliker maak.
- Alle belangrike funksies is binne maklike bereik danksy die ergonomiese Multipad-beheer en die Datatronic 5-raakskerm wat presisieboerdery en trekkerbestuur integreer.
Brandstofbesparing wat saakmaak
Met insetkoste wat voortdurend styg, bly brandstofverbruik een van die grootste uitdagings vir boere. Die 9S gebruik die betroubare ses-silinder AGCO Power-enjin, gekombineer met die 40 km/h Eco Dyna-VT deurlopend-eranderlike transmissie. Hierdie kombinasie laat die enjin teen laer revolusies werk terwyl maksimum wringkrag steeds gelewer word.
Volgens Hennie beteken dit uitstekende brandstofdoeltreffendheid sonder om werkverrigting in te boet. “Elke plek waar ‘n boer kan bespaar, maak vandag ’n verskil.”
Ook die groot voorgewig op die voorste driepuntkoppeling dra daartoe by. Dit maak dit maklik om die trekker optimaal te ballasteer (ekstra gewig by te voeg), wat wielglip verminder, trekkrag verbeter en uiteindelik brandstofverbruik verder beperk.
Hidroulika wat gereed is vir moderne implemente
“Nog ’n groot verbetering lê by die hidrouliese stelsel. Waar vorige modelle standaard met laer olievloei beskikbaar was, kan die 9S met ’n 340 liter per minuut dubbel geslote-sentrum Eco-hidrouliese stelsel toegerus word. Dit verseker dat selfs die grootste planters, grondbewerkingstoerusting en ander hoëvereiste implemente voldoende hidrouliese kapasiteit beskikbaar het,” voeg Hennie by.
Die trekker beskik ook oor onafhanklike hidrouliese tenks vir sekere stelsels, wat help om die risiko van oliebesoedeling vanaf implemente te verminder en onderhoudskoste te beperk. Die trekker is standaard met ses elektroniese hidrouliese kleppe toegerus, wat volledig volgens die boer se behoeftes geprogrammeer kan word.
Presisieboerdery is standaard
Die 9S is ontwerp vir moderne presisieboerdery. Standaard sluit die trekker die Datatronic 5-9 duim-raakskerm in, wat trekkerinstellings, ISOBUS-beheer, kameras en presisieboerderyfunksies op een platform integreer. Die trekker word met die volledige fabrieksgeïnstalleerde stelsels gelewer, met die nodige funksionaliteite reeds ingebou.
Funksies soos MF AutoTurn kan deur sagteware-ontsluiting geaktiveer word. MF Connect-telematika met ’n vyfjaar-intekening is standaard ingesluit en stel boere in staat om die trekker se werkverrigting, ligging en diensbehoeftes op afstand te monitor. Verdere funksies soos MF Guide, MF Section Control (seksiebeheer), MF Rate Control (veranderlike toediening), MF TaskDoc Pro, CTIS (sentrale banddrukbeheer) en AGCO se Next Farming Farm Management Information System is ook beskikbaar.

Die ses-silinder AGCO Power-enjin, gekombineer met die Eco Dyna-VT-transmissie, lewer uitstekende brandstofdoeltreffendheid sonder om krag in te boet.
Gebou vir lang dae in die land
Wanneer die son sak, hoef die werk nie noodwendig te stop nie. Met tot 16 LED-werkligte, ’n volledige 360° LED-beligting op die trekker, LED-waarskuwingsligte, ’n agter-kamera, sowel as elektries verstelbare spieëls bied die 9S uitstekende sigbaarheid gedurende nagwerk. Bykomende geriewe soos Bluetooth-klank, geïntegreerde mikrofoon, verskeie kragpunte in die kajuit en talle opsionele toerusting maak die trekker ’n aangename werkplek vir lang ure in die land.

Die voorste driepuntkoppeling en neusgewigte help om optimale gewigsverdeling te verseker, wat trekkrag verbeter en brandstofverbruik verminder.
Gereed vir Suid-Afrikaanse boere
Die nuwe Massey Ferguson 9S is duidelik ontwerp met die moderne boer in gedagte. Van verbeterde bestuursgerief en laer brandstofverbruik tot gevorderde presisieboerdery en indrukwekkende hidrouliese kapasiteit, dra elke verbetering by tot beter produktiwiteit op jou plaas. Die belangstelling wat die trekker by Val Boeredag geniet het, wys dat Suid-Afrikaanse boere voortdurend op soek is na toerusting wat nie net kragtig is nie, maar ook slimmer werk. Die Massey Ferguson 9S voldoen aan albei vereistes en is gereed om sy merk op plaaslike plase te maak.
Vir meer inligting besoek www.masseyferguson.com

