Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 23rd April 2025

Die rooi reus wys sy staal in Bloemfontein: Die CASE IH Steiger 715 Quadtrac

By 4 min read
780 words

IMG_2592reg

Bloemfontein het behoorlik gegons van opwinding toe CASE IH Suid-Afrika die magtigste trekker wat hulle nóg in die plaaslike mark bekendgestel het, amptelik onthul het: die Steiger 715 Quadtrac.

Hierdie glansgeleentheid het boere, landbouhandelaars en bedryfsleiers van regoor die land byeengebring om die begin van ’n nuwe era van krag, presisie en doeltreffendheid in grootskaalse boerdery te aanskou.

Die bekendstelling wat oor twee dae gestrek het, was nie net ’n tegniese vertoning nie, maar ook ’n viering van vooruitgang in landboumeganisasie vir Afrika.

Die Steiger 715 Quadtrac is nou die vlagskip van die bekende Steiger-reeks en spog met ’n verstommende krag van 533 kW met ’n piekvermoë van 580 kW, of dan tussen 715 en 778 perdekrag. In sy hart klop die 16-liter FPT Cursor 16-enjin wat tot 3 356 Nm wringkrag teen net 1 400 rpm lewer, en dit met indrukwekkende brandstofdoeltreffendheid en betroubaarheid.

Die krag van die enjin word oorgedra deur middel van ’n 16-spoed PowerDrive-ratkas wat vir gladde en ononderbroke werking onder swaar vragte sorg. Of dit nou diep bewerking, plant of saadbedvorming is, die Steiger 715 is gebou om die swaarste landbouwerk met gemak aan te pak.

Wat dié trekker onderskei, is sy Quadtrac-rusperbande. Anders as tradisionele wiele, bied die vier onafhanklik aangedrewe, ossillerende rusperbande deurlopende grondkontak en uitmuntende trekkrag. Dit beteken minimale grondversteuring en verdigting – belangrike faktore vir geenbewerkingsboerdery se verhoogde opbrengste.

Stephan Nel, besturende direkteur van CASE IH Suid-Afrika, sê dat die bekendstelling van die grootste trekker in die CASE IH-stal in Bloemfontein net weer bewys dat Suid-Afrikaanse boere op wêreldstandaard is, en dat hulle vir niemand hoef terug te staan nie.

Die bekendstellingsgeleentheid net buite Bloemfontein het ’n verskeidenheid belanghebbendes byeengebring, insluitend vooraanstaande boere, landbou-ondernemings, media en CASE IH-handelaars. Bertus Barkhuizen, produkspesialis vir die 715, het ’n omvattende oorsig van die trekker, demonstrasies en inligting oor die ingenieurswese agter dié indrukwekkende masjien, aangebied.

Charlene Badenhorst, eienaar van CASE IH-handelaars in Ladybrand en Bloemfontein, was die gasvrou wat die geleentheid met trots aangebied het. Sy het die trekker se potensiaal beklemtoon om plaaslike boere se doeltreffendheid en winsgewendheid ’n hupstoot te gee.

“Die Steiger 715 gaan nie net oor brute krag nie,” het sy gesê. “Dit gaan oor slimmer boerdery. Dit is ontwerp om boere se produktiwiteit te verhoog en terselfdertyd ons mees waardevolle hulpbron, die grond, te beskerm.”

Die Steiger 715 Quadtrac is nie net kragtig nie, maar ook propvol gevorderde tegnologie. Sy hoëvloei-hidrouliese stelsel lewer tot 427,7 liter per minuut, wat dit geskik maak vir groot werktuie soos planters en ander swaar grondbewerkingstoerusting.

Binne die kajuit geniet die operateur ’n ruim, lugverkoelde ruimte met gemaklike sitplekke en intuïtiewe beheer. Die  AFS Pro 1200-skerms dien as die brein van die masjien en integreer presisiebestuursfunksies, kaarte en werksprestasiemonitering op een raakskerm.

Boere, sakelui en lede van die media is by Case IH Bloemfontein op skouspelagtige wyse aan die nuwe CASE-reus voorgestel.

Met FieldOps-telematika kan boere en bestuurders hulle trekkers op afstand moniteer, diagnoseer en data oordra. Dit is ’n waardevolle hulpmiddel om staantyd te verminder en opbrengste te verhoog.

Die CASE IH Steiger 715 Quadtrac het reeds internasionaal opslae gemaak. Tydens die gesogte EIMA Internasionaal-ekspo in Bologna, Italië, is die trekker as “Trekker van die Jaar 2025” bekroon in die Hoëkragkategorie. Hierdie toekenning bevestig CASE IH se wêreldklas-ingenieurswese en toewyding aan werkverrigting in die hoëvermoësegment.

Vir Suid-Afrikaanse boere beteken dié toekenning dat hulle met vertroue kan belê in ’n produk wat reeds sy staal oorsee gewys het.

Ons plaaslike boerderyomgewings is dikwels uitdagend – van die uitgestrekte mielielande van die Vrystaat tot die afwisselende grond van die Oos-Kaap. Die Steiger 715 Quadtrac is ontwerp om onder enige omstandighede konsekwente prestasie te lewer.

Die trekker se raamwerk en komponente is gebou vir duursaamheid, wat langtermynkostes verminder en betroubare werking verseker. Met die ondersteuning van ’n gevestigde handelaarsnetwerk en CASE IH se uitstekende naverkoopdiens, is boere se beleggings in goeie hande.

Bertus Barkhuizen, produkspesialis vir CASE IH 715 Quadtrac, verduidelik dat hierdie trekker nie bloot ‘n verbetering op sy voorgangers is nie, maar dat dit ‘n totale nuwe ontwerp is wat die gevolg is van terugvoer wat die maatskappy vanuit die boerderybedryf ontvang het.

Met toenemende druk op boere om meer te produseer met minder hulpbronne, bied die Steiger 715 Quadtrac ’n alles-in-een oplossing. Sy kombinasie van krag, presisie en tegnologie stel boere in staat om groter oppervlaktes met minder moeite en groter doeltreffendheid te bewerk.

Die bekendstelling in Bloemfontein was dus meer as net ’n demonstrasie – dit was ’n teken van ’n nuwe rigting vir boerdery in Suid-Afrika. CASE IH bring nie net die grootste trekker na die land nie – hulle bring ’n oplossing wat werklik aangepas is vir die plaaslike boer.

Vir meer inligting, besoek gerus www.caseih.co.za of kontak jou naaste CASE IH-handelaar.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0