Die belang en aanvulling van Ureum en Fosfaat in die Winter

Cows in the Hunter Valley, NSW
Black lowline cattle (Bos primigenius) in a field with dramatic storm clouds and a lightning strike from above in the rural countryside landscape of the Hunter Valley wine region in NSW, Australia.
Alina Taute, Yara Animal Nutrition
’n Jaar word gekenmerk deur seisoene wat voortdurend verander. Dit is hierdie natuurlike veranderings in die weiding wat veroorsaak dat die voedingswaarde van die weiding van seisoen tot seisoen verander en dat weiding nie gedurende elke seisien in al ons diere se behoeftes kan voorsien nie. Dit is dus nodig om te weet watter voedingstof in watter seisoen tekort is en hoe ons dit kan aanvul.
Soos reeds genoem, veroorsaak seisoenale veranderings dat die kwaliteit en hoeveelheid van weidings in die laat somer, herfs en winter afneem. Massa/kondisie verliese van diere gedurende die winter is dus onvermydelik aangesien die hoeveelheid voedingstowwe wat deur die natuurlike weiding voorsien kan word, nie in die behoefte van diere kan voorsien nie. Deur die aanvulling van die regte voedingstowwe word die dier in staat gestel om beskikbare weiding optimaal te benut en word massa verliese tot die minimum beperk.
Proteïen die “eerste beperkende” voedingstof
Gedurende die laat somer en herfs begin die weiding se kwaliteit en spesifiek proteïen, afneem terwyl die veselinhoud daarvan toeneem. Proteïen is dus die eerste voedingstof wat diere se produksie gedurende die winter beperk.
Ureum as proteïen bron
Daar bestaan ‘n groot verskeidenheid roumateriale wat gebruik kan word om proteïene aan diere te verskaf. Die mees algemeenste is natuurlike proteïen bronne soos katoensaadolikoek, soja oliekoek en sonneblom oliekoek. Die ru-proteïen (RP) in hierdie natuurlike proteïenbronne kan verdeel word in twee dele, nl. die deel van die proteïen wat in die rumen afgebreek kan word (RDP) en die deel wat nie in die rumen afgebreek kan word nie (RNDP). Die RDP fraksie is die deel wat deur die mikrobes benut kan word om vir groei en reproduksie sodat hulle die gras wat die dier inneem kan verteer, terwyl die RNDP fraksie deur die rumen beweeg en die dunderm in sy oorspronklike vorm bereik. In die dunderm word die RNDP fraksie deur ensieme verteer en deur die dier benut vir verskillende produksiefunksies.
Aangesien ons natuurlike proteïen bronne baie duur is, is dit nie ekonomies om dit as die enigste RDP bron in winterlekke te gebruik nie en is dit nodig dat ons na alternatiewelike bronne kyk om diere van proteïene te voorsien. Een van hierdie bronne is Voergraad Ureum. Dit is egter belangrik om daarop te wys dat diere nie Ureum nodig het nie, maar vanweë die herkouer diere soos beeste, skape en bokke se unike vermoë om die stikstof afkomstig vanuit ureum om te skakel na hoë kwaliteit mikrobiese proteïene, kan ureum gebruik word as ‘n algehele of gedeeltelike vervanging van natuurlike proteïene in herkouer rantsoene.
Ureum bestaan uit 46 % stikstof (N), dit is 287 % ekwiwalente proteïen. Ureum word in die rumen afgebreek na ammoniak, die afbraakproduk wat dan deur die rumen mikrobe (veral veselverterende bakterieë) gebruik word om hul eie proteïen te vervaardig. Hierdie proteïen staan bekend as mikrobe proteïen en maak sowat 60 tot 80 % van die totale proteïen wat die dunderm bereik uit en is dus die vernaamste bron van proteïen vir herkouers op die veld. Deur dus die mikrobes in die rumen te stimuleer d.m.v. ‘n rumenstimulerende lek, word die mikrobe proteïen produksie ook sodoende verhoog.
Die belangrikheid van Swael in ureum-bevattende winterlekke
Sekere amminosure nl., metionien, sistien en sisteïen, bevat swael (S) en kan slegs deur die rumen mikrobes vervaardig word indien hulle S tot hulle beskikking het. Die verhouding van N : S in die dierlike liggaam is 10 : 1 en die ideale verhouding van NPN : S in lekke is dus ook 10 : 1. Wanneer lekke vermeng word, kan hierdie verhouding verkry word deur 2.5 kg Swael by ‘n lek te voeg vir elke 50 kg Ureum wat in die lek gebruik word.
Fosfaataanvulling gedurende die winter
Fosfaat is ‘n makromineraal en teenwoordig in alle liggaamsselle en is essensieël vir verskeie metaboliese prosesse in die liggaam soos die omskakeling van voer na energie en die opbou van liggaamsweefsels.
Hoewel fosfaat primêr ‘n natseisoen aanvulling is, moet dit nogtans gedurende die winter aangevul word aangesien Suid Afrikaanse gronde meestal fosfaat arm is en diere nog steeds ‘n basiese onderhoudsbehoefte vir fosfaat het. Dit moet egter beklemtoon word dat fosfaat nie die eerste beperkende voedingstof in die winter is nie, proteïen soos hierbo beskryf is. Proteïen moet dus eerste aangevul word en slegs daarna kan fosfaat in balans aangevul word.
Met al bogenoemde in aggenomme, kan die volgende ureum bevattende lekke op die plaas gemeng word.
Tabel 1 Winter onderhoudslekke wat ureum bevat
Roumateriale | Sonder oliekoek Vroeë droë seisoen | Met oliekoek Vroeë droë seisoen | Met oliekoek Laat droë seisoen |
Mieliemeel | 250 | 250 | 300 |
Oliekoek | – | 150 | 300 |
Voergraad Ureum | 150 | 100 | 100 |
Kimtrafos 12 Grande | 150 | 100 | 75 |
Kalori 3000 | 50 | 50 | 25 |
Voergraad Swael | 7 | 5 | 5 |
Sout | 350 | 350 | 300 |
Totaal | 957 | 1005 | 1105 |
Inname (g/bees/dag) | 350 – 500 | 350 – 500 | 500 – 600 |
Inname (g/skaap/dag) | – | 80 – 120 | 150 – 170 |
Opsomming
Hoewel diere nie Ureum nodig het nie, kan dit as ‘n ekonomiese alternatief gebruik word om proteïene in die winter aan te vul. Na die aanvulling van proteïene kan fosfaat nog steeds aangevul word vir optimale produksie in die volgende Lente en Somer.