Daar’s ’n hoender wat ’n eier nie kan lê … maar nie in Megan Roux se hoenderhok nie!

DSC_0816
Sy was ’n ware stadsjapie. Toe ontmoet sy die man van haar drome, trou en trek plaas toe. Nou, ses jaar en drie kinders later, is sy ’n trotse boervrou met haar eie onderneming!
Megan Roux en haar man, Tiaan, van die plaas, Rouxland, boer met beeste, mielies, sojabone en suikerboontjies buite Ogies in Mpumalanga. Plaas Rouxland maak gebruik van Kynoch se kunsmis om die beste gewasse aan die mark te kan lewer.
Dit is boerderye soos Rouxland Grains en vrouens soos Megan met wie Kynoch in vennootskap tree. Hulle glo dat vroue bemagtig moet word. Daarom maak hulle hul kunsmis so goed en beskikbaar as moontlik vir vroue in landbou. Op dié manier kan vroue soos Megan haar drome najaag sonder om bekommerd te wees oor die gesondheid en vrugbaarheid van haar grond.
Met ’n kloek-kloek hier en ’n kloek-kloek daar…
MegRouxst is die naam van Megan se eiermaatskappy.
Tiaan het so twee jaar gelede besluit dat hulle ’n paar hoenders moet aanskaf vir eiers vir die huis. “Hy het vir ons twinting hoenders gekoop, maar nooit besef twintig hoenders lê twintig eiers per dag nie!” lag Megan.
Só het Megan begin om eiers aan die plaaswerkers en die gemeenskap te verkoop en vinnig baie lief geraak vir die geveerde vriende. Bietjie vir bietjie het sy haar geld gespaar om meer hoenders by te koop en vandag staan sy al op 250 van hulle! “My hoenders gee vir my omtrent so agt plate eiers per dag, wat ek in die omgewing verkoop.”
Dit eindig egter glad nie hier nie. Megan vertel dat sy beslis van plan is om haar saak nog verder uit te brei. “Daar is ’n groot aanvraag vir vrylopendehoendereiers. Ek verkoop die meeste van my eiers in Secunda aan die plaaswerkers en ek het ook groot bestellings van Boksburg af.”

Van Megan Roux se mooiste spoghoenders
Alles in boerdery begin egter by die grond. Gesonde grond lei tot gesonde gewasse en, in hierdie geval, gesonde hoenders. Kynoch verseker dat die boervrou se grond gevul is met die nodige voedingstowwe om uiteindelik die beste produk te kan lewer.
Megan se vrylopende hoendertjies is maar net een voorbeeld van die omgewingsbewuste boertegnieke waarna Kynoch streef. Hulle glo dat boer ten alle tye op ’n volhoubare wyse gedoen moet word. Kynoch se strewe na gesonde boerdery is gebou op vier pilare: regte bron, regte tyd, regte plek en regte hoeveelheid.
Hierdie hoendertjies is al byna deel van die gesin. Megan vertel dat selfs die kinders in die hok kom en hulle optel. “As mens in die hok gaan, buk hulle af dat mens hulle moet vryf, net soos troeteldiere.”
Buiten haar rol as sakevrou op die plaas, het Megan besef dat sy ander rolle vervul wat net so belangrik is. “Ek het besef ’n vrou se rol op die plaas is baie belangrik. Sy moet haar man kan ondersteun. As jou man ’n uitdagende dag gehad het, moet jy daar kan wees vir hom.”
Die plaas is nie vir sissies nie
Omdat Megan van die stad af kom, was die plaaslewe aanvanklik vir haar vreemd. Sy staan egter nie terug vir ’n uitdaging nie en sien dit eerder as ’n geleentheid om te groei. “Die uitdagings van boervrou wees is vir my dalk nog meer as vir die wat grootgeword het op ’n plaas. Vir my is dit snaaks as my man vir ’n maand lank nege-uur die aand by die huis aankom, maar al is daar uitdagings is dit nog steeds lekker.”
Wat dit vir Megan die moeite werd maak, is om te sien hoe haar kinders in vryheid kan baljaar. “Hulle kan buite speel en ek weet hulle is veilig. My kinders kan tussen hoenders speel, hulle kan na beeste gaan kyk, trekkers ry. Dit is goed wat dit vir mý die moeite werd maak.”
Natuurlik het die plaas ook vir Megan die geleentheid gegee om haar eie saak te begin! “Ek is baie dankbaar vir Rouxland. As ek nie plaas toe gekom het nie, sou ek nooit besef het hoe lief ek is vir hoenders nie! Nou kan ek vir myself geld verdien. Ek hoef nie te gaan werk nie. Ek kan by my kinders wees terwyl ek op my eie boer.”

Megan Roux en waghond, Jessie, pas hierdie hoenders mooí op.
Vroue vat hande
“In hierdie gemeenskap is ons ’n hele groep jong boervroue wat saam kan werk. Ons ry almal elke dag vir ’n halfuur skool toe en dan weer terug ’n halfuur. Later die dag moet ons ons kinders gaan haal en weer dieselfde pad ry. Ons is baie geseënd om mekaar te hê, ons is ’n sterk groep vrouens wat mekaar ondersteun. As die een nie die kind kan oplaai nie, dan laai ons hulle op. Ons is daar vir mekaar. Dit is by mekaar waar ons kan praat oor vrouwees.”
Megan is gelukkig om te vertel dat sy omring is met ondersteuning op die plaas. “As mens boer het mens ’n vennootskap nodig, en mense wat jou kan raad en leiding gee.” Sy noem dat dit só tipe verhouding is wat hulle ook met Kynoch het. “Kynoch help ons om die boerdery vorentoe te vat.”
Ook met haar eierboerdery kan Megan getuig hoe die plaaslike vroue mekaar ondersteun. Hulle is drie vroue in die omgewing wat eiers verkoop, maar hulle help mekaar eerder as om mededingers te wees. “As ek tien plate vir iemand moet gee en ek het net agt, kan ek hulle bel en hulle sal my met liefde help.”
Wat dink Megan maak iemand ’n suksesvolle vrou? “Elke vrou is uniek. Sy het ’n eienskap aan haar wat ’n sterkpunt is, wat iemand anders dalk nie het nie. So kan ons mekaar opbou. Vroue is suksesvol as hulle saamstaan. Jy kan nie suksesvol wees as jy ander afbreek nie. Rondom ons is soveel inspirerende vroue, en ek kyk op na elkeen van hulle.”
Kynoch vier suksesvolle vroue in landbou! Hulle glo dat vrouens in landbou se stories, nes Megan, beide inspirerend en ’n bewys van die veerkragtigheid en vasberadenheid van vroue in die landbou is. Kynoch streef daarna om vroue wat ook in leierskapposisies is te kan ondersteun. Dit is waarom hulle boeredae en plaasbesoeke as deel van hulle veldtog het. Só kan hulle oplossings en idees bied wat pas by die behoeftes van elke individu.
- Megan Roux het nie net honde en katte as troeteldiere nie, maar hoenders ook!
- Vrylopende hoenders is gesonder en lewer lekkerder eiers. Dubbeldore is nie vreemd vir die eiers wat Megan verkoop nie.

